[Foto’s] Klein nuweling Pta-dieretuin se trots

dwerg-seekoei-01

Die dwergseekoeikalfie wat op 16 Desember in die Pretoriase Nasionale Dieretuin gebore is. Foto:
NZGPretoria/Facebook.

Die dwergseekoeikalfie wat op 16 Desember in die Pretoriase Nasionale Dieretuin gebore is, is perdfris en gesond.

Dr. Robert Campbell, die dieretuin se veearts, het die bulletjie Dinsdag ondersoek en hom gesond verklaar. Daar is ook tydens die ondersoek ʼn sender onder die kalfie se vel ingeplant wat data oor sy herkoms bevat sodat hy altyd maklik identifiseerbaar is.

Die dwergseekoei is ʼn bedreigde spesie wat natuurlik in die woude en moerasse in die weste van Afrika, in lande soos Liberië, Ivoorkus, Sierra Leone en Guinee, voorkom. Na raming is daar minder as 3 000 wilde dwergseekoeie oor. Die soort seekoeie se natuurlike habitat is onder druk en hulle word ook onwettig in veral Liberië vir hul vleis gejag.

“Die dwergseekoeie kom ongelukkig in oorloggeteisterde lande voor, wat boonop te arm is om op bewaring te fokus. In Suid-Afrika is daar net tien van hierdie soort seekoeie oor, wat onder meer by ʼn teelsentrum in Mokopane en ander dieretuine aangehou word. Al dié seekoeie is deel van ʼn internasionale teelprogram om die spesie te bewaar,” het Craig Allenby, woordvoerder van die dieretuin, gesê.

Volgens Allenby is die dwergseekoei veel minder aggressief as sy groter neef wat natuurlik in Suid-Afrika voorkom, juis omdat hulle natuurlik in woude woon waar die diere makliker kan wegkruip. ʼn Volwasse dwergseekoei weeg ʼn kwart van die gewig van sy plaaslike eweknie. Hulle kan tussen 75 tot 100 cm skouerhoogte meet, is gewoonlik tussen 150 tot 175 cm in lengte en kan van 180 tot 275 kg weeg. Hierdie soort seekoeie kan maklik tussen 30 tot 55 jaar in aanhouding leef.

Die kalfie sal tot hy uitgegroei is in die dieretuin aanbly waarna hy moontlik met ʼn ander dieretuin of teelsentrum uitgeruil sal word vir ʼn nuwe bul vir die dieretuin. “Dit word gedoen om die genetiese integriteit van die spesie te bewaar,” het Allenby verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

Hy jok. Dis ‘n seekoeitjie van koper… Klaar ‘n kwaai klein pokkeltjie.

Laurika ·

Ek wil nou nie bollie praat nie, maar ek dink hierdie is die oulikste dingetjie wat ek in ‘n baie lang tyd gesien het.

Jem ·

Wens so ek kon van hulle kry om meet te teel. Hy is so oulik.

Juanita ·

BAIE GELUK !!!!!! ONS SAL MOET KOM KYK HIER VAN NATAL SE KANT AF

Uvonka ·

Ag jitte, hoe oulik is die dingetjie! Lyk amper nes ‘n gremlin!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.