[Foto’s] Kimberley-gemeenskap groet afgestorwe polisiebeamptes

Duncan Vertue (Foto: Duncan Vertue, Facebook)

Duncan Vertue (Foto: Duncan Vertue, Facebook)

Honderde inwoners en polisiebeamptes het Maandagaand in Kimberley saamgekom om eer te betoon aan twee beamptes wat verlede week in ʼn vermeende voorval van huishoudelike geweld in die stad se strate doodgeskiet is.

ʼn Kranslegging is in Bultfonteinweg, waar Long- en Lennoxstraat aansluit, gehou waar ao. Duncan Vertue (46) en sers. Gregory Vis (36) Woensdag geskiet is terwyl hulle aan diens was.

Kol. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, het vroeër aan Maroela Media gesê die skieter, Xolani Feni (40) wat ʼn voormalige polisiebeampte was, en sy vrou het glo huweliksprobleme gehad. Sy vrou, wat by die polisie se provinsiale kantoor in die stad werk, het ʼn beskermingsbevel teen hom laat uitreik.

“Die man het sy vrou Woensdag by die polisiekantoor gekonfronteer,” het Ramatseba gesê. Ander polisiebeamptes het tussenbeide getree, waarna ʼn jaagtog deur die stad se strate ontstaan het.

“Beamptes het hom by ʼn verkeerslig, ʼn paar blokke van die kantoor, voorgekeer waarna hy op hulle losgebrand het. Die beamptes het teruggeskiet en die verdagte noodlottig getref.”

Vertue is op die toneel dood en Vis het in die hospitaal aan sy wonde beswyk. Nog ʼn beampte, sers. Oarabile Boyise, is ernstig beseer en word nog in die hospitaal behandel.

Vertue was aan die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe, en Vis (36) aan die taktiesereaksie-eenheid verbonde.

Die kranslegging is deur die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum gereël. Die beamptes se kollegas het ook kerse ter ere van hulle gebrand ten aanskoue van honderde inwoners.

Vertue se vriende en kollegas het hom as ʼn “sagmoedige reus” beskryf wat ʼn groot leemte in die gemeenskap gaan laat. ʼn Amptelike polisiediens word Dinsdag vir hulle gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

So onnodig en so sad ·

So onnodig en sad, die verlies van 2 goeie Polisie manne en hulle is reeds minder as ander. Sterkte aan jul kollegas, mens kan sien dit raak hulle. Liewe aarde man as jy probleme het vat jouself uit enlos ander. Ek moet sê, dit is verblydend om te weet die moordenaar is ook dood, anders het hy nou weer mense regte gehad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.