[Foto’s] Land se mooistes in Pta vir Mej. SA-diamantjubileum

Margaret Gardiner, Rolene Strauss, Demi-Leigh Nel-Peters, Anneline Kriel Bacon. Foto: Yolanda van der Stoep

Die Mej. Suid-Afrika-diamantjubileum, wat Sondag in die Sun Arena by die Time Square Casino in die ooste van Pretoria plaasvind, beloof om ʼn groot affêre te wees wanneer ses dekades van merkwaardige vroue gevier gaan word.

Die organiseerders van die skoonheidskompetisie, wat vanjaar vir die 60ste keer aangebied word, het geen moeite ontsien om van dié geleentheid ʼn skouspel te maak nie.

Nagenoeg 40 voormalige titelhouers van Mej. Suid-Afrika gaan die geleentheid bywoon, insluitend Penny Rey Coelen, Mej. Wêreld 1958; Anneline Kriel Bacon, Mej. Wêreld 1974; Rolene Strauss, Mej. Wêreld 2014; Margaret Gardiner, Mej. Heelal 1978; en Demi-Leigh Nel-Peters, die huidige Mej. Heelal.

Die skouspel, wat deur Bonang Matheba aangebied gaan word, gaan regstreeks van 17:00 tot 19:00 op M-Net en Mzansi Magic uitgesaai word.

Die aanwys van die wenner gaan vanjaar anders verloop as voorheen.

Waar daar voorheen drie finaliste gekies is waarvan een as wenner en twee as eerste en tweede prinsesse aangewys is, gaan daar vanjaar slegs twee finaliste gekies word.

Die een word aangewys as Mej. Wêreld SA en die ander een as Mej. Heelal SA. Die gekose wenner sal Suid-Afrika dan in die onderskeie internasionale kompetisies verteenwoordig.

Daar kan egter steeds slegs een amptelike Mej. SA wees. Daarom sal die twee gekose vroue ʼn beoordelaarsvraag moet beantwoord en na gelang van hul antwoorde sal die algehele wenner aangekondig word.

Die organiseerders het dié besluit geneem om die kompetisie en sy deelnemers se blootstelling op internasionale vlak te verbreed. Voorheen het die organiseerders van Mej. SA self besluit vir watter een van die twee internasionale kompetisies die wenner geskik is, maar Suid-Afrika sal vanjaar by albei dié kompetisies verteenwoordig kan word.

Kyk hier na vanjaar se deelnemers.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Onnie ·

Sjoe is dit net my tablet, of is Margerate Gardner se gesig bietjie oranje. Selftan?!?

Iemand ·

Annelien Kriel is vir my so mooi en so naturlik. As mense te veel dinge begin doen om hul gesigte te laat “plat syryk” dan lyk hul vir my so desperaat en dis nie mooi nie. Annelies straal van gesondheid mens kan sien tyd het verloop, maar dit was tyd wat kom met wysheid en selfvertroue.

Lizette ·

Hierdie vrouens is almal gebore met goeie gene en natuurlike skoonheid. Ek kan verstaan dat mens aan mens se skoonheid wil vasou. Maar vir my is dit ook mooi om te sien dat mense se gesigte ‘n storie vertel (alhoewel my plooie my pla). Dis baie moeilik om n vrou te wees, ons word so hard geoordeel op hoe ons lyk, dat ons te min doen om mooi te kyk, of dat ons te veel doen…

mariaan ·

Ek sien ook die oranje kleur. As mens ouer word moet mens ook nie moulose rokke dra nie.

Lizette ·

Ag dis net gemeen. Met selfvertroue kan mens enige iets regkry. Miskien moet ons vrouens ophou om mekaar so af te kraak. Ons weet hoe dit voel om skaam te wees vir ons eie lywe, en dan wil ons ander vrouens laat skaam kry oor hul lywe, maar eintlik lyk ons almal soos wat ons moet lyk…

Cheryl ·

Stem 100% saam en asb tog, sny bietjie die hare dit pas glad nie meer by die ouderdom nie,dit was pragtig jare terug maar na 50 werk ‘n korter kapsel baie beter

JHC ·

n Dame wat haar hare af sny lyk altyd soos iemand wat opgegee op haar self(ongeag ouderdom)

Tinette ·

Margaret Gardiner lyk pragtig vir haar ouderdom (binnekort 60). Dis sommer twak dat ouer vroue kwansuis hul hare móét kort sny! Daar is niks onaantrekliker as die kort seunstyl kapsels waarmee meeste ouer vroue in S.A. rondloop nie. Dan word dit nog rooi gekleur. Aaklig. Los Margaret uit, sy lyk fantasties. As ek haar ouderdom word wil ek eerder soos sy lyk as ‘n vormlose kers in ‘n driekwart-mou pakkie met ‘n poenskop dankie!

Stokkies ·

Ouer vrouens met sulke lang uitgedroogte hare lyk nou maar net nie vars nie.. dis hoekom ouer vrouens dit kort knip.

Katerina ·

O Tinette ek het nou kliphard uitgebars van die lag,ek stem so absoluut saam met jou:-))))) Wow jy het dit nou perfek opgesom:-)))))!!

Karolis ·

Laat jou persoonlikheid eerder jou voorkoms aanhelp om goed te voel oor jouself.
Vergeet ander mense se menings teenoor jou.

Leser ·

Waar is Michelle Bruce? Sou graag ‘n foto van haar wou sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.