Foto’s: KZN-dorpe sonder kos, medisyne

Die Wartburg-supermark. (Foto: Verskaf)

Kleiner dorpe in KwaZulu-Natal is lamgelê deur voortslepende geweld, plundery en brandstigting wat Vrydag in dié provinsie uitgebreek het.

Tientalle plase is sedertdien in ligte laaie en in sommige gebiede is die winkelrakke leeg, omdat verskaffers nie by dorpe kan uitkom nie.

Foto’s en video’s wat deur ooggetuies aan Maroela Media verskaf is, wys onder meer hoe ’n plaaslike supermark in Wartburg, sowat 27 km noord-oos van Pietermaritzburg, in vlamme gehul is. Verskeie winkels en apteke is in dié middedorp verwoes en ’n OTM is opgeblaas.

Die Spar in Dalton. (Foto: Verskaf)

Udo Lütge, ’n pastoor by die United Evangelical Lutheran Congregation (UELC) in Wartburg, sê hoewel die situasie Woensdag ietwat bedaar het, is baie skade in dié dorp sowel as omliggende dorpe aangerig.

 

“Een van die grootste probleme wat inwoners op dié stadium ervaar is ’n tekort aan verskaffing.

“Daar is geen winkels oor waar kos gekoop kan word nie en medisyne kan nie bekom word nie, wat ’n baie groot probleem is. Ons het twee ouetehuise in die omgewing waarvan een Woensdag hulle inwoners se medisyne sou gaan optel.”

Die binnekant van die Spar in Dalton. (Foto: Verskaf)

Hy en sy gesin woon op die kerkperseel naby die middedorp en het as voorsorgmaatreël hul huis ontruim. Volgens hom is die kerkgronde van die min eiendom in die dorp wat nie deur plunderaars beskadig is nie.

 

Lütge werk nou saam met plaaslike strukture en inwoners in die omgewing om die huidige situasie te beredder.

“Die hele uMshwati-munisipaliteit, wat onder meer Wartburg, Dalton en New Hanover insluit, het geweldig baie uitdagings in die laaste 48 uur beleef.”

“Die Wartburg-supermark en die Build It is heeltemal geplunder en afgebrand. Die Spar is ook geplunder, maar pogings om dit aan die brand te steek was onsuksesvol, so gelukkig staan die gebou nog. Die ander winkels in die dorp is ook geplunder,” sê Lütge.

’n OTM wat in Wartburg opgeblaas is. (Foto: Verskaf)

Hy sê voorts Dalton, wat sowat 35 km suid van Greytown geleë is, is nog harder getref en dat bykans al die geboue en winkels geplunder en beskadig is, waaronder die enigste apteek in die omgewing.

“Die Farmers Coop is die enigste maatskappy in Dalton wat nié geplunder is nie danksy verhoogde sekuriteit.”

“Die groter meerderheid van ons dorp en middedorpe is platgeslaan en gebrand,” sê Lütge.

Louis Engelbrecht, eienaar van die Spar in Dalton, sê plunderaars het vier keer probeer om dié winkel aan die brand te steek.

“Die plek is leeg gesteel en erg beskadig. Al wat hulle vir my oorgelos het is ’n sak kat-sand en vier sakke sonneblomsaad.”

Winkels in Wartburg is heeltemal verwoes. (Foto: Verskaf)

“Die gemeenskap het ons egter Woensdag geweldig ondersteun om die plek op te ruim. Dit lyk amper weer soos ’n winkel, hoewel dit dolleeg is.”

 

Engelbrecht besit ook die Wartburg-supermark, wat heeltemal afgebrand is.

“Daar is niks oor nie.

“Ons weet egter dat God in beheer is. Ons sal nie voor die duiwel buig nie, maak nie saak wat nie.”

Lütge sê ander sleutelpunte in die omgewing is ná afloop van die aanvanklike plundery deur hoofsaaklik boere in die omgewings bewaar.

 

“Dit sluit die UCL-maatskappy en sy meule in.” Lütge se broer, Rolf, is die uitvoerende hoof van dié maatskappy.

Die Wartburg-supermark is afgebrand. (Foto: Verskaf)

Indien dié meule vernietig word, sê Lütge, sal dit reuse-ekonomiese gevolge vir die gemeenskappe inhou.

Lütge sê verskeie suikerrietplase in die omgewings van Wartburg, Bruyns Hill, New Hanover, Dalton en Appelsbosch is aan die brand gesteek en dit het reeds tot miljoene rande se verliese gelei.

“Ons het die afgelope twee aande meer as 70 brande in die distrik beleef. Die boere het hulleself sedertdien baie goed georganiseer om onder meer eiendom te beskerm en brande te blus.”

Maroela Media het ’n navraag in dié verband by die polisie ingedien, maar nog nie terugvoer ontvang nie.

Rolf sê boere het reeds groot gedeeltes van Dalton opgeruim en padblokkades en waakstasies opgerig.

“Die polisie is ook op die toneel en moniteer die situasie. Weermaglede was gisteraand in die dorp waar hulle oorblywende plunderaars verjaag het.”

Howick

Die gemeenskap van Howick is ook platgeslaan deur plundering wat in dié dorp plaasgevind het.

Slegs enkele winkels was Woensdag oop en mense het onder meer in toue gestaan om brandstof, kos en ander benodigdhede te kry.

Volgens Therusha Govindsamy, voorsitter van die plaaslike GPF in Howick, is die situasie “vir nou kalm”, maar is verkeer na en van die dorp uiters druk.

“Ons is op dié stadium bekommerd oor ongelukke aangesien die verkeer baie erg is. Ek dink mense probeer maar kry wat hulle kan.

Opruiming het Woensdag in Howick begin. (Foto: Verskaf)

Govindsamy is bekommerd dat daar ʼn tekort aan brandstof en ander noodsaaklike items kan ontstaan. “Die Greendale Spar het na wat ek verneem beperkings op aankope geplaas om te verseker dat daar genoeg voorraad vir al die inwoners is. Dié Spar is gelukkig nie geplunder nie danksy verskerpte sekuriteit.”

 

Maroela Media het vroeër berig ʼn vrees dat brandstof kan opraak, het paniekaankope reg oor die land tot gevolg gehad.

Wat wel ’n riem onder die hart is, sê Govindsamy, is om te sien hoe die gemeenskap hande vat om die dorp op te ruim en mekaar by te staan.

“Almal het werklik saamgekom om mekaar te ondersteun en te help waar hulle kan. Dit is baie spesiaal.”

Shelly Beach en Port Edward

Volgens Joseph Renaud, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, is die Shelly Centre-winkelsentrum in die kusdorp Shelley Beach tans gesluit aangesien daar ’n verhoogde veiligheidsbedreiging in die omgewing is.

Inligting wat op veiligheidsgroepe gekommunikeer is dui aan die Clicks en Pick n Pay in dié dorp ook hulle deure gesluit het.

Verder blyk dit dat plundery steeds in Port Edward voortgaan en talle winkels, waaronder die Build It, Boxser, Caltex is reeds vernietig.

Luidens Renaud se inligting is slegs die Sentra-supermark tans oop en voorraad beperk.

Paaie

Die N3-hoofweg tussen Cedara en Harrismith sowel as Harrismith en Howick is steeds gesluit, aangesien dit nog nie veilig is om te heropen en nog nie volledig opgeruim is ná betogings hier nie.

Die N2 naby Queen Naledirylaan in Durban. (Foto: Twitter)

Die N3-hoofweg tussen Harrismith en Heidelberg (Gauteng) is tans oop.

Paaie in Port Edward, Leisure Bay, Tongazi, Izingolweni vanaf Port Edward, Nzimakwe, Margate en die Munster-kruising op pad na Port Shepstone is ook oop vir verkeer.

Dit blyk uit plasings op sosiale media dat die N2 in die omgewing van Queen Nandirylaan in Durban wel tans ontwrig word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Sarel ·

Voor julle opruim nooi vir Cele.om te kom.kyk…en te help opruim

Tiptol ·

Indien julle sukkel om hom im die hande te kry, gaan soek op die strand.

Spook ·

Moenie die Cele karakter nooi nie. Hy sal daar aankom met n kompanie lyfwagte en almal in die dorp laat arresteer vir n onwettige byeenkoms

Sarel ·

Studente vzn die Polidiekollege en Weermaglede moet gaan help om die dorpe op te ruim.

Hennie ·

As ek die Ketting winkels is sluit ek my besigheid vir altyd in daai gebiede , dan moet hulle maar sien waar koop hulle die kos wat hulle daagliks nodig het !!

Magda ·

Kos en midesyne wat julle soek, soek maar lekker, di klomp dink ni as di dag van more ni. Geen salf te smeer aan julle KLOMP kriminele nie.

Danie ·

Hou die winkels vir so moontlik toe. Wat jy saai moet jy maai

Mieke ·

Ek is net baie jammer vir die onskuldiges wat nou onder die swaar las van tekort moet voortgaan.

Kokerboom ·

Het ons nie nou die draaipunt bereik waar burgerretegroepe,, die handel en privaatsektor strategiee vir beveiliging van dorpe en sleutelpunte in plek stel. Dit om sulke ekonomiese chaos te voorkom of te verklein. Dinge gaan vorentoe minder rooskleurig lyk. Ons moet dinge SELF doen(ala Afriforum).Indien nie het ons GEEN toekoms in die land

Marlene ·

Wel, dis wat gebeur as jy alles afbrand! Nou moet onskuldige mense daaronder ly

Louise ·

Ja maklik om te se hou winkels toe, maar daar is onskuldige mense ook wat hierdeur geraak word… Die polisie moes strenger optree en saamgestaan het! Hierdie geweld in KZN kom nie van gister af nie. Voorheen was daar ookgeweld, wat die polisie nie kon hanteer nie en trug gestaan het. DAAR het hulle al n president geskep en gese die KRIMINELE KOM WEG met moord met bundu geweld! Daardie bendes in KZN moes die polisie lankal vasgevat het!

Tokkel ·

Vra vir Malema vir Kos en Zuma se dogter vir medisyne! Laat hulle self hul gemors kom skoonmaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.