[Foto’s] Kaper doodgeskiet, een vas ná hoëspoed-jaagtog

Die Polo wat gekaap is. Foto's: Verskaf

Die Polo wat gekaap is. Foto’s: Bron

ʼn Vermeende kaper is Dinsdag in KwaZulu-Natal doodgeskiet en een is in hegtenis geneem ná ʼn hoëspoed-jaagtog met die polisie wat toevallig in die omgewing ʼn spesiale operasie uitgevoer het om kapings te bekamp.

Maj. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê beamptes van die Bayview-polisie in Chatsworth, wes van Durban, was omstreeks 04:45 in die omgewing toe hulle ʼn verdagte grys Volkswagen Polo opgemerk het.

“Die Polo het teen ʼn hoë spoed gery. Die beamptes het die motor agternagesit. Die insittendes van die Polo het op die polisie losgebrand toe hulle besef het hulle word agtervolg. Die polisie het teruggeskiet en een verdagte noodlottig gewond,” het Zwane gesê.

Een verdagte is in hegtenis geneem en ’n ander een kon daarin slaag om te voet te ontsnap nadat die motor waarin hulle was, gebots het.

Daar is reeds vasgestel dat die Polo in die Chatsworth-omgewing gekaap is. Die polisie het op ʼn vuurwapen beslag gelê. “Die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit met ander misdrywe verbind kan word.”

Die 27-jarige verdagte wat in hegtenis geneem is, sal binnekort in die Chatsworth-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van vermeende gesteelde eiendom, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en poging tot moord.

Zwane het gesê daar word vermoed dat die mans met ander kapings in die omgewing verbind word. Die soektog na die ontsnapte man duur voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Theresa B ·

Skitterend…..!!!!!! Net jammer al 3 moes “noodlottig” gewees het.

GES ·

Iets om voor dankbaar te wees. Twee skuimbolle is nou uit sirkulasie gehaal. Ek hoop nie die polisiebeampte wat geskiet het gaan vervolg word nie.

Delta Mike ·

Welgedaan aan die SAPS manne, dit is hoe daar met kriminele gewerk moet word.

Christine ·

Fantasties, SAPD!!! Wonderlik dat daar nog MANNE in blou is, wat hul eed van Servamus et Servimus (het ek dit reg aangehaal?) voluit beoefen. Dit is verdeksels hoog tyd dat ‘the powers that be’ begin besef dat SA se oop grense en se beleid om alle Afrikane in SA te verwelkom, ‘n groot oorsaak is tot die hoë misdaadvlakke in die land. Dit gaan nie oor wie of wat nie, maar die feit dat mense met hoop in die land inkom – hoop om werk te kry, hul families te kan onderhou en veilig te wees en dan realiseer dit nie; dan wend hul hulself tot misdaad. Maak oop jul oë, ANC-regering!!!!

Johann Marx ·

Christine, die ANC se oë is laaaaaankal oop. Ons land het ‘n misdaad gebasseerde ekonomie, wat nie sal kan bestaan as daar nie misdaad is nie. Hoeveel minder voertuie sou in SA verkoop word as daar nie misdaad was nie? Hoeveel “wagte” sou werkloos by die huis gesit het? Hoeveel alarm en elektriese heining vervaardigers en installeerders sou sonder ‘n inkomste gewees het as hier nie misdaad was nie? Wat sou ons met al die bakstene gedoen het wat nou in hoë mure ingebou is as hier nie misdaad was nie? En elke misdaad verwante transaksie, hetsy om dit te probeer voorkom, of om die skade te herstel, genereer vir die regering MILJARDE Rande se BTW. Sien jy die Polo op die foto? Toe die eienaar dit gekoop het het hy 14% BTW betaal op die koopprys. As gevolg van die misdaad moes hy dit verseker. Nou betaal die versekering uit, en as dit reggemaak word, genereer dit 14% BTW vir die regering. En as dit afgeskryf word? Dan koop die eienaar ‘n ander een….en dit genereer 14% BTW vir die regering. As die regering ernstig was oor misdaad bekamping sou hulle vir die slagoffers van misdaad elke misdaad verwante uitgawe teen 0% BTW aangeslaan het, maar hulle kan nie…..dit betaal vir hulle uitspattige salarisse en leefstyl. Ken jy die spreekwoord wat lui “Die deler is net so goed as die steler|???

tamboti ·

Ek sal nie verbaas wees dat die regering nie net indirek, maar ook direk op persoonlike vlak deur misdaad bevoordeel word nie. Hoeveel van bg. ekonomiese aktiwiteite word nie ook deur die “grootkoppe” bedryf of aandele het daarin nie.
En dan is daar nog die boetes ook wat staatsinkomste is. Slagoffer kry – wel, ‘n berig in ‘n koerant miskien?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.