Foto’s: Lydenburgers keelvol vir slaggate; herstel pad self

Foto: AfriForum

Foto: AfriForum

Die burgerregte-organisasie AfriForum se plaaslike tak in Lydenburg het vandag begin om slaggate in die dorp te herstel.

Dié projek sal in fases geskied en R325 000 beloop. “Die Lydenburg-gemeenskap is onder druk omdat die Thaba Chweu-munisipaliteit nie hul pligte nakom nie, maar omdat inwoners nie bereid is om toe te kyk hoe hulle dorp verval nie, neem hulle self eienaarskap van die probleme en is hulle bereid om hulle moue op te rol,” het Leon de Jager, voorsitter van AfriForum se Lydenburg-tak, gesê.

Volgens Tiaan Esterhuizen, bestuurder van gemeenskapstrukture by AfriForum, kry Mpumalanga se dorpe min ondersteuning en in sekere gevalle geen dienste van hul munisipaliteite nie.

Elarne Koertzen, ʼn Maroela-leser, het onlangs laat weet dat die paaie in Lydenburg baie sleg lyk. “Kameelperde kan in die gate in klim en die pad skool toe is ʼn nagmerrie. Die munisipaliteit gee nie ʼn duit om nie,” het Koertzen gesê.

Lydenburgers sal in die toekoms meer projekte aanpak soos om vullis self te verwyder, straatligte te herstel, veiligheidsstrukture te stig en strate skoon te maak.

“Gemeenskappe betaal belasting, en ons moet munisipaliteite tot verantwoording roep. Korrupte amptenare moet vervolg word en ongrondwetlike besluite moet beveg word. Dit is nie volhoubaar om net in die pad van verdere agteruitgang te staan nie, ons moet bou aan ’n pad van vooruitgang,” het Esterhuizen gesê.

Klik hier vir meer inligting oor die projek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

anet ·

Mooi so AfriForum, dit is wonderlik om sulke goeie nuus te hoor!. Welgedaan. As ons almal saam staan kan dit ‘n groot verkil maak. Ek gee nie om, om paaie te help regmaak oor naweke nie. Ek werk ongelukkig in die week, maar sal met graagte help, en ons kan werk skep vir die mense wat behoeftig is, en graag so ‘n ou vleisie in die pot wil gooi. Baie dankie aan julle

ryno ·

Ek haal my hoed af vir die wat nie net heeldag en aldag sit en mor nie, maar iets daadwerkliks doen aan hul probleme; ‘n boer maar ‘n plan. Wat my bekommer is dat inwoners in munisipaliteite in effek twee keer betaal vir ‘n diens. Waarom dan erf belasting, riool verwydering tariewe, huishoudelike afval tariewe ens. in die eerste plek betaal as die dienste nie gelewer word nie? Dit is soos om vir die aankoop van kruideniersware te betaal en dan weer daarvoor te moet betaal om dit te kan gebruik. Ek stem saam met Tiaan Esterhuizen; nie net is dit nie ekonomies volhoubaar nie, maar moreel verkeerd. Korrupte amptenare kry die groen lig dat hul kan voortgaan om inwoners maandeliks te plunder, aangesien hul werk deur die inwoners self gedoen word. Munisipaliteite moet verantwoordelik gehou word!

Francois ·

Ek het net een problem met die dat die inwoners dit self doen…MAAR, dit se vir die munisipaliteit, moenie bekommer nie ons sal dit doen, dan doen hulle al minder en minder en waarvoor betaal ons belasting? Dis om vir die bedelaar geld te gee, solank jy gee, so lank sal hulle bedel en nie werk soek nie.

Tom Theron ·

Lyk my meer na moue oprol en kyk hoe Jonas die werk doen?

CHRISTA ·

Die inwoners moet hulle belastings in ‘n trustfonds betaal en daaruit al die nodige herstelwerk en diensleweringskostes betaal.

Swanna ·

Stem saam. Neem die belasting wat vir die munispaliteit moet gaan en plaas dit in ‘n trust fonds en hou bewys daarvan. Neem dan daardie fondse en herstel die dienste wat gelewer moet word en so werk die onbekwamde, onopgeleide, onproduktiewe “vatcats” uit die munisipaliteit uit en neem weer die beheer oor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.