Foto’s: Jong man gegroet ná moord langs pad

Foto: Mia Spies/eNuus

“Ons hoop net geregtigheid geskied, dat die regte mense gevang moet word.”

Só het Dave Fleischman, oom van Johanco Fleischman, Vrydag gesê waar Johanco vanuit die NG kerk Kempton Park-Oos begrawe is.

Johanco (19) en sy vriendin Jess Kuhn (23) is Sondag koelbloedig doodgeskiet nadat hul bakkie langs Putfonteinweg in Benoni sonder brandstof gaan staan het.

Fleischman het aan eNuus gesê in dié stadium vermoed hulle dat Johanco en Jess deur onwettige mynwerkers doodgeskiet is.

Volgens Johanco se familie was hy ʼn lewenslustige jong man wat graag tyd langs die viswaters deurgebring het. “Niks kan die emosie beskryf wat ons voel as gesin nie, maar jy sal altyd in ons harte bly tot ons jou weer sien,” het Vickus Fleischman, sy neef, aan eNuus gesê.

“Ons lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie,” het Johanco se familie gesê. Jessica word Saterdag in Benoni ter ruste gelê.

Kyk eNuus vanaand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv vir ‘n volledige verslag oor Johanco se begrafnis.

Foto: Mia Spies/eNuus

Oudkol. Vince Harris, lid van Mike Bolhuis se ondersoekspan wat deur Johanco se familie aangestel is om die moorde te ondersoek, het vroeër aan Maroela Media gesê daar is groot onwettige mynbedrywighede onder die Zama Zama’s [onwettige mynwerkers] in dié gebied waar die jong mense vermoor is.

“Ons vermoed dat grootkoppe van dié groep Fleischman se bakkie vanaf die informele nedersetting oorkant die pad dopgehou het. Dit is ʼn plaasbakkie en hulle het tien teen een gedink dat [die jong mense] onwettige goudstof wou koop of oplaai. Hulle is as ʼn bedreiging beskou en toe doodgeskiet.”

Johanco se bakkie het dié dag omstreeks 10:00 sonder brandstof langs die pad met hom, Kuhn en twee werkers gaan staan. Johanco het ʼn familielid gebel om brandstof te bring waarna hulle sowat twee uur langs die pad vir dié persoon gewag het.

Foto: Mia Spies/eNuus

Die familielid was egter nie presies seker waar die bakkie gaan staan het nie en het lank in die gebied rondgery en na hulle gesoek. Volgens Harris het die familielid omtrent 12:00 nog met Johanco gepraat en gesê hy weet nou waar hulle is en dat hy op pad is.

Sowat 20 minute later het die familielid Johanco en Jessica se liggame op die Putfontein-wisselaar aangetref. Daar was geen teken van die werkers nie.

Die voorlopige ondersoek dui daarop dat Johanco en die werkers buite die bakkie gewag het terwyl Jessica in die bakkie gesit het toe drie verdagtes skielik nadergestap het.

Een van die verdagtes het Kuhn met ʼn enkele skoot in die motor doodgeskiet. Die skieter het daarna op Johanco losgebrand. Dit lyk in dié stadium of minstens 14 skote op dié jong man afgevuur is. Hy is eers later dood nadat die familielid op die toneel aangekom het.

Die ondersoek in samewerking met die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad duur voort.

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jacques die Goodwoodianer

Mag reg en geregtigheid geskied. Ons innige meegevoel met hul familie en vriende.

Helena.

Rus in vrede.. geregtigheid sal geskied..sterkte vir sy familie en vriende. Twee jong lewens so onnodig weg geruk.

Johan

People are being killed on a daily basis in South Africa – “Cry the beloved country”!!

jennefer

Hul is vermoor deur n wettelose, korrupte Suid Afrika.

Advokaat, Pta

Op ‘n ander noot: Alle aanduidings is dat die plaaslike SAPD (asook GPF) vooraf deeglik daarvan bewus was dat die tersaaklike area ‘n misdaad “hotspot” is en in besonder dat daar vantevore onder meer moorde deur die Zama-Zama-verwante misdadigers gepleeg is. Ek kon tot dusver geen aanduiding van enige waarskuwingsborde in daardie omgewing, wat die publiek dienooreenkomstig waarsku, waarneem nie. Indien daar nie sulke waarskuwings aangebring is nie, sal sodanige versuim, in die lig van ‘n reeks redelik onlangse Konstitusionele Hofuitsprake m.b.t die Staat se regsplig om lansburgers redelikerwys sover moontlik teen misdaad te beskerm, deur pro-aktief op te tree,… Lees meer »