Foto’s: Lalela terug op eie bodem

Lalela Mswane is terug op eie bodem nadat sy in Pole as Mej. Supranasionaal gekroon is. (Foto: Indirect Media)

Die Suid-Afrikaanse skoonheid, Lalela Mswane, is terug op eie bodem nadat sy op 15 Julie in Pole as die nuwe Mej. Supranasionaal aangewys is.

Die 24-jarige Mswane het teen verteenwoordigers van 69 ander lande meegeding om die titel. Chanique Rabe van Namibië het Mswane aan die einde van die geleentheid as haar opvolger gekroon.

Mswane, die eerste swart vrou wat in die geskiedenis van dié skoonheidskompetisie as wenner gekroon is, is Vrydagoggend by die OR Tambo-lughawe deur aanhangers begroet.

“Die afgelope twee weke in Pole voor my terugkeer na Johannesburg, het my die kans gebied om alles te laat insink,” het Mswane op ʼn mediakonferensie gesê.

“Ek is dankbaar en deel die kroon met almal in ons land. Ek is die eerste swart vrou om dié titel te wen – wat ʼn tyd om in te leef!”

Mswane was regdeur die kompetisie een van die voorlopers en het die beoordelaars beïndruk met haar nasionale kostuum wat hulde aan haar Zoeloe-erfenis gebring het.

“Ek bars van nasionale trots,” het Mswane gesê.

Mswane het verlede jaar derde geëindig in die 70ste jaarlikse Mej. Heelal-kompetisie in Eilat, Israel, wat deurtrek was met teenkanting van verskeie drukgroepe, politieke partye en selfs die Suid-Afrikaanse regering oor haar deelname hieraan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.