Foto’s: Kalifornië-brande woed voort

Foto: ANA via AP.

Nóg duisende mense moes hul huise verlaat weens die verwoestende brande wat sedert Dinsdag in die suide van Kalifornië in die VSA woed.

Ongeveer 200 000 mense moes noodgedwonge uit hul huise vlug en gevaarlike toestande vir brande word nog tot Sondag voorspel. Vlamme het oor snelweë en treinspore gewoed soos sterk wind dit aangeblaas het.

Talle skole in Los Angeles-skole is ook vandeesweek gesluit. Die vlamme het reeds honderde huise verwoes en ʼn nuwe brand het intussen noord van San Diego ontstaan. Volgens owerhede woed die vier grootste brande tussen Los Angeles al langs die kus af tot by Santa Barbara waar die streek se berugte Santa Ana-winde tot orkaansterkte kan bereik.

Meer as 2 600 brandbestryders van tot Portland, Oregon en Nevada bestry tans die Thomas-brand noordwes van Los Angeles wat reeds oor 46 000 ha strek en 439 boustrukture verwoes het. Noord van San Diego het nog ʼn brand, wat die Lilac-brand gedoop is, oor meer as 1 000 ha versprei, 20 geboue verwoes en tot ontruimings en padsluitings gelei.

Van die ander brande wat al Dinsdag ontstaan het, het tot by die welgestelde westelike omgewing van Los Angeles versprei waar die mediamagnaat Rupert Murdoch se luukse Moraga-wynlandgoed geleë is. Murdoch het dié eiendom vir sowat $30 miljoen gekoop in 2013.

Roxanne Langer van die Moraga-wynlandgoed het gesê ʼn temperatuurbeheerde wynstoorkamer het afgebrand en dit is in dié stadium onduidelik hoeveel wyn verlore gegaan het.

Brandweermanne kon daarin slaag om die brand wat huise in ʼn woud naby die wêreldberoemde Getty-museum in Los Angeles bedreig te bekamp.

Ken Pimlott, hoof van Kalifornië se brandweer, het gesê die kleur vir die brandwaarskuwing Donderdag was pers, ʼn kleur wat nog nooit voorheen gebruik is nie. Dit beteken dat die brande waarskynlik onbeheers sal woed.

Maroela Media het Woensdag berig twee mense het brandwonde opgedoen, van wie een kritiek is, en tienduisende moes die gebied verlaat toe hewige brande Dinsdag in die suide van Kalifornië in die VSA voortgewoed het. Die brand het Dinsdagmiddag in San Bernardino, oos van Los Angeles, ontstaan en is deur sterk en wisselvallige winde aangevuur.

Die gesamentlike skooldistrik in Los Angeles, die land se tweede grootste skooldistrik met meer as 640 000 leerders, het gesê minstens 265 van die byna 1 100 skole moes gesluit word. Die University of California Santa Barbara het ook klasse gekanselleer.

Kragtoevoer na mense in bergagtige gemeenskappe noordoos van San Diego en oos van Los Angeles is afgesny en die kragonderbreking kan nog dae lank duur.

Die veldbrande in die gebied woed tans kort nadat brande in Oktober vanjaar in die noordelike wynstreek in die staat die lewe van minstens 40 mense geëis en ongeveer 10 000 geboue verwoes het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karma ·

Dit is verskriklik! 10 x keer erger as die Knysna-brande van vroeër vanjaar. Ai, en hoe mooi was dit nie van daardie jongman wat ‘n arme, verbouereerde hasie van ‘n vlammedood gered het nie …..

Yankee ·

Wil net regstel. Santa Ana wind bereik nooit orkaansterkte. Hoogstens 45 mpu. Dit is egter n warm wind wat sake vererger. In my 25 jaar hier, eerste maal dat ek gedwing is om my huis te verlaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.