[Foto’s] Kleuters kikker bejaardes se dag op

Die “Groentjies en gryses”-projek bring sedert 2015 bejaardes en kleuters bymekaar vir ʼn dag van jolyt. Foto: Verskaf

“Vir elke eensame bejaarde is daar ʼn behoeftige kleuter wat liefde nodig het.” Dit is die mening van Solidariteit Helpende Hand wat ʼn unieke projek van stapel gestuur het.

“Die Bybel is baie duidelik oor ons verantwoordelikheid teenoor die weerloses in ons gemeenskap. Ons is veronderstel om die weduwees en weeskinders te ondersteun. Daarom het Solidariteit Helpende Hand besluit om dié twee groepe, kleuters en bejaardes, deur ʼn bymekaar te bring,” het Lizelle Joubert, projekorganiseerder by Helpende Hand se bejaarde-projekte, aan Maroela Media gesê.

Die “Groentjies en gryses”-projek bring sedert 2015 bejaardes en kleuters bymekaar vir ʼn dag van jolyt. Dié projek is al in verskeie dele van die land aangebied en word elke keer goed ontvang. “Bejaardes kry weer lewe in hulle en kleuters ontvang baie liefde.”

Vanjaar het “Groentjies en gryses” by die Margaretha Ackerman-tehuis, een van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie se tehuise in Pretoria, plaasgevind. Helpende Hand het 30 kleuters van die Tuindwergies-kleuterskool na die tehuis geneem om ʼn bietjie met die bejaardes te kuier. Die dag is ekstra spesiaal gemaak met ʼn optrede deur Jan de Wet, die gewilde gospelsanger.

Volgens Joubert was die projek nog elke jaar ʼn reuse-sukses. “Baie bejaardes vereensaam, maar ʼn vriendelike kindergesiggie beur ʼn swaar hart gou weer op. Die interaksie is altyd baie positief en ons glo dié keer was geen uitsondering nie,” het sy bygevoeg.

Ditlhare Mokhema, ʼn maatskaplike werkster by die tehuis, het die kleuters as “engele” beskryf. “Julle het ons dag, nee, ons jáár gemaak,” het Mokhema gesê. “Julle het weer lewe in die ouetehuis ingebring.”

Joubert het ʼn beroep op die publiek gedoen om betrokke te raak by die weerloses in ʼn mens se omgewing. “Besoek ʼn eensame bejaarde, vertroos ʼn verwaarloosde kind of glimlag vir ʼn vreemdeling.”

Vir meer inligting oor Helpende Hand se projekte om bejaardes te ondersteun, besoek www.helpendehand.co.za of kontak Lizelle Joubert by 012 644 4390. Om die projek te ondersteun SMS “omgee” na 38969 (SMS kos R10).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Maria ·

Baie baie ……..dankie helpende hande projekte julle geseen!

Netekke ·

Dit is so dierbaar van julle Solidariteit Helpende hand. Ek glo die ou mensies en kindertjies het die tyd ewe veel geniet.
Mag julle geseënd wees om dit vir nog baie jare te doen.

Elsa ·

As mens die wysheid, eensaamheid en behoefte aanskou van kleuters en bejaardes. Dit tesame met die les van respek vir ons bejaardes en stories en tyd wat bejaardes het om aan kleuters te gee, behoort daar n kleuterskool by elke ouetehuis gebou te word. Dit sal ons mensdom red.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.