[Foto’s] Jong vrou sterf in Potch-botsing

Een van die wrakke. Foto: Netcare 911

Een van die wrakke. Foto: Netcare 911

ʼn Vrou in haar 20’s is dood nadat twee motors Sondagaand buite Potchefstroom in Noordwes gebots het.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die botsing het omstreeks 23:24 op die N12 sowat 12 km buite die dorp plaasgevind.

“Volgens inligting van die toneel is die ongeluk veroorsaak deur een van die partye wat aan die verkeerde kant van die snelweg gery het toe die ongeluk gebeur het,” het Botha gesê.

Botha het gesê wrakstukke was oor ʼn groot gebied versprei en dit stem ooreen met die trefkrag van ʼn skokbotsing.

Een van die wrakke. Foto: Netcare 911

Een van die wrakke. Foto: Netcare 911

Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, het gesê die motors se wrakstukke het 100 m ver uit mekaar gelê. “Die motor waarin die vrou gery het, is op sy dak in die veld langs die pad aangetref,” het Bodasing gesê. “Sy was ongelukkig reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het.”

Twee passasiers in dié motor, ʼn man en ʼn vrou in hul 20’s, het geringe en matige beserings opgedoen. ʼn Vrou wat met die ander motor gery het, het ook matige beserings opgedoen.

Die beseerdes is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling. Die polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

jan ·

Praat nou van die pad van die dood…..dis so hartseer om te sien hoeveel jong mense die laaste jaar al op die N12 rondom Potch gesterf het. Dink daai pad kort dringend die aandag van kundiges om te bepaal hoekom9 daar soveel fatale ongelukke daar gebeur. Het dit al baie gery, en die pad word amper oorpolisieer bedags, maar wat van snags?

Jan maak n Plan ·

Die pad tussen Potchefstroom en Johannesburg kan hulle maar gerus oorbou in n ordentelikke snelweg. Die huidige pad kan glad nie die tipe verkeer dra nie en dit is n absolute wonder dat daar ni meer ongelikke op die pad is nie.

SNEL ·

Ek stem Jan maak n Plan, daai enkeld-dubbeld is genoeg om jou senuwees op te jaag, die karre ry in stringe agtermekaar en dan drentel die een voor teen 60km per uur aan, en sodra dit dubbeld is jaag almal om net verby te kom, of as hulle sien die dubbeld raak enkeld en daar is n vragmotor, dan gee hulle gas om voor hom in te val, ander sit weer vir ure agter een wat se kar nie padwaardig is nie en poer-poerop in n enkelbaan al agter hom en dan vat hulle kanse en sit ander se lewens in gevaar. Daardie pad kan nie die verkeer wat op hom is hanteer nie, hulle moet dit n dubbelpad maak, soos die een tussen Potch en Klerksdorp.

Speedguard ·

Julle moet net in gedagte hou , die Wes-Trasvaal was KP wereld , ons word nou gekniehalter vir onss “verlede”!!

Ria ·

Ongelukkig is daar mense met n traak-my-nie-agtig houding op ons land se paaie.

broos ·

ons seun ry elke Sondagaand daai pad terug kampus toe, en elke Sondagaand bid ons soos crazy dat hy veilig daar sal uitkom. innige simpatie aan die familie. en ons stem saam….regering kan regtig iets omtrent daai pad doen!!

Johann Marx ·

Daar is baie van ons met studente op daardie kampus…ek self het TWEE daar, en dit word nie makliker nie. Die senuwees knaag TOT hulle laat weet hulle’s veilig…ek laat hulle nooit in die nag of naby skemer ry nie, ook nie oor lang-naweke of dae waarop bv skole sluit nie. Ek gaan hulle liewer self haal….en bring hulle self weg…..Daai pad is dodelik.

Johan ·

Ek stem. Daardie pad moet in sy geheel dubbel gemaak word. Kan nie verstaan dat die verkeersowerhede dit nog nie besef het nie. Sigbare polisiëring, veral op Sondae en gedurende die aande, behoort ongelukke te beperk.

Karma ·

@Speedguard, wat de ongeluk (‘skuus vir die “punt”) het die hoë voorkoms van ongelukke op hierdie pad met die area se demografies-politieke geskiedenis te doen? Die Wes-Transvaal bestaan LANKAL nie meer nie en so ook die KP nie. Kom by, mens, kom by – tensy daar ‘n spesifieke, ander punt is wat jy met jou stelling wil maak? Klink my regtig dis ‘n ongeluk a.g.v. menslike fout en hoë spoed, as mens na die wrakke van die voertuie kyk en in ag neem hoe ver die wrakstukke uitmekaar versprei gelê het. Dalk het die persoon wat in die verkeerde baan gery het aan die slaap geraak of uitgeswaai vir ‘n dier/mens? En enige pad is gevaarlik: of daar nou slaggate is of ander treurige/betreurenswaardige padgebruikers is of nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.