Foto’s: ‘Kitsbankrowers’ ná jaagtog vasgetrek

Foto: Verskaf.

Die polisie in die Wes-Kaap het Maandag twee vermeende kitsbankrowers in De Doorns-Oos vasgetrek. Dit ná ʼn OTM opgeblaas en ʼn onbekende hoeveelheid geld gesteel is.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 01:40 by ʼn OTM in Clinicstraat in De Doorns-Oos plaasgevind toe die kitsbank met ʼn onbekende toestel opgeblaas is.

“Die kluis is verwyder en die verdagtes het in ʼn liggoud Toyota Avanza met Mercedes-Benz‑wieldoppe van die toneel gevlug in die rigting van Worcester,” het Van Wyk gesê.

Die nommerplaat van die voertuig is dadelik gesirkuleer . Die rowers het onmiddellik in die rigting van Zweletemba gejaag toe die polisie die motor in Worcester gewaar.

“Sowat 200 meter voor die verkeerslig by die ingang na Zweletemba is die verdagtes se voertuig tot stilstand gedwing nadat beamptes skote daarop gevuur het. Vyf gewapende verdagtes het uit die voertuig gespring en oor ʼn oop stuk veld in Zweletemba in gevlug,” het Van Wyk gesê.

Volgens Van Wyk is twee verdagtes in die voertuig aangetref en in hegtenis geneem. Die polisie het ook beslag gelê op die OTM-kluis en banknote wat rondgelê het. “Een van die verdagtes het ʼn ploftoestel op die sypaadjie gegooi en daar is ook daarop beslag gelê. ʼn Nommerplaat met die nommer CA 951 608 is in die voertuig gevind – dit strook met die lisensieskyfie op die voertuig,” het Van Wyk gesê.

Die verdagtes, onderskeidelik 21 en 44 jaar oud, sal Woensdag in die De Doorns‑landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hannetjie ·

So gepraat van ‘kitsbank-rowers…..Ek bied my dienste aan om vir enige besigheid of Maatskappy…boeke te lees..ek belowe dat ek nie R120 000.00 sal vra nie…ekt net een voorwaarde..die boeke moet asb nie meer as 15 bladsye he nie.Want dan kan ek te minste so 4 boeke deur draf per dag @ net R5000.00.Dit is mos redelik..of hoe(tong in die kies)?

Santjie ·

hahaha! Miskien moes hulle nie die Mercedes wieldoppe opgesit het om “under cover” te wees nie!

Hannetjie ·

Baie A3.dis nou te se..as jy nuus luister.Dit gaan oor ‘rowery’..Die SAID het R 120,000.00 betaal..vir ‘n persoon..om ‘n boek te lees.Dis rowery..soos die kitsbank-rowers.En tong-in-kies…ek dryf die spot.Hoop jy vang die grappie.Sterkte

Santjie ·

Hulle is toe nie so “under cover” as wat hulle gehoop het met die Mercedes wieldoppe op ‘n Toyota nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.