Foto’s: Knysna-brande ʼn jaar later

knysna-jaar-later-madre-familie

Madré Johnston se familie van links haar suster Linda Truscott, pa Gert en ma Trien van der Merwe staan op die plek waar die Johnston egpaar se huis was. Foto: Reint Dykema.

’n Jaar nadat Madré, Tony en jong Michael Johnston in die verwoestende Knysna-brande dood is, het van hul familielede op die plek bymekaargekom waar hul liggame gevind is.

“Ons wou daar gewees het op die tyd en dag wat hulle gesterf het. Ons het daar gesit waar hulle gevind is om te sien of hier nog iets van Madré en Tony oor is, ʼn konneksie, maar hier is niks nie. Hier is niks van hul drome oor nie. Dit is net bosse en alles toegegroei, selfs die pad waar hul liggame gekry is, lyk nie meer na ʼn pad nie.

“Dit het my eintlik ʼn mate van afsluiting gegee. Ek weet hulle is almal in die hemel en kyk daagliks af op ons,” het Linda Truscott, Madré se suster, gesê.

Sy speel oop kaarte en erken dat die familie ʼn jaar later steeds sukkel om die Johnston-gesin se dood te verwerk, maar sê hulle probeer maar vir mekaar sterk wees.

“Dit moeilikste is seker maar die manier waarop hulle dood is. Dit gee my nog sommige nagte nagmerries as ek daaraan dink.”

Maroela Media het vroeër berig die Johnstons is dood nadat hulle vermoedelik van die brand probeer vlug het, maar deur die vlamme oorval is. Madré was ook agt maande swanger met die Johnstons se tweede kind. Die gesin se huis en voertuie is ook in die vlamme verwoes.

Nog vier mense is dood in die verwoestende brand wat in 12 dae deur die Knysna-omgewing woed het. Sowat 700 huise en ander strukture is verwoes en tussen 10 000 en 15 000 ha grond is afgebrand terwyl 5 000 mense uit die omgewing in dié tyd na veiligheid geneem is.

Volgens die organisasie Working on Fire, was daar 485 brandbestryders met, onder meer, 11 brandweerwaens, vier helikopters en twee 802 AT-waterbommers op die toneel om die brand te bestry toe dit op sy ergste gewoed het.

tony-madre-johnston

Tony, Madré en Michael Johnston. Foto: Facebook

Linda sê Madré en Tony se woning in die bos tussen Sedgefield en Karatara was hul droom.

“Jy weet, ons almal het ʼn bietjie van ons bloed en sweet in Madré-hulle se droom help sit. Ek het self gehelp om daardie keermuur op hul erf te bou en ons almal het gehelp om die vloere en mure van hul huis in te sit. Ons het hulle gehelp om hul droom te bou, die plek was ons stukkie hemel op aarde.”

Sy glo Madré en Tony se liefde vir mekaar en hul bereidwilligheid om hard vir hul droom werk terwyl hulle voluit bly lewe het, het haar laat besef dat ʼn mens dieselfde moet doen.

“Jy moet seker maak jy is gelukkig in die hede terwyl jy aan jou drome bou.

“My suster was die een wat met almal kontak gehou het en vir almal foto’s en video’s aangestuur het. Ons gebruik dit nou om hul herinneringe lewendig te hou.”

Linda sê die ondersteuning van familie en vriende wat steeds gereeld boodskappe vir die familie op WhatsApp en ander sosialemediaplatforms stuur, hou hulle staande.

‘n Boom wat omgeval het op die presiese plek waar Tony, Madré en klein Micheal Johnston gesterf het op 06:30 op 7 Junie 2017. Die foto is 07:30 Donderdag 7 Junie 2018 geneem. Foto: Reint Dykema.

“Dit, en ons geloof in God dra ons deur die moeilike dae. Ek het nou weer gesien hoe baie Madré en Tony vir almal hier beteken het. Hulle dood het ʼn gat in hierdie gemeenskap gelaat.”

Linda sê as daar ʼn stelsel ingestel kan word wat verhoed dat iemand ooit weer op dieselfde wyse sterf, sal sy weet haar suster se gesin se dood was nie onnodig nie, “en dan kan daar darem nog iets positiefs uit dit alles kom, dit sal my beter laat voel en dit is ook wat hulle sou wou gehad het”.

Dit is iets wat ook deur dr. Wallace Vosloo beaam word. Vosloo is sedert die brand op ʼn missie om te verseker die waarheid oor die ontstaan van die Knysna-brand word aan die lig gebring.

“My fokus hier is om die waarheid te laat seëvier in Knysna. Mense moet weet wat het die brand veroorsaak, hoekom dit buite beheer geraak het en dan moet daar verantwoordelikheid geneem word.

“Ons moet seker maak dat ander mense nie dieselfde foute maak nie en prosesse moet verander word sodat dit wat met Madré en Tony gebeur het, nooit weer gebeur nie.”

Vosloo en sy vrou, Karin, woon eintlik in Stellenbosch, maar hulle was besig om hul aftreewoning in Knysna te bou.

“ ʼn Regte blokhut in die woud en ons het al ons aftreegeldjies daarin belê, ek het selfs al ʼn werkswinkel gehad.

“Ons het alles verloor in die brand, selfs my ou tradisionele ossewa en van die goedjies daarop wat in Groot Trek saamgetrek het. Dit was die goed wat ek gebruik het om vir kinders by ekspo’s te leer van hoe mense vroeër oorleef het.”

Dr. Wallace Vosloo staan in die onmiddelike omgewing waar die brand in Elandskraal begin het, wat die grootste skade tydens verlede jaar se brande in Knysna aangerig het. Foto: Reint Dykema.

Vosloo sê as daar een ding is wat hy uit die hele tragedie geleer het, is dat ʼn mens se werklike rykdom in mense lê.

Hy vertel van die vriende wat vir hom ʼn nuwe ossewa geskenk het, iemand wat aangebied het om dit reg te maak en selfs heelpad na die Kaap te sleep. Hy vertel ook van die prokureur wat aangebied om die hele Elandskraal-gemeenskap gratis met regsadvies te help.

“Ouens soos AfriForum wat iemand soos dr. David Klatzow aangestel het om ʼn verslag saam te stel oor die ware ontstaan van die brand en die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) wat self ingespring het en gaan kyk het na die oorsprong van die brand en wat ons daaruit kan leer.

“Ons het nie hierdie mense se hulp gevra nie of gesê hulle moet iets doen nie – dit is net mense wat goed laat gebeur omdat hulle opreg belangstel om te help.

“ ʼn Mens hoor altyd soveel negatiewe stories, maar hierdie is ʼn positiewe storie van hulp. Dit help ons om hierdie situasie te verwerk.”

Vosloo is vol vertroue dat die WNNR se verslae saam met verdere navorsing sal help om ʼn stelsel te ontwerp wat weerligstrale wat veldbrande oor Suid-Afrika kan veroorsaak, met ʼn satelliet te monitor.

“So kan ʼn alarm betyds by die plaaslike brandweerstasie in die betrokke omgewing afgaan en waarsku ʼn veldbrand het ontstaan voordat ʼn mens dit nog hoef te sien. Ons kan dié proses instel en die nodige vroegtydige reaksietyd regkry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Israel ·

Ek weet nie of maroela media weer my kometaar sal delete nie maar ja die brande was tragies, ek hou al vakansie vir 24 jr daar vir n maand elke keer, eers was dit die eiendomsmark wat getuimel het, ook om n rede en toe die brande , Knysna sal my hart se punt bly, ek was al in meer as 45 lande maar Knysn se gelyke kry jy nie maklik nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.