Foto’s: Kaapstad-buurte loop deur onder wielrowers

Van Heerden se motor. Foto: Verskaf

Van Heerden se motor. Foto: Verskaf

Inwoners van verskeie buurte in Kaapstad het die afgelope paar weke deurgeloop onder rowers wat die wiele van hul motors af steel.

Gemma Redelinghuys, woordvoerder van die Table View-gemeenskapspolisiëringsforum, het gesê daar was minstens vyf voorvalle in Table View oor die afgelope twee weke. Volgens Redelinghuys lyk dit soos ʼn nuwe tendens en word die wiele laataand of vroegoggend van die motors af gesteel.

Suné van Heerden, ʼn inhoudsredakteur van Maroela Media wat in Vredehoek in Kaapstad woon, was self ʼn slagoffer van die nuwe tendens. “Ek het vanoggend (Donderdag) deur die venster geloer en eers gesien twee van my wiele is weg. Ek het uitgehardloop en gesien al vier wiele is weg, sowel as die spaarwiel en battery.”

Volgens Van Heerden het die diewe moontlik eers die enjinkap oopgebreek en die battery ontkoppel sodat die alarm nie meer werk nie. Hulle het toe glo toegang deur die bestuurderdeur gekry, die agtersitplekke afgeslaan en die spaarwiel uit die kattebak gesteel. Van Heerden se motor het in die straat buite die woonstelkompleks waar sy bly gestaan, soos wat dikwels die geval is in Kaapstad.

Redelinghuys het gesê daar was ook al voorvalle waar meer as een motor in ‘n straat op een aand geteiken is. “Ons doen ‘n beroep op mense om baie bewus te wees van wat in hul omgewing aangaan en by hul plaaslike buurtwag aan te sluit. Dit is ook noodsaaklik dat mense die voorvalle by die polisie aanmeld sodat daar ondersoek ingestel kan word na die modus operandi wat deur die diewe gevolg word.”

Mense het intussen op Table View-GPF se Facebook-blad gesê hulle is bewus van voorvalle in Goodwood, Monte Vista en Plattekloof Glen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Peet Schabort ·

Welkom by die klub wat al onder misdaad deurgeloop het.
Ook ek is lid van daardie klub.

christina paulse ·

Dit is te vreeslik ,dat ons almal maar moet aanvaar ,dat ons so besteel word.Dit lyk of niemand meer respek het vir die gereg nie.

Carina Rabie ·

‘n Paar jaar gelede het die Paarl ook deurgeloop. My man se werksbakkie se wiele is by sy werk agter geslote hekke afgesteel, en die bakkie mooi op blokke gelos.
Die span was blykbaar “bestuur” deur ‘n blanke vrou wat jong mans betaal om wiele te steel. Hulle ry met ‘n bakkie rond en verskaf selfs gratis sement blokke in die plek van jou wiele. ‘n Hele paar motors het deurgeloop.
Die motor vervaardigers kan gerus begin om alle motors toe te rus met ten minste een
“wheel nut” wat jy nie met die gewone wiel sleutel kan losdraai nie.

jakes ·

Gebeur al dekades lank in die Tappit Triangle (Brakpan/ Benoni/ Springs). Niks nuut.

Dave ·

Kaapstad is nie uniek nie. ‘n Vriendin se kar se wiele is enkele weke gelede gesteel binne die parkeerkompleks, vloere hoër as grondvlak, van ‘n woonstelkompleks in Durban.

Corri ·

Nogal snaaks dat ons gronwet as van di bestes beskou word maar dat dit ons weinig beskerming bied

Corri ·

Nogal snaaks dat ons gronwet as van di bestes beskou word maar dat dit ons weinig beskerming bied

neelsie ·

Maklike manier van geldmaak.
Geen nommers of identiteit nie.
Bande is duur . Vellings onbekostigbaar.
Daar is spesiale moere beskikbaar,

MavusiKenpachi ·

My Opel se alarm het afgegaan as jy met die battey peuter. En gelukkig is my “nuwe” kar se wiele so erg gekrap dat niemand dit sal wil he nie.

Hanni ·

Hulle sal nog jou melk uit jou koffie steel!

Ek kan nie glo dat daar ‘n land in die wêreld is waar dit erger gaan as hier nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.