[Foto’s] Land se beste spellers in Afrikaans wen speel-speel

Graad 2-wenners Foto: US Woordfees en WOW

Graad 2-wenners Foto: US Woordfees en WOW

Die beste Afrikaans spellers in die land woon in die Wes- en Noord-Kaap. Met 19 uit die 30 wenners in die nasionale ronde van die Sanlam WOW Spelfees wat Saterdag in Stellenbosch gehou is, het die Wes-Kaap 11 van die wenners opgelewer terwyl agt uit die Noord-Kaap kom.

Al drie wenners in Graad 10 is uit die Wes-Kaap, terwyl die wenners in Grade 1, 2, 8 en 9 almal Noord-Kapenaars is.

“Vanjaar se kompetisie was beslis ’n  hoogtepunt,” het ’n opgewonde Fiona van Kerwel, projekbestuurder vir die WOW-projek, gesê. “Dis die vierde jaar wat ons ’n nasionale kompetisie aangebied het en elke keer groei ons in getalle én in kwaliteit.”

Sowat 250 kinders van ongeveer 100 skole het Saterdag byeengekom om hul spelvermoeëns te meet. Dit volg op ’n reeks uitdunne wat gedurende die jaar regoor die land aangebied is.

“Meer as 6 000 kinders het van skool-, kring-, distrik- en provinsiale vlak deelgeneem om ons van dag tot hier te bring,” het Saartjie Botha, direkteur van die US Woordfees (wat die WOW-projek insluit), tydens die prysuitdeling gesê.

Die gr. 3-wenners: Rikus van Dyk, Jeane Scheepers en Kelly-Ann Damon.

Die gr. 3-wenners: Rikus van Dyk, Jeane Scheepers en Kelly-Ann Damon.

Die leerders se uitsonderlike vermoeë om reg te spel het die dag se program met sowat ’n uur oor die beplande tyd laat loop omdat verskeie grade net nie tot ’n wenner kon kom nie. Die drie finaliste per graad uit elk van die nege provinsies het in rondes gespel. Sodra ’n fout begaan is, het die deelnemer uitgeval. Selfs die Graad 2- en 3-leerders het byna drie uur aaneen gespel voordat ’n wenner aangewys kon word.

Frank Louw, van die hoofborg, Sanlam, se afdeling vir Korporatiewe Sosiale Betrokkenheid, het gesê hulle steun die projek omdat dit net nóg ’n manier is om WelvaartmeestersTM te skep.

Wenners het elkeen ’n kontantprys en medalje van Sanlam ontvang, asook ’n boekprys van NB Uitgewers. Die eersteplek-wenners het ook elkeen ’n iPad gekry. Ander borge sluit in KykNET, die Dagbreek Trust en Het Jan Marais Nationale Fonds.

Die Sanlam WOW Spelkompetisie is nou in sy negende jaar. WOW, ’n akroniem vir Woorde Open Wêrelde, het ten doel om ’n liefde vir lees en woorde by leerders te kweek. Die projek help ook jaarliks sowat dertien behoeftige leerders aan die Universiteit van Stellenbosch deur die beskikbaar stel van aanvullende beurse.

Die Sanlam WOW Spelfees vir 2016 het reeds geopen. Besoek gerus www.woordfees.co.za en klik op WOW.

Nasionale wenners per graad
Graad 1
1. Jayden Botha Alpha Primêr De Aar, Noord-Kaap
2. Wayde Scheffers Alpha Primêr De Aar, Noord-Kaap
3. Stefan Stieger Gansbaai Laerskool Gansbaai, Wes-Kaap

Graad 2
1. Kaylin Schmidt St. Cyprians Primêr Nababeep, Noord-Kaap
2. Stella Malan Jan van Riebeeck L/S Kaapstad, Wes-Kaap
3. Dirk van der Berg Failand Laerskool Randburg, Gauteng

Graad 3
1. Jeane Scheepers Curro Heuwelkruin Polokwane, Limpopo
2. Kelly-Ann Damon Saxonsea Primêr Atlantis, Wes-Kaap
3. Rikus van Dyk Dirkie Uys Laerskool Moorreesburg, Wes-Kaap

Graad 4
1. Alexa Viljoen Worcester-Noord L/S Worcester, Wes-Kaap
2. Skyla Williams Springbok Primêr Springbok, Noord-Kaap
3. Sonika Brits Laerskool Mooirivier Potchefstroom, Noordwes

Graad 5
1. Megan Oosthuizen Laerskool Kragbron eMalahleni, Mpumalanga
2. Ruben Maré Buffelsjagrivier Primêr Buffelsjagrivier, Wes-Kaap
3. Mikail Kohler Menlopark Laerskool Pretoria, Gauteng

Graad 6
1. Schalk Viljoen Fairland Laerskool Randburg, Gauteng
2. Angela Schindehutle Stellenbosch Laerskool Stellenbosch, Wes-Kaap
3. Dakeysha-Lee van Wyk Dr. Izak van Niekerk Springbok, Noord-Kaap

Graad 7
1. Marelle Putter George-Suid Laerskool George, Wes-Kaap
2. Sigourney van Heerden Kleinzee Primêr Kleinzee, Noord-Kaap
3. Martin Landman Laerskool Mooirivier Potchefstroom, Noordwes

Graad 8
1. Jonathan Faro St Cyprians Primêr Nababeep, Noord-Kaap
2. Bernice Meiring H/S Louis Trichardt Louis Trichardt, Limpopo
3. Saskia Bowman Helpmekaar Kollege Johannesburg, Gauteng

Graad 9
1. Bri-Ann Cloete Hoërskool Concordia Concordia, Noord-Kaap
2. Miché Nel Hoërskool Sentraal Bloemfontein, Vrystaat
3. Zane Grobler HTS Middelburg Middelburg, Mpumalanga

Graad 10
1. Jake van Dyk Bellville Hoërskool Bellville, Wes-Kaap
2. Petru Pool Vredendal Hoërskool Vredendal, Wes-Kaap
3. Matthys Carstens Durbanville Hoërskool Durbanville, Wes-Kaap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stuart ·

Mooi so outjies – ek dink Maroela kan jul aanstel om sommiges wat hier kommentaar lewer met hul spelling te kom help!

Ludwig ·

Wonderlik! Ek hoop jul liefde vir jul taal groei met rasse skrede soos julle ouer word! En ek hoopl veral dat julle nie sal verval in die soort mengeltaal waarin so baie jonges vandag verval nie.

Elfie ·

Ludwig – ja daardie aaaaaklige en simpele sms-taal wat mense selfs op forums soos hierdie (waar daar tog nie beperkte spasies is of hul moet betaal daarvoor nie), gebruik word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.