Foto’s: Joernaliste glo deur metrobeamptes gedreig om nie arrestasie af te neem nie

Foto's met vergunning van CORNÉL VAN HEERDEN/Beeld

Foto’s met vergunning van CORNÉL VAN HEERDEN/Beeld

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het die beweerde hardhandige hantering van ʼn kameraman en fotograaf deur metropolisiebeamptes ten sterkste veroordeel.

Volgens Sanef is Pierre le Roux, ʼn kameraman van eNuus, en Cornel van Heerden, ʼn fotograaf vir Beeld, Dinsdag in die Johannesburgse middestad hardhandig deur metropolisiebeamptes gehanteer toe hulle die inhegtenisneming van ʼn beweerde dronkbestuurder wou afneem. Die voorval het buite die hooggeregshof in Johannesburg plaasgevind.

“Twee beamptes van die Johannesburgse metropolisie het aggressief begin raak en aan die joernaliste gesê hulle het geen reg om daar te wees nie en dat hulle moet ophou beeldmateriaal en foto’s neem. ʼn Struweling het uitgebreek en een van die beamptes het Le Roux se kamera gegryp,” het Adriaan Basson, bestuurslid van Sanef, gesê.

“Hul toerusting is tydens die struweling beskadig. Die beampte het gedreig om Le Roux in hegtenis te neem en hom saam met die beweerde dronkbestuurder in die metropolisiemotor aan te hou. Van Heerden is ook bygedam, maar kon daarin slaag om weg te kom.”

Volgens Basson het ʼn metrobeampte in gewone klere op die toneel aangekom waarna die joernaliste laat gaan is. “Die gedrag is heeltemal onaanvaarbaar en ’n skending van die grondwetlike regte van joernaliste om hul werk in ’n vrye en oop samelewing te kan doen.”

Wayne Minnaar, woordvoerder van die metropolisie, het gesê die joernaliste sal verklarings moet aflê om te sê waar en wanneer dit gebeur het sodat kringtelevisiebeeldmateriaal nagegaan kan word.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Asjas ·

Wayne, die voorval het buite die hooggeregshof in die Johannesburgse middestad plaasgevind. Sien fotos en berig vir meer inligting.

CHRISTA ·

Jy moet mos altyd ‘n prentjie teken EN inkleur voordat dit ernstig opgeneem word (foto’s beteken niks vir hulle nie)!!!

anet ·

Wayne Minnaar is “past due date”. Ek dink sy metropolisie beamptes behoort geskors te word vir hulle optrede.

Pierre Celliers ·

Wayne Minnaar maak seker hy beskuldig nie sy “beamptes” van enigiets nie.
Hy besef te goed sy lewe hang daarvan af hoe hy hierdie saak hanteer

Anita ·

Ek stem saam, as hy nie VIR hulle praat nie, rol sy kop.

Menigte berigte met sy kommentaar spreek boekdele.

Dave ·

Beeld is immers ‘n ANC-gesinde koerant so waarom hulle geboikot word is ‘n vraag. Ek hoop Maroela gaan ons vir ons terugvoering gee want hierdie tipe insidente gebeur meer kere en ons weet dat dit opgevolg word maar weet geoonlik nie wat die uitkoms van die ondersoek is nie.

Terloops die eenvoudige holruggeryde Engelse rympie wat bo deur ‘n ‘Dave’ geplaas is, is nie deur my gedoen nie. My woordeskat skiet nie tekort nie.

Mira ·

Ek sou dink die fotos is bewys genoeg! Hoeveel bewyse wil Wayne dan nou he? Of word die “kringtelevisie beeldmateriaal” nou Maar weereens as skuiwergat voorgehou?

Theresa ·

Belaglik. Al is al die bewyse daar, sal hulle die onskuldige partye wees want hulle mag mos doen wat hulle wil……………… Dit maak my siek!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.