Foto’s: Jhb-gorilla kan weer ruik ná operasie

ʼn Span spesialiste het kragte saamgesnoer om dié reusetaak aan te pak (Foto: Faculty of Veterinary Science, Onderstepoort via Facebook)

Makokou, die 34-jarige gorilla van die Johannesburgse dieretuin, kan weer ruik ná sy endoskopiese neus- en sinusoperasie by die Johannesburgse dieretuinhospitaal suksesvol voltooi is. Dié westelike laaglandgorilla wat 210 kg weeg, het die operasie ondergaan om die inflammatoriese neuspoliepe te verwyder wat sy neusgate verstop en glo sy chroniese neuslopery veroorsaak het.

Dié soort operasie was die tweede van sy soort wat nٌóg op ʼn gorilla gedoen is. Die eerste geval is in 2014 aangeteken toe ʼn gorillamannetjie, wat net so oud was soos Makokou, ʼn soortgelyke operasie in die Woodland Park-dieretuin in Seattle in Amerika ondergaan het.

Luidens ʼn verklaring op die Facebookblad van die Universiteit van Pretoria se Fakulteit vir Veeartsenykunde op Onderstepoort, het ʼn span spesialiste kragte saamgesnoer met die Johannesburgse dieretuin se veeartsenyspan en mediese spesialiste om dié reusetaak aan te pak.

Makokou is Saterdag net ná 09:00 verdoof en toe ʼn paar honderd meter na die dieretuin se hospitaal vir die operasie vervoer. Tydens die prosedure het die span gebruik gemaak van die jongste mediese tegnologie om hul weg deur die nasale en sinusgange te vind om die neuspoliepe te verwyder.

Die operasie het ongeveer drie uur geduur. Makokou is ná die operasie na ʼn vertrek geneem om vir die aand gemonitor te word.

Volgens die verklaring het die poliepe wat die voorste sinusse blokkeer en Makokou se chroniese sinusitis veroorsaak het, behoorlik dreineer. Besmette materiaal moes van sy sinusse verwyder en gespoel word. Geen biopsies wat tydens die operasie geëvalueer is, het enigsins ʼn teken van kankerweefsel getoon nie.

Die span het gebruik gemaak van die jongste mediese tegnologie om hul weg deur die nasale en sinusgange te vind (Foto: Faculty of Veterinary Science, Onderstepoort via Facebook)

Die rede vir die poliepe is nog nie bekend nie.

“Medici vermoed dat soortgelyke inflammatoriese poliepe by mense veroorsaak word deur chroniese allergieë of swaminfeksies. Sommige aanvanklike bloedtoetse dui daarop dat dit onwaarskynlik is dat Makokou aan allergieë kon ly. Die sekondêre bakteriële infeksies in sy neus en sinusse het dit moeilik gemaak om vas te stel of enige swamorganismes betrokke is,” lui die verklaring.

Die Johannesburgse dieretuin het Sondag bevestig dat Makokou goed lyk ná die operasie. Hy het glo deur die dag meer geëet, gedrink en rondbeweeg. Sy neus het minimaal gebloei en die span was oor die algemeen baie tevrede met sy vordering.

Makokou vier op 9 Julie sy 35ste verjaarsdag. “Nou kan hy sy verjaarsdag vier met ʼn beter reuk- en smaaksintuig,” lui die verklaring van Onderstepoort.

Maroela Media het vroeër berig Makokou het aan die begin van die maand ʼn mediese ondersoek en ʼn CT-skandering by die Onderstepoort-veeartsenykliniek in Pretoria ondergaan om te bepaal waarom hy nie op behandeling vir sy chroniese neuslopery reageer nie.

Personeel by die dieretuin het in Mei hul kommer uitgespreek oor sy gesondheid en daar is bepaal dat hy ʼn CT-skandering moet ondergaan ná omvattende toetse bepaal het die gorilla het neuspoliepe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Megan Swart ·

Dagsê Michellie
Dankie vir jou kommentaar. Jy is inderdaad reg, dit moet 210 kg wees. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Plaaskind ·

Lekker om vir ‘n slag ‘n positiewe berig tussen die virus en geweld te lees. Gou gesond word ou grote.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.