Foto’s: Luislang hou ambulans ‘gyselaar’

Die luislang se kop. Foto: Mapnya 911

Die luislang se kop. Foto: Mapnya 911

ʼn Ambulans van die Maponya 911-nooddiens in Phalaborwa, Limpopo, is sedert Donderdagoggend gestrand nadat ʼn luislang skuiling in die voertuig se enjin gaan soek het.

Jaco Gericke (51), ʼn paramedikus van Maponya 911, het aan Maroela Media gesê hy en ʼn kollega het omstreeks 07:00 reageer op ʼn oproep van die gemeenskapspolisiëringsforum. “ʼn Vrou wat daagliks in die gebied naby die Hendrik van Eck-lughawe, sowat 1 km van die Krugerwildtuin se hek af, met haar honde stap, het aangemeld dat die slang haar honde wou aanval,” het Gericke gesê.

“Ek het met die ambulans by die toneel aangekom en die luislang in die pad sien lê. Ek het stilgehou en probeer om dit te vang. Hy het na my gemik. Ek het hom aan sy stert probeer beetkry, maar hy was baie sterk en het onder die ambulans ingeseil en is in die enjin op.” Hy het gesê die slang is tussen 3,5 en 4 m lank en net so dik soos ’n band van die ambulans.

“Die slang het hom behoorlik goed daar ingewurm. Ek het hom aan sy stert probeer uittrek, maar hy wou glad nie beweeg nie. Ons vermoed ook hy het onlangs prooi geëet, want daar is ʼn duidelike bult in sy lyf.”

Gericke het ʼn plaaslike veearts ontbied. Hulle het die slang met ʼn verdowingsmiddel ingespuit sodat dit die reptiel hopelik sal laat ontspan en hulle dit kan loskry, maar dit was tevergeefs.

Zian van den Bergh, ʼn plaaslike slanghanteerder, het voorgestel dat almal moet wag dat die slang self uitkom.

“Zian se span is op pad en dan gaan ons die gebied afsper en in skofte wag totdat die slang uitkom,” het Gericke teen 16:00 gesê. “Ek gee nie om hoe lank ons gaan wag nie, ons wil nie die slang seermaak nie. Hy het reeds geringe snywonde op sy vel opgedoen weens die skerp punte in die enjin. As hy los kom, sal veeartse hom behandel en as hulle meen hy is reg, sal die slang in die Krugerwildtuin losgelaat word,” het Gericke bygevoeg.

Gericke het die publiek gerusgestel en gesê daar is nog ʼn ambulans van Maponya 911 wat wel gereed staan in die omgewing en op noodgevalle sal reageer.

Hy het geskerts dat hy graag sal wil sien dat die slang ʼn gelukbringersimbool vir die nooddiens word en sommer ook Maponya gedoop word.

Lees die opvolgberig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Wat ‘n goeie wenk!
Ek gaan met my volgende ‘hi-jack’ ‘n luislang gebruik . . .
(Dit moet egter ‘n makke wees).

Eliza-beth ·

DANKIE tog die arme dier is nie net weer doodgemaak nie! Dankie aan almal genoem in die berig!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.