Foto’s: Jong held finaal gegroet

Francois en Carina kyk na ‘n terugblik op Gareth se kort lewe. Foto: Mart-Marie Page

Gareth Roberts (23), die jong man van Rustenburg in Noordwes wat Sondag as ʼn held gesterf het toe hy mense, wat deur kapers oorval is, te hulp gesnel het, is ter ruste gelê.

Die diens is deur ds. Dawie de Koker vanuit die Agapé Gemeente gelei. Sy boodskap was dat daar verby die omstandighede, wat Gareth se dood veroorsaak het, gekyk moet word en die wete moet vier dat hy sy lewe reggemaak het met God. Hy het gesê Gareth het in ‘n heldedaad met ewigheidsvrede gesterf.

Mpho Khunou, Rustenburg se uitvoerende burgemeester, het ook die begrafnis bygewoon en het tydens die geleentheid gesê Gareth se dood mag nooit verniet wees nie. Hy het bygevoeg Rustenburg moet dit as ‘n omdraaipunt sien en saamstaan teen misdaad en geweld in die dorp.

Die gesin wat deur Gareth gehelp is toe hy gesterf het, het ook die diens en begrafnis bygewoon. Gareth is in die Helde-akker in die Donkerhoek-begraafplaas ter ruste gelê.

Maroela Media het vroeër berig Gareth was saam met sy ma Carina Roberts (42) en haar verloofde, Francois du Plessis (53), op pad kerk toe, toe hulle by die BP-vulstasie naby Waterfall Mall stilgehou het om geld te trek.

Die pa en seun wat tydens die kapingspoging deur Gareth bygestaan is. Foto: Foto: Mart-Marie Page

“Terwyl ons daar was, het ons ʼn klomp skote gehoor en gesien mense hardloop weg van die winkelsentrum af,” het Roberts verduidelik. “Ons sien toe naby die vulstasie hoe drie mans hardloop terwyl veilligheidswagte hulle volg. Die verdagtes het op ʼn NP200 Nissan-bakkie afgepyl wat by die verkeerslig stilgestaan het. ʼn Vrou en man met ʼn kind was in die bakkie.”

Roberts het gesê die verdagtes het ʼn vuurwapen op die bakkie se insittendes gerig en hulle uit die bakkie geboender om dit te kaap. “My seun is daar weg en het gesê hy gaan help. Toe hy by die bakkie kom, het hy met die man, wat sy vuurwapen op die bestuurder van die bakkie gerig het, gestoei en probeer verhoed dat die verdagte in die bakkie klim.”

Sy het gesê sy het drie skote hoor afgaan en met die derde skoot het Gareth inmekaargesak. Volgens die polisie is Gareth twee keer in sy bolyf gewond.

Die verdagtes het in die bakkie gespring en van die toneel weggejaag. Roberts het na haar enigste seun gehardloop om hom te help. Hulle het self met Gareth na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas waar dokters nagenoeg twee en ʼn half ure gepoog het om sy lewe te red. Hy het in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

“My kind was ʼn warrior en was bang vir niks nie. Hy het onregverdigheid gehaat en sou nooit toelaat dat iemand iets by iemand anders steel of hulle seermaak nie, maak nie saak wat die persone se ras is nie. Hy het geglo in geregtigheid en was ʼn vredeliewende mens en lief vir mense. Hy was mal oor die buitelewe en die natuur en het altyd vir my blomme aangedra,” het Roberts gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ada ·

Dink aan almal betrokke wat die held geken het.
So jammer oor julle verlies.
Maar hy is in die Hemel – sonder twyfel.

Wonder ·

RIV jongman. Jy is ‘n voorbeeld vir menige van ons. Jy is menige van ons Rustenburgers se held. Sterkte aan die familie.

Marianne ·

Gareth was vir sy ma, ‘n lewens lange held …. Sy lewe het te vinnig, geweldadig en onnodig tot ‘n einde gekom.
Carina en bid vir jou en Francios vir krag en genade. Mag God julle berusting en krag gee.
Sterkte aan al Gareth se vriende en ander familie lede – hy was finominaal en sal altyd in almal we harte voort leef.
Sit rustig by Jesus se voete Engel van God en mens

Johann ·

n Jong blanke man sterf terwyl hy n swart gesin se lewe beskerm, en ek wonder of dit vir een oomblik veronderstel is om die fokus van my gedagtes te wees? Of is dit die totale disrespek vir die beginsel van lewe wat elke dag in oormaat my gemoed dwing om te vra : hoeveel boosheid moet ons liggaam siel en gees nog verwerk om weer die goedheid in die mensdom te probeer ervaar?

Bokka ·

Sien ek reg,het n wit man vir n swart gesin gesterf ek hoop regtig EFF neem kennis daarvan die blanke is nie so sleg soos hul dink nie,rus in vrede my seun daar is niks groter liefde as om vir jou mede mens jou lewe te gee nie wit of swart .

Rus sag ·

JA dit word seker nie eers in die Sowetan of ander koerante genoem nie, net in Afrikaanse koerante, want hierdie pragtige jong seun wat sy lewe gegee het vir ander mag nie raakgesien word nie. Ek is wel bly RUSTENBURG se burgemeester en die ‘locals’ het dit raakgesien . Julle seun was ‘n absolute held en verdien die heldeverering en alle lof wat hom toekom . So jammer vir julle . RIV

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.