[Foto’s] Jong man sterf voor hy wenslys voltooi

Nathan Miles (24) tydens sy besoek by 947.

Nathan Miles (24) tydens sy besoek aan 94.7.

Nathan Miles van Benoni aan die Oos-Rand het verskeie terugslae as gevolg van siekte gehad tydens sy leeftyd van 24 jaar. Nadat hy skaars drie maande gelede gehoor het hy het ses maande oor om te leef, het hy ʼn wenslys (“bucket list”) van tien drome opgestel.

Hoewel hy Saterdagaand dood is, kon hy met die hulp van ʼn Gautengse radiostasie en die gemeenskap in ʼn kort tydjie regmerkies langs sewe van sy drome plaas.

“Hy kan nou in vrede rus,” het Nathan se ma, Mercia, Dinsdag aan Maroela Media gesê. “Hy is Saterdagaand in my arms by die huis oorlede. Ek het vir hom gesê ek is lief vir hom. Hy was rustig. Al het sy dood skielik gekom, is dit soos ek dit verkies het … by die huis en nie in ʼn hospitaalsaal nie.”

Nathan se verhaal het aan die lig gekom toe sy jonger sussie, Sabrina, sy wenslys aan 94.7 se Breakfast Xpress gestuur het, kort nadat die gesin op 24 Junie gehoor het dat Nathan fase 3-kanker het en dat daar nie veel is wat vir hom gedoen kan word nie. Sy gesin moes hoor dat hy tussen ses en 12 maande oor het om te lewe. Sedert die diagnose het sy toestand vinnig verswak en het Sabrina by dié gewilde oggendprogram gaan aanklop om hulp om van Nathan se drome te laat waar word.

Nathan was sewe maande oud toe hy met serebrale gestremdheid gediagnoseer is. Hy kon eers op sewejarige ouderdom vir die eerste keer loop, nadat hy saam met sy pa, Gordon, Engeland toe is om intense suurstofterapie te ontvang. Sy dokters het aanvanklik gesê hy sou nooit kon loop nie, maar Nathan het hulle verkeerd bewys deur onder meer aan 5 km-pretlope deel te neem en gimnastiek te doen.

In 2009 is hy met epilepsie gediagnoseer, maar het dapper teen nóg ʼn terugslag geveg.

Hy het in April vanjaar pyn in sy nek en bors begin ervaar en ná verskeie toetse is kanker uiteindelik gediagnoseer.

Nathan se verhaal en die gepaardgaande wenslys het talle luisteraars se harte geraak en ook dié van die Breakfast Xpress-span wat onder leiding van Darren “Wackhead” Simpson alles in hul vermoë gedoen het om sy drome te bewaarheid.

Binne drie weke het hy die Breakfast Xpress-span ontmoet, middagete saam met Kurt Darren geniet, Juanita du Plessis ontmoet, op die Red Star-renbaan in ʼn BMW gejaag, die planetarium besoek, in ʼn vliegtuig gevlieg en saam met dolfyne geswem.

Hy sou Woensdag Victor Matfield en Morné Steyn ontmoet het. Sy ander twee drome, om die Hollywood-sterre The Rock en Vin Diesel te ontmoet, en om in ʼn versnelmotor te ry, was in die pyplyn.

“Die drome het absolute lig in ʼn donker tyd gebring,” het Mercia gesê. “Hy het elke liewe oomblik daarvan terdeë geniet al was hy in baie pyn. Te danke aan die radiostasie het hulle goed reggekry wat ek nie vir my seun sou kon regkry nie.”

Sy het gesê Nathan se liefde vir Kurt Darren en Juanita du Plessis spruit uit die spesiale skole waar hy skoolgegaan het en in Afrikaans en Engels opgelei is. “Ons het gereeld by die huis ook op hulle musiek gedans. Hy was veral lief vir Juanita se geestelike musiek.”

Mercia het gesê sy hoogtepunt op die lys was ongetwyfeld om saam met dolfyne te swem. Dit het hy op 8 Augustus by die uShaka Marine World in Durban gedoen. Die radiostasie het alle onkostes betaal.

Sy het gesê hy is verlede week in die hospitaal opgeneem weens longinfeksie en is Saterdagoggend ontslaan omdat daar nie veel vir hom gedoen kon word nie. Hy het gesukkel om asem te haal en moes dit doen met behulp van ʼn suurstofapparaat. Hy het ook permanent morfien geskry vir pyn.

Mercia beskryf haar seun as ʼn hemelkind wat altyd liefdevol was, drukkies uitgedeel het en vinnig in almal se harte gekruip het.

“Hy het ten spyte van al sy terugslae ʼn voller lewe gehad as wat meeste mense van sy ouderdom gehad het,” het sy bygevoeg.

Sy gedenkdiens vind Vrydag om 13:00 in die Northfield Methodist Church plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anti-Haas ·

Rus in Vrede ou maat. Jy was iemand besonders wat jou lewe tot op die laaste benut het.
Jy het nie oorgegee nie. Sterkte aan julle wat agterbly. Mag julle genade en krag van Bo ontvang.

Eliza-beth ·

So besonders dat hy sommige van sy drome kon bewaarheid. En dit danksy goedhartigheid van ander – wat ‘n mooi gebaar! Hoe lekker om van so iets moois te kan lees.

Peet Schabort ·

‘n Verhaal wat ook geboekstaaf behoort te word. ‘n Pragvoorbeeld van ‘n jongman en die verhouding met sy moeder, familie en andere om hom. Sien ek ook ‘n suster in die ‘raam’-foto ?
Hartseer om afskeid te neem op so ‘n jeugdige ouderdom maar vreugde omdat daar gemoedsrus is omdat daar in vrede en liefde met mekaar gelewe is.
Ek wonder hoeveel families is daar waar daar onmin is en die dood intree voordat daardie einas uit die weg geruim is ?
Sterkte Mercia met die juweel wat julle verloor het maar mag hierdie berig vir ons as vreemdelinge net ‘n inspirasie wees.

SNEL ·

Wat n yster van n jongman, hy het nou regtig glo ek die wedstryd tot op die einde met volharding gehardloop. Hy het alles uit die lewe probeer put tot op die laaste en hy het graag na Juanita se geestelike musiek geluister, wat vir my sê sy geloofswortels was geanker in God. Hierdie is n jongman waarvoor ek baie respek het, want dis maklik om die Here te dien en te loof as dit goed gaan, maar as jy jou lewe lank net swaar en bitter ervaar het en nog positief bly en bo dit alles nog vashou aan God, dan is jy n wenner. Mag jy in vrede rus Nathan. Baie sterkte aan sy familie en vriende. Julle kan trots wees dat so juweel van n man deel was van julle lewe. Ons kan baie by hom leer.

Griki ·

Wat ‘n pragtige storie. RIV Nathan – al die seer en slegte dinge is nou verby. Baie sterkte aan Mercia, sy familie en vriende. En ‘n BAIE GROOT DANKIE aan die Breakfast Xpress-span – God SAL julle seen vir die liefde wat julle so mildelik teenoor julle naaste betoon.

Amanda Van Vuuren ·

19 Aug Liewe jongman se familie. Die groot K het vir my soos n vloekwoord geword, tog is daar soveel mense wat die stryd net eenvoudig aangepak het en dit gestry het, totdat klaar was. Julle is sulke voorbeelde vir ons wat nog so gelukkig is om gesond te wees. Dis asof die liewe Here die mense eenvoudig versterk met ongelooflike uithou vermoee en om nog die lewe tot op die laaste te geniet. Ek glo Hy wil vir ons ander wys, waarvoor ons nog alles dankbaar moet wees en ja die Here kry dit reg! Die Here gee lewe en Hy neem lewe terug. Ouderdom is nie n saak by Hom nie ek hoop dat julle altyd al die mooi memories sal kan onthou en treasurer. Genadiglik kom daardie ongelooflike pyn tot n einde en nou rus die jongman id arms vd Here. Ek glo hy is in n wereld wat ons ons nie eers naastenby kan voorstel nie wyl hy wag vir die herontmoeting met sy geliefdes. Die Here dra julle nou, more veraltyd. Liefde in Jesus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.