Foto’s: Inwoners wil Bloemfonteinse dieretuin sluit

Bloemfonteinse Dieretuin se ingang (Foto: Verskaf)

’n Herrie is die afgelope week op sosiale media ontketen toe ’n petisie begin is om die Bloemfonteinse dieretuin se deure te sluit.

Bernie Naude en Nicole Viljoen, omroepers van die gemeenskapsradiostasie Radio Rosestad, het kragte saam met die radiostasie ingespan om met dié petisie tussen 50 000 en 80 000 handtekeninge van inwoners te werf om die dieretuin te sluit. Teen Donderdagoggend was daar reeds 9 000 handtekeninge binne 36 uur gekry.

Volgens Viljoen beoog hulle om die getekende petisie aan adv. Tankiso Mea, die stadsbestuurder van die Mangaung-metro in Bloemfontein, te oorhandig. “Ons laat dit dan in die munisipaliteit se hande om die dieretuin vir eens en vir altyd toe te maak. Ons sal so ver gaan om selfs die hof te nader,” sê Viljoen.

Naude en Viljoen het die veldtog begin omdat hulle meen die dieretuin is die afgelope jare verwaarloos en dat dit agteruitgaan. Viljoen sê die meeste van die hokke in die dieretuin staan leeg en daar is min kos en water vir die diere beskikbaar.

Die apies se hok in die Bloemfonteinse Dieretuin (Foto: Verskaf)

“Met my onlangse besoek aan die dieretuin het dit gevoel asof ek deur ’n dierekonsentrasiekamp loop,” vertel Viljoen.

Viljoen sê met die intrapslag is die vullis en onkruid op die terrein dadelik ’n seeroog vir besoekers. “Die klein dammetjies waarin die ganse en swane altyd geswem het, is ’n vuil, groen, dierelose poel water.”

Volgens Viljoen is die diere se waterbakke vuil en waar die apies altyd geswaai en baljaar het, sit hulle nou mismoedig in die hoeke van hul hokke. “Ek word sommer weer kwaad. Op daardie oomblik het ek baie skuldig gevoel dat ek na die diertjies kyk wat vasgevang sit in ʼn vuil hok,” sê Viljoen.

Volgens Viljoen het die Dierebeskermingsvereniging (DBV) die afgelope naweek die dieretuin inspekteer en bevind dat die meeste hokke skoon is en die diere genoeg kos en water het. Hulle het egter glo bevind dat drie van die hokke in ’n slegte, vuil toestand is, en ’n waarskuwing uitgereik dat dit skoongemaak moet word.

Volgens Viljoen het die munisipaliteit en die dieretuin na afloop van die herrie wat oor die petisie losgebars het, gesê hulle sal die dieretuin probeer rehabiliteer. “Dit sal nie volhoubaar wees om die dieretuin te probeer rehabiliteer nie. Die munisipaliteit het nie geld om die dieretuin te onderhou nie. Inwoners van Bloemfontein sukkel klaar met basiese dienste soos water en vullisverwydering,” meen Viljoen.

Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung‑metro het onderneem om op vrae te antwoord, maar het nog nie op enige navrae gereageer nie.

Tog voel Ina Schoeman en haar man, Damair, hulle kan die dieretuin nog red.

Die Schoeman-egpaar het as inwoners van Bloemfontein beswaar gemaak teen die idee dat die dieretuin gesluit moet word. Schoeman erken die dieretuin is baie vervalle en ’n seeroog vir die publiek, maar sê dit kan steeds gered word.

Hulle het ’n WhatsApp-groep gestig en lede van die publiek betrek. Hulle het Dinsdagaand die eerste vergadering by die dieretuin gehou om ’n plan van aksie van stapel te stuur.

Schoeman meen die grootste rede vir die agteruitgang van die dieretuin is die munisipaliteit wat nie oor die nodige fondse beskik om die dieretuin te rehabiliteer nie. Sy glo indien hulle weer die Vriende van die Dieretuin-organisasie met ’n nuwe komitee op die been kan bring, hulle weer beheer kan neem van die dieretuin.

“As ons die Vriende van die Dieretuin weer kan laat herleef, kan ons begin om die dieretuin weer op te bou. Ons beoog om talle fondsinsamelingsinisiatiewe van stapel te stuur. Ons wil dan die hokke herstel en die snoepwinkeltjie weer oopmaak,” vertel Schoeman.

Volgens Schoeman is daar reeds planne in die pyplyn om nog diere na die dieretuin toe te skuif sodra die hokke reggemaak is. Sy sê ook die diere kan nie in hierdie weersomstandighede geskuif word nie.

Schoeman vertel die dieretuin is nou in ’n beter toestand as sowat ’n jaar gelede. “Die grasperke is netjies gesny en die diere het kos en water. Die personeel by die dieretuin het reeds ingespring om die vullis te verwyder.”

Schoeman voel die publiek moet betrokke raak. “Die dieretuin is ’n aanwins vir die stad en ’n groot aantrekkingskrag. Dit is ’n kosbare erfenisterrein.”

Daan Bodensteyn, erelid van die Vrystaat jagtersvereniging, sê die vereniging help naweke om die dieretuin skoon te maak. Volgens Daan beoog hulle ook om diere aan die dieretuin te skenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Diereliefhebber ·

Maak die plek klaar toe. Daai arme diere hoort nie in hokkies nie. En die wat vir hulle sorg weet nie hoe om dit te doen nie.

Charl ·

Wie van die dbv het ondersoek gaan instel, want duidelik is daai persoon blind.Seker n kader wat gaan inloer het, want dit is mos hoe dit by hulle huise ook lyk en dink dit is reg, Net n bewys die klomp gemors voel niks vir die natuur

Danielle ·

Julle besef ons bly in Suid-Afrika neh?
So as daai dieretuin toegemaak word gaan hulle een en elke dier laat uitsit want Suid-Afrika se regering gaan nie die diere na beter plekke toe stuur nie.

Miss Julia ·

Danielle ek stem saam jou hoekom samel hul nie geld in vir die plek nie en die wat so baie te se het gee hand om te help waar daar hulp nodig die wat kennis het on so plek te run ge raad en moet nie beskuldigings rond gooi nie

Bizza ·

Eish, nog iets wat opgeneuk is. Wat werk nog in hierrie land.

Ander dieretuine ·

Ander dieretuine word net so swak onderhou. Die Pretoria dieretuin moet ondersoek word!

Biance Riekert ·

Is daar nie een koshuis of studente gemeenskap of skool of landsdiensgroep wat kan help nie? Finansies is daar nie, maar waar is die Bloemfonteiners se sin vir bewaring? Mens sien gereeld in die media waar studente kleuterskole se mure gaan verf of groentetuine by skole plant. Hoekom nie uitreik na die dieretuin nie? Ek stem saam dis die munisipaliteit se werk….maar regtig? As hulle useless is, spring dan self in. Dis mos julle stad.

Hb ·

Eks ni “bunnyhugger” ni maar di kere wat ek in n dieretuin was was ek omgekrap daarna. Ek kry di diere altyd so jammer. Maak toe ja, sommer n paar ander ook

A Mac ·

En terwyl ons nou deur die eens netjiese Bloemfonteinse Dieretuin stap, hoe lyk die dieretuine in ander stede? Ons het nou die dag na Pretoria Dieretuin gegaan maar nie eers ‘n uur vertoef. Van die hokke was vuil, die terrein was besaai met papiere, en die besoekers wat in busvragte aangery is het meer daarin belang gestel om op die gras te sit, lê en staan/dans met gejil en gegil dat dit waarvoor die plek eintlik daar is – die besigtiging van diere en om meer daaroor te leer – heeltemal by hul verby is. Hoekom moet alles eers ten gronde gaan dan wil almal kom help? En as julle klaar gehelp het, wat dan? Jy moet belasting betaal, ingang betaal en dan nog jou tyd en geld opoffer om te probeer red wat te redde is? Ag nee, sluit en kry klaar.

Ferdie ·

Die omgewing daar is vrot van die misdaad. Die plek kani veilig besoek word sonder om geroof te word nie.

Johan du Toit ·

@Biance, kom bly in Bloemfontein dan praat ons weer. Reeds moet ons ons eie vuilgied verwyder anders lê dit op die sypaadjies en vrot, nie te oraat van die water infrastruktuur wat ook op die koffie is nie. Die stad van rose het nie eers meer een roos op die sypaadjies soos vroeër nie, dus is daar defnetief nie enige manier dat die munisipaliteit na die diere sal omsien nie, en die inwoners het genoeg al reeds wat hulle moet doen wat reeds nie meer deur die munisipaliteit gedoen word nie.

HPV ·

Bloemfontein is deur die ANC, in teenwoordigheid van die DA, tot in bankrotskap bestuur. Van ‘n eens pragtige stad tot ‘n morsige, vuil sterwende stad. Mens hoef en wil nie so lewe, ‘n groot deel van die stad is al twee dae sonder water. Nou word die dieretuin deel van hul “suksesse”. Viva AND en DA!

Chris ·

HPV nou wie verteeneoordig jou? Waar is jou politieke party? Wat het jy en jou party gedoen om dit beter te maak? Weet jy hoe politiek werk? As die DA oposisie is, is hulle net oposisie en het geen sê nie. Die regerende party doen soos hulle wil die ander kan net mooi niks daaraan doen nie.

Dottie ·

Asseblief moenie nog diere skenk nie. Daan, jy moet bietjie dink man. Die diere wat daar is word reeds verwaarloos. Betrek eerder organisasies soos Cheetah experience buite Bloemfontein om die diere oor te neem en te versorg.

Boervrou ·

As ek nie so ver gebly het nie,sal ek elke dag daar gehelp het.Goed reg gemaak het,damme skoon gemaak het,hokke gebou het ens.

Charles ·

Maak toe asseblief. Dankie – van ‘n Bloemfonteiner.
Ek het respek vir die ouens wat nog iets probeer red- maar my beskeie opinie is dat die dieretuin se verwaarloosde toestand verby omdraai punt is en dat die koel reeds deur die kerk is.

Stiks ·

So lyk n plek as transformasie met hom klaar is mnr Ramaposa

Foxi ·

AFRIFORUM MOET INGRYP! Suid Afrika het n moeras van verskrikking geword……..
Wreed teen diere, wreed teen die mensdom, gaan dit NOOIT ophou nie!

Leon ·

Hoekom begin hulle nie eerder ‘n petisie om geld in the samel om die plek op te knap en te bestuur nie. Dis net MAAK TOE, MAAK TOE.
Ek het as kind baie na die dieretuin toe gegaan. Ek het daar by die Bloemfonteinse dieretuin van diere geleer. In plaas van dat kinders meer van diere leer, moet hy toegemaak word sodat kinders leer skiet dood en roei uit want ons weet niks van wilde diere nie. Kweek dan maar meer jagters dat ons meer Dodos kan kry.

barend v d westhuizen ·

dit is tyd dat ons die die regering verandvoording hou om sy werk te doen en die mense wat aan die hoof staan laat aan kla as hulle nie hulle werk doen nie en as daar te min geld is om werkers te kan betaal kry daar die klom sleg mense wat n die tronke sit en lekker lewe waar voor ons moet betaal dat hulle die werk kom doen skoon maak en tronke is vol laat meer mense gemeendskap werk gevonis word en hulle kan die diere tuin skoon maak

Chris ·

HPV nou wie verteenwoordig jou? Waar is jou politieke party? Wat het jy en jou party gedoen om dit beter te maak? Weet jy hoe politiek werk? As die DA opposisie is, is hulle net opposisie en het geen sê nie. Die regerende party doen soos hulle wil die ander kan net mooi niks daaraan doen nie.

Jaco ·

Wat van Johannesburg dieretuin? Laas toe ek daar was het dit ook nie goed gelyk nie.

Stella ·

Leon, ek stem 100% met jou saam. Ek was so ontsteld oor Radio Rosestad se sture aanmoediging tot `n petisie om die dieretuin toe te maak, hulle het die mense oor die radio so opgesteek en gisteraand terwyl ek huis toe ry, moedig hulle die mense aan om grafies te vat en `n spanpoging aan te wend om die dieretuin oop te hou, regtig maak julle minds oop genade ons. In Bfn is daar nie veel om te doen nie en die dieretuin is `n lekker ontspannende atmosfeer waar jy as familie en vriende lekker rustig kan kuier, die kinders kan hardloop en speel en grootmense kan heerlik op `n kombers lê en na die lug en wolke kyk en ontspan – maak eerder `n spanpoging om op te bou as om alles toe te maak gaan jul die parlement ook nou wil toemaak oor die boendoe nonsens wat daar aangaan, wat van die howe, kom ons maak hulle ook toe, hulle is mos in elk geval in almal se oogpunt useless verby ag nee mense regtig staan eerder saam soos baie jare terug en bou iets vir ons nageslag wat wil julle met daai arme diere maak, in plekke gaan sit waar hulle sommer maklike teikens is vir lui jagters. dink verder mense dis nie so moeilik nie. almal wil altyd net die maklike uitweg vat met geen moeite nie

E.K. die eerste ·

Die wat gekant is teen die toemaak – wat doen JULLE nou eintlik? Het jul enige idee wat dit gaan kos en sal bly kos om die plek oop te hou? As julle dan nie dit wil laat toemaak sorg julle dan vir die inkomste om dit oop te hou want julle weet goed die staat kan/wil/gaan nie en die belastingbetalers – dis nou ek en jy – is al droog gemelk aan help oral, mens kan net nie meer al wil jy! Waar dink julle gaan die geld vandaan kom om die plek te onderhou. Dis ongelukkig ‘n feit, selfs al sal daar nou ‘n spanpoging en ingryping wees sal dit nie lank wees dan is dinge terug hoe dit nou is.

E.K. die eerste ·

Persoonlik HAAT ek dieretuine en veral ook sirkusse. As die diere nou uitgesit moet word, ek weet dit klink wreed- dan is dit dalk beter as wat hul in elk geval in verval, honger en verwaarlosing stadig sterf. Sometimes you have to be cruel to be kind. Maak toe!

Vee ·

Dis wreed om diere in hokke en beperkte areas aan te hou! Maak toe!! Daar is rehabiltasie plase in SA waar die dieretjies weer geleer word om aan te pas in die natuur, laat ons as publiek help om hul soontoe te verskuif!

Marianne ·

Ek was in die 1974/75 nog as ‘n 11/12 jarige by bloemfontein dieretuin. Ek kan onthou die hase se hok het str name gehad en elke huisie ‘n nr. Net jammer die bloemfonteinse dieretuin gaan nou so agteruit. Fotos op berig is baie skokkend.

Carel ·

Is dit nie net absoluut tekenend van die res van die “NUWE” Suid Afrika nie?? Dit is n oortreding teenoor die skepping van GOD.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.