Foto’s: Liefde blom vir dié ‘Bachelor SA’-deelnemers

Marc en Marisia (Foto: Verskaf)

Al kon Marc Buckner nie ʼn toekoms sien saam met die meeste vroue wat aan sy seisoen van The Bachelor SA deelgeneem het nie, het dié deelnemers wat huis toe gestuur is wel liefde gevind, en die keer nié op ʼn realiteitsprogram nie.

Marc moes uiteindelik die keuse maak tussen Marisia van Wyk en Bridget Marshall tydens die laaste episode van The Bachelor SA se tweede seisoen. Hy het vir Marisia gekies en die twee was vir ʼn paar maande saam. Hulle het later opgebreek, maar aanhangers bespiegel dat die twee onlangs vrede gemaak het en weer in ʼn verhouding is.

Bridget en Kobus (Foto: Instagram)

Bridget het ook aanbeweeg toe sy in September vanjaar met Kobus de Kock, ʼn voormalige Golden Lions-rugbyspeler begin uitgaan het. Die twee lyk al te liefies op sosiale media.

Andeline Weiland was eers geheimsinnig oor die nuwe man in haar lewe, maar het later op Instagram verklap dat dit Kris Barnard is.

Jessica Ross, wat die hele seisoen lank ʼn voorloper was, was onkant betrap toe Marc haar net voor die finale episode huis toe gestuur het. Jessica het wel in Julie vanjaar aangekondig dat Brent Thompson die nuwe man in haar lewe is, nadat hy vir haar ʼn boodskap op Instagram gestuur het.

“Jy het in my lewe ingekom in ʼn tyd wat ek gedink het ek is ver van gereed af om iemand nuut in te laat,” het sy oor Brent geskryf.

Jessica Calder en Stefanie Vangelatos het ook liefde gevind ná die program. Stefanie is steeds geheimsinnig oor wie presies die nuwe liefde in haar lewe is, al plaas sy nou en dan ʼn foto van hulle saam. Jessica lyk smoorverlief op die gimnasium-eienaar Beuke Hanekom en hulle spog gereeld met hul fietse lywe op Instagram.

Behalwe vir die tweede seisoen van The Bachelor SA-deelnemers is daar ook nuwe liefde vir die deelnemers van die eerste seisoen.

Lee Thompson het self ʼn nuwe vrou aan sy arm. Hy is baie geheimsinnig oor haar en het nog nie haar identiteit verklap nie. Hy plaas wel gereeld foto’s van hulle saam waar haar gesig versteek is en sê sy kom van ʼn klein dorpie af.

Nadat Jozaan Digue hartgebroke huis toe gestuur is in die laaste episode van die eerste seisoen, het sy ook weer ʼn glimlag op haar gesig, te danke aan die nuwe man in haar lewe. Kelly Teigan gaan ook deesdae uit met haar nuwe kêrel Thai Scott.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.