[Foto’s] Kaapstad-vierling vier 1ste verjaardag

Jean en Tracy met hul verling dogtertjies. Foto: Verskaf

Jean en Tracy met hul verling dogtertjies. Foto: Verskaf

Die Du Plessis-vierling van Kaapstad het Donderdag hul eerste verjaardag gevier.

Hannah, Isabella, Grace en Jane het op 10 Desember 2014 ná ʼn keisersnee die eerste lewenslig aanskou en is in Februarie vanjaar, 70 dae later, uit die Mediclinic Panorama ontslaan.

Tracy, die vierling se ma, het aan Maroela Media gesê die eerste ses maande ná die vierling se geboorte het baie stadig verbygegaan, maar dat die laaste ses maande behoorlik verbygevlieg het. “Hulle is oral. Jy draai net jou rug en dan: Waar is die kind nou? ʼn Mens kan egter nie anders as om hulle te geniet nie. Dat so ʼn klein lyfie so baie persoonlikheid kan hê is verstommend.”

Tracy is ʼn heeltydse ma, maar het darem bedags die hulp van twee mense terwyl ʼn nagsuster haar en haar man, Jean, saans bystaan. “Ons kry nog nie baie slaap nie, dis wensdenkery.”

Die vier sussies. Foto: Verskaf

Die vier sussies. Foto: Verskaf

Die vierling bestaan uit twee identiese tweelinge. Hannah en Isabella is die een identiese tweeling en Grace en Jane die ander. Grace en Jane trek ook heelwat swaarder op die skaal terwyl Hannah en Isabella nog ʼn bietjie sukkel om gewig op te tel. “ʼn Mens kan die twee tweelinge maklik uitken hoewel almal blonde haartjies en blou oë het. Daar is ʼn avontuurlustige enetjie in elke paar terwyl die ander een eers terugsit en die kat uit die boom kyk.”

Tracy skerts dat die dogtertjies almal hul pa se kort humeur gekry het. “Grace het deesdae net ogies vir haar pa terwyl die ander drie net aan mamma hang.”

Volgens Tracy word hulle dikwels op straat voorgekeer wanneer hulle die vierling op ʼn uitstappie neem.

“Ek is altyd verstom dat mense vra of daar nog kom. Hulle vra gewoonlik wanneer probeer julle vir boetie. Ons was een keer akwarium toe en ons was soos ʼn lopende uitstalling. Almal stop en lag en kyk en vergeet skoon om vir die visse te kyk.”

Jean en Tracy is al sedert 2001 saam en is op 16 Desember 2006 getroud. Hulle het in 2008 besluit om met ʼn gesin te begin. Ná jare se onsuksesvolle probeerslae het Tracy op 10 Junie verlede jaar uitgevind sy is swanger nadat sy vir die tweede keer in vitro-bevrugting ondergaan het.

Lees alle vorige berigte oor die Kaapstad-vierling op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Swanna ·

Veels geluk. Eish sien hulle gaan nog ‘n hele paar hande vol word. Pa, jy moet solank maar vir jou ‘n dubbel loop hael geweer aanskaf. Ha Ha Ha.

Jan maak n Plan ·

Ek hoop hierdie Pa het n haelgeweer en groot honde want een van die dae gaan daar baie seuns wees wat by die vier mooi meisies sal wil kom kuier. Sterkte swaer en baie geluk met julle kinders se verjaarsdag.

Hettie ·

Baie geluk 4ling se verjaarsdag! Hulle is pragtig! Pas hulle mooi op hulle is kosbare kinders!

Johann Marx ·

Dis pragtig en alles, MAAR die land is aan die gons oor Zumpies en sy kaskenades, en daar is ‘n golf van #Zumamustfall besig om momentum te kry………….en Maroelamedia wys NIKS daarvan nie?? Komaan ouens, julle webblad is awesome en baie mense lees hier…………maar bly tog by die nuus wat relevant is??

Renee Stander ·

Dis so lekker om vir ‘n slag ‘n opbouende mooi artikel te lees. Mag die Here julle ryklik seen!!

Tascha ·

Ag hulle is gorgeous!!! Ek het een van amper 18 maande en sy’s vreeslik parmantig ek wil regtig nie weet hoe hierdie 2 dit reg kry om kop te hou met 4 nie! Baie geluk met hul 1ste verjaardag en die Here se rykste seën vir jul pragtige geskenkies!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.