[Foto’s] Kleinmond ʼn ‘oorlogsone’

Betogings in Kleinmond in die Wes-Kaap (September 2017). Foto: Twitter via @diverene

Paaie en skole moes Dinsdag in Kleinmond in die Wes-Kaap gesluit word nadat gewelddadige betogings weereens by dié kusdorp opgevlam het.

Woedende inwoners van die informele nedersetting Over Hills, net buite die dorp, het paaie met bande wat aan die brand gesteek is versper, brande gestig en die polisie met klippe bestook. Daar word ook verneem dat van die betogers petrolbomme gegooi het. Video’s op sosiale media wys hoe rubberkoeëls klap soos die polisie probeer om die situasie onder beheer te bring.

Die Overstrand-munisipaliteit het Dinsdagoggend gesê die R44 sal in albei rigtings gesluit word by die Kleinmond-kruising na Hermanus, asook aan Gordonsbaai se kant. In die sakesentrum is die pad ook by DF Malherbe en 11de straat gesluit. Verkeersbeamptes is op die toneel om die verkeer via alternatiewe roetes te herlei.

Betogings in Kleinmond in die Wes-Kaap (September 2017). Foto: Twitter via @diverene

Laerskool Kleinmond het op die skool se amptelike Facebook-blad gesê die skool sal Dinsdag gesluit wees ter wille van leerders se veiligheid. ʼn Plaaslike inwoner het aan Maroela Media gesê die dorp “is ʼn oorlogsone”.

Rudolph Smith, burgemeester van Overstrand, het Dinsdagoggend gesê die betogers is steeds ontevrede oor dieselfde kwessie wat aanleiding gegee het tot die betogings twee weke gelede. Smith het toe gesê die inwoners is ontevrede oor ʼn tender wat toegeken is vir die skoonmaak van strate in Kleinmond. Volgens Smith is die tender aan ʼn man van Zwelihle (tussen Sandbaai en Hermanus) toegeken en is die inwoners ontevrede omdat die tender nie aan ʼn plaaslike inwoner van Kleinmond gegaan het nie.

Smith het aan Maroela Media gesê daar is sedertdien met die inwoners vergader, maar hulle hou vol die munisipaliteit moet die kontrak kanselleer. “Daar is nog geen ooreenkoms met hulle bereik nie, want hulle wil nie verstaan dat ons nie net kan omdraai en die kontrak nietig verklaar nie. Dan sal ons onsself mos nou blootstel vir regstappe. [Die betogers] het net gesê hulle sal nie toelaat dat die ontvanger van die kontrak die werk uitvoer nie.”

Betogings in Kleinmond in die Wes-Kaap (September 2017). Foto: Twitter via @fRANAzzZ

Hy het bygevoeg dat die leier van die gemeenskap daarop aangedring het dat die polisie uit die gebied onttrek, maar hy sê dat dit nie ʼn opsie is nie. “Ons sal ons nie met so ’n slap riem laat vang nie. In dié stadium hou die polisie hulle uit die dorp en hulle wil natuurlik by die dorp inkom, want dit is waar hulle die meeste skade kan aanrig. Hulle het dan openlik gedreig dat hulle die munisipaliteit se administratiewe gebou in die dorp gaan afbrand,” het hy gesê.

Hy het gesê die betogers het ook polisielint gebruik om vir hulle erwe uit te meet. “Daar is natuurlik ook erge intimidasie aan die gang. Ek hoor gister dat polisiebeamptes vir van die betogers gevra het hoekom hulle betoog, dan sê hulle hul weet nie. Hulle word gedreig om aan die betoging deel te neem.”

Smith het gesê hy sal vandag weer met ʼn gemeenskapsleier vergader om ʼn oplossing vir die situasie te probeer vind.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn betoging tans in Kleinmond aan die gang is. “Die polisie is op die toneel om die situasie te monitor. Geen geweld is aangemeld nie en niemand is in die stadium in hegtenis geneem nie,” het Rwexana gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andre C ·

kanselleer die kontrak.Hierdie mense betaal nie eers vir die skoonmaak van hulle woongebied nie.Hoekom moet wetsgehoorsame burgers vir die skoonmaak van hulle woonarea betaal? Kom ons kyk hoe hanteer die DA hierdie situasie

Afrikaans Knaap ·

Ek dink ons Suid Afrikaners moet leer by die inwoners van Kleinmond omdat soveel tenders en kontrakte aan ander lande in besonder Frankryk, Indië, China en Rusland gaan.
Hulle gaan natuurlik na hierdie lande omdat hulle lekker vet omkoopgeld aan ons “leiers” en hulle familie aanbied.

Jordaan ·

“‘n man van Zwelihle (tussen Sandbaai en Hermanus)” klink nie na ‘n buitelander nie, so ek dink nie die betoging het meriete nie. Indien daar natuurlik korrpupsie was is dit ‘n ander saak.

Chevy ·

En SA brand en dit gaan aanhou brand tot alles met die grond gelyk gebrand is, maar nou ja hulle wou mos die land terug he en nou het hulle alles wat hulle wil he en nog is die mense nie tevrede nie.

HPV ·

Wetsgehoorsame landsburgers het slegs twee keuses, veg terug deur jouself en eiendom te verdedig of emigreer na ‘n eerste-wêreld land. In Suid Afrika is elkeen nou vir homself.

Pop ·

Anton dis makliker gese as gedaan. Ons het probeer, en raai wat. As jy n pensioenaris is wil die regering amper helfde van jou geld he voor jy kan gaan. Hulle wil ons nie hier he nie maar maak dit ook onmoontlik om te gaan. Op die ou einde gaan net die wit oues hier sit want ons kinders gaan almal weg wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.