Foto’s: Kimberley in vloed

Foto: Twitter/Facebook

Foto: Twitter/Facebook

Die hemel het Dinsdagmiddag behoorlik sy sluise oopgemaak en die erge reën het chaos in Kimberley in die Noord-Kaap veroorsaak.

ʼn Wolkbreuk het omstreeks 15:00 daar uitgesak, waarna ʼn skakelaar by ʼn substasie ontplof en groot gedeeltes van die dorp in donkerte gehul het. Verskeie huise en motors is deur vloedwater beskadig.

Sello Matsie, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, het Woensdag aan Maroela Media gesê daar is skade aan privaat wonings en voertuie aangerig, asook aan die munisipale infrastruktuur.

“Die omvang van die skade moet nog bereken word, en ons is nog besig om inligting van alle klagtes bymekaar te maak,” het Matsie gesê.

Hy het gesê hulle het berigte ontvang dat mense uit voertuie gered moes word, maar dat daar sover geen ernstige beserings aangemeld is nie. Die munisipaliteit sal later Woensdag ʼn verklaring uitreik.

Lt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê geen lewensverlies of vermiste persone was teen Woensdagoggend by die Kimberley-polisie aangemeld nie.

Volgens Jan Vermeulen, ʼn weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weerdiens, het minstens 75 mm reën in Kimberley geval. Vermeulen het gesê sowat 50 mm hiervan het in ʼn kort tyd geval.

Die Diamond Fields Advertiser het berig dat meer as 100 mm reën op plekke geval het.

Volgens Vermeulen was die swaar reën as gevolg van ʼn laedruk- en bo-lug-trogstelsel oor die Noord-Kaapland.

Geen reën word vandag in Kimberley verwag nie, maar wel weer Donderdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

anna ·

Sterkte kan my daai gemors indink en die modder gemors. Water het geen genade

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.