Foto’s: Kusskole verwelkom gr. 1’s

Laerskool Hendrik Louw vier hul nuwelinge (Foto: Verskaf)

Hoewel skole in die binneland reeds ʼn week aan die gang is, het duisende hoopvolle haasbekkies van die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Noord-Kaap en KwaZulu-Natal Woensdagoggend die eerste merk in hul gr. 1-boeke gemaak.

Joey Benn, ʼn gr. 1-onderwyser van Laerskool Oranje-Noord in Upington in die Noord-Kaap, het Woensdag aan Maroela Media gesê die nuwelinge het hul eerste dag “sonder trane en met ʼn gierige brein” aangepak.

“Hulle het met blink ogies en breë glimlagte aan alles deelgeneem. Hulle het voluit atletiek geoefen en soos modelle vir elke foto geglimlag,” sê Benn.

Nicole Scheepers, ʼn mamma van dieselfde skool, vertel trots dat haar kind nie eens bang was vir die nuwe uitdaging nie, net opgewonde. “Vandag is ek ʼn baie trotse mamma van ʼn gr. 1-seuntjie, ek is dankbaar dat ons tot hier gekom het.”

Nicole en Wim Scheepers saam met hulle gr.1 seuntjie WJ Scheepers (Foto: Verskaf)

ʼn Paar skole aan die kus het foto’s van die eerste skooldag met Maroela Media gedeel:

Laerskool Hartenbos

Dolfie die Dolfyn, Laerskool Hartenbos se gelukbringer, het Woensdag ongeveer 150 graadeens en hul trotse ouers by dié laerskool verwelkom.

Laerskool Hendrik Louw in die Strand

Vyf klasse vol blink ogies, gretig om te leer, het vandag vir die eerste keer hul gr. 1-boeke oopgemaak.

Laerskool Oranje-Noord in Upington

134 nuwe gesiggies het vandag by Laerskool Oranje-Noord met hul skoolloopbaan begin.

Gelofteskool in Durban

Die splinternuwe leerders het veral daarna uitgesien om pouse saam met hul maatjies te speel.

(Foto: Verskaf)

Laerskool George-Suid

Laerskool George-Suid het vandag hul hekke (en harte) vir honderde haasbekkies oopgemaak wat nie meer kon wag om hul nuwe onderwysers en klasmaats te ontmoet nie.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christine ·

Pragtig! Geniet jul skoolloopbaan en spring weg met 12 jaar se harde werk, dissipline en toegewydheid! Voorspoed vir die ouers!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.