Foto’s: Jhb-nooddienste gereed vir oorstromings

RainbowFM het dié foto Donderdag op sosiale media gedeel van oorstromings buite hul kantoor in Florida in Johannesburg (22 Maart 2018). Foto: Twitter

Die Stad Johannesburg se noodbestuursdienste het gesê hulle is op hoë gereedheidgrondslag nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) ʼn waarskuwing uitgereik het vir swaar reënval in die provinsie wat plek-plek tot vloede kan lei.

Reën het byna heeldag oor die grootste deel van die provinsie geval en sal na verwagting deur die loop van die aand en môre nog voorkom.

“Die Stad Johannesburg se noodbestuursdienste bly op hoë gereedheidsgrondslag om te verseker ons kan doeltreffend reageer op enige noodgeval wat in die stad kan voorkom,” het Robert Mulaudzi, woordvoerder van die nooddienste, gesê.

Die swaar reënval is vir vyf provinsies voorspel en die SAWD het gewaarsku dat kitsvloede in enige van dié provinsies kan voorkom.

Mulaudzi het gesê moniteringspanne is na sewe gebiede rondom Johannesburg ontplooi om enige gebeurlikhede te monitor en ook te fasiliteer indien dit nodig raak om mense te ontruim.

Paaie in Vanderbijlpark oorstroom ná swaar reënval ook in die gebied (22 Maart 2018). Foto: Mario Barnard via ReenvalSA (Twitter)

“Ons doen ʼn beroep op inwoners in laagliggende gebiede om die watervlakke te monitor en na hoër grond te beweeg indien nodig,” het hy gesê.

Volgens die SAWD kan meer as 50 mm reën in sommige gebiede verwag word. Swaar reënval word verwag in die oostelike gedeeltes van die Vrystaat, in Noordwes, Gauteng, die Hoëveld van Mpumalanga en sekere gedeeltes van KwaZulu-Natal.

Dié reënval kan tot Vrydag voortduur in Gauteng, die westelike gedeeltes van Mpumalanga, oostelike gedeeltes van Noordwes sowel as oostelike gedeeltes van die Vrystaat.

Intussen is verskeie foto’s Donderdag op sosiale media gedeel van plekke in Gauteng wat reeds oorspoel het, asook swaar reënval op ander plekke in die land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johanna Botha ·

Baie van die probleme word veroorsaak deur plastiek en gemors wat alles verstop …word nie opgetel nie

Muffin ·

Johanna jy is reg. Dit is orals so. Jy moet ons dorp sien. Stormwater dreine is verstop en water loop in die strate af. Geen bestuur vanaf Munisipaliteit.

Saartjie ·

Hier by ons in Vanderbijlpark dieselfde storie….. Stormwater drains ook verstop

Lekker reën ·

O lala, reën te lekker hier by ons aan die Noord kus van KZN. Swaar reën van tyd tot tyd. Weet nie of daar al enige skade erens is nie.

Elsa ·

Die reen is nie die oorsaak van oorstromings nie, dis swak instandhouding van toegegroeide aflooppyle, verstoppings wat nooit aandag geniet nie, werk nie gedoen om te sorg dat water vloei na waar dit behoort te vloei nie, geen beplanning, ons is dankbaar vir die reen…aandag op ander plekke, en nie op veiligehid van mense nie, hoe versigtig moet ons nog wees as daar nie aandag aan gegee word nie? stadsraade, munisipaliteite, doen jul werk waarvoor jul aangestel is, en minder oorstromings sal plaasvind, hou op
blaam” op ander plaas, gaan stel on dersoek in en ook al die kragbokse wat so oopstaan….wat word daaraan gedoen? Dankie Heer vir die reen…

Pretoria Man ·

Stem 100% saam. Die Mislikepaliteite doen nie instandhouding soos veronderstel is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.