Foto’s: Klasse by TUT opgeskort weens betogings

'n Bus het op 9 September 2014 by TUT uitgebrand tydens studentebetogings oor NSFAS Foto aan Maroela Media verskaf

‘n Bus het op 9 September 2014 by TUT uitgebrand tydens studentebetogings oor NSFAS Foto aan Maroela Media verskaf

Klasse by die Tswhane Universiteit van Tegnologie is Dinsdag opgeskort weens studentebetogings.

“Groepe studente het vroegoggend op TUT se hoofkampus begin betoog,” het Willa de Ruyter, woordvoerder vir TUT, gesê. “Een van die busse is aan die brand gesteek.” Sy wou nie verdere besonderhede oor die bus verskaf nie.

De Ruyter het aan Maroela Media bevestig die klasse is slegs vir Dinsdag opgeskort en dit is slegs by die Pretoria- en Ga-Rankuwa-kampus van toepassing.

Sy het bevestig geen beserings is tot dusver aangemeld nie.

De Ruyter het gesê die betoging hou verband met die studentefinansieringskema, NSFAS. Sy kon nie dadelik bewerings bevestig dat eerstejaarstudente se aansoeke afgekeur is nie. “Ek sal eers meer inligting moet bekom, aangesien daar ʼn verandering in die administrasie van NSFAS-finansiering plaasgevind het,” het sy gesê.

De Ruyter het verduidelik universiteite en kolleges het aanvanklik self die fonds administreer, maar NSFAS het ná die verandering die administrasie gesentraliseer.

TUT-studente het in Januarie en Mei vanjaar ook oor NSFAS betoog. TUT moes in Januarie klasse opskort en studente uit koshuise ontruim. Die universiteit het ook ʼn hofbevel bekom om betogings by sy kampusse te verhoed. Die Socialist Youth Movement en die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) het egter later ʼn interdik in die Pretoriase hooggeregshof bekom teen die onwettige uitsetting van studente.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maroelaleser ·

My ervaring as dosent het my geleer dat die naderkom van eksamens tot betogings lei sodat daar ‘n verskoning vir swak prestasies kan wees.

Meneer ·

Ek is nou so kwaad vir die blêrrie bank wat my lening afgekeur het, ek is sommer lus en brand ‘n bus!

Elfie ·

GEE GEE GEE! Gee vir ons diplomas/grade/sertifikate al het ons nie geleer nie. GEE vir ons lenings al kan ons dit nie terugbetaal nie. En as ons die lenings kry en ons kan nie terugbetaal dan moet julle dit net vir ons GEE!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.