Foto’s: Kolwyntjies bring hoop vir kankerpasiëntjies

Cupcakes for Hope vier Saterdag nasionale kolwyntjiedag. (Foto: Verskaf)

“Ons bak om ʼn verskil te maak in kankerpasiëntjies se lewens.”

Só sê Sandy Cipriano, stigter van die Cupcakes for Hope-organisasie, wat volgende Saterdag ter viering van nasionale kolwyntjiedag in 89 winkelsentrums reg oor die land kolwyntjies gaan aanbied ten bate van kinders met kanker.

“Ons verkoop tegnies nie die kolwyntjies nie. Ons vra ’n R10-donasie in ruil vir ʼn heerlike, kleurvolle kolwyntjie,” sê Cipriano.

Weldoeners van jonk en oud reg oor die land, in samewerking met die Cupcakes for Hope-organisasie, span kragte saam om vir die agste agtereenvolgende jaar kolwyntjies te bak vir jong kankerpasiëntjies.

Cipriano verwys na dié weldoeners as “kolwyntjie-engele” wat hulle harte oopmaak en vrywillig deel raak van dié inisiatief. “Enigiemand kan betrokke raak en help om kolwyntjies te bak of te verkoop. Daar is slegs een voorwaarde. Hulle moet ʼn geheime bestanddeel gebruik – en dit is liefde.”

Dié nasionale kolwyntjiedag is sowat agt jaar gelede van stapel gestuur toe die Here dit op Cipriano se hart gelê het om méér bewusmaking te skep oor kinders en gesinne wat ʼn stryd teen kanker voer. Dit is tóé dat dié kolwyntjie-geldinsamelingsinisiatief ontstaan het.

Verlede jaar het dié liefdadigheidsinisiatief daarin geslaag om sowat R2,1 miljoen met kolwyntjies in te samel. Volgens Cipriano onderneem hulle om dié jaar nóg meer in te samel.

Cupcakes for Hope breek die wêreldrekord met 21 000 kolwyntjies. (Foto: Verskaf)

In 2011 het Cipriano en haar span ʼn nuwe wêreldrekord opgestel vir die meeste kolwyntjies wat nóg aangebied is. Met die hulp van die gemeenskap het hulle met 21 000 kolwyntjies die wêreldrekord oortref.

Cupcakes for Hope is in 2012, as nie-winsgewende organisasie geregistreer met die hoofdoel om bewusmaking te skep en geld in te samel vir kinders met kanker. Onder leiding van Cipriano ondersteun dié organisasie tans sowat 70 kinders en hul gesinne. “Ons help dié gesinne dra aan mediese koste asook hulle dag-tot-dag uitgawes soos vervoer of kos.”

Behalwe vir die kolwyntjiedag hou dié organisasie ook regdeur die jaar ander geldinsamelingsprojekte vir kankerpasiëntjies.

Met Oktober as kankerbewusmakingsmaand om die draai het Nadine Geldenhuys Woensdag aan Maroela Media vertel hoe sy en haar tienjarige dogtertjie, McKayla, as kolwyntjie-engele dié jaar betrokke geraak het.

“My dogtertjie is op die ouderdom van vier jaar met nierkanker gediagnoseer. Haar pappa het sowat twee jaar gelede sy een nier vir haar geskenk. Sy was vir vier jaar op dialise. Ons het die afgelope ses jaar ʼn ongelooflike pad met die Cupcakes for Hope-organisasie gestap. Hulle het ons in ons donkerste uur van nood bygestaan. Cipriano en haar span het harte van goud. Ons wil dié jaar graag vir hulle iets teruggee deur self kolwyntjies te bak om ook ander gesinne te help met hulle kankerstryd. Ek en my man bak al saam en ons gaan Saterdag ons bakvernuf by die Kolonnade-winkelsentrum in Pretoria wys,” vertel Geldenhuys.

Volgens Cipriano bring die kolwyntjiedag mense en gesinne bymekaar deur saam te bak om ander mense te help.

“As jy lief is vir bak en ʼn hart van goud het, kontak ons asseblief en raak betrokke. Ons het jou bakvernuf nodig!”

Besoek gerus Cupcakes for Hope se webblad en vind uit hoe jy betrokke kan raak. Loer ook gerus na dié lys van winkelsentrums waar die kolwyntjie-engele hulle kolwyntjies gaan aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Sterkte en mag julle van krag tot krag gaan. Genade en seén word jullectoegebid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.