Foto’s: Ma en peuter herstel ‘wonderbaarlik’ ná hul erg brand

Charlene en Miandrie drie maande na die ongeluk (Foto: Verskaf)

Waarskuwing: Die foto’s in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Charlene Hiscock (22) en haar eenjarige dogtertjie, Miandrie Fourie, het wonderbaarlik herstel nadat hulle drie maande gelede ernstige brandwonde opgedoen het.

Vir Hiscock was die herstelpad tot dusver ’n tuimeltrein van emosies.

“Die eerste twee maande was ek erg emosioneel. Die merke en bruin vlekke in my gesig het my baie gepla. Ek voel nou baie meer positief oor als. Ek aanvaar nou die merke en is dankbaar vir ons herstel,” vertel Hiscock.

Sy is veral dankbaar oor Miandrie se wonde wat omtrent heeltemal genees het en die letsels aan haar wat nie meer so ooglopend is nie.

“Al wanneer haar letsels sigbaar is, is wanneer sy in die son is of huil en haar gesig rooi word. Anders lyk sy weer soos haar ou self.”

Miandrie se gesig en hand het gebrand en sy het blase op haar bene gebrand.

Haar ma het tweedegraadse brandwonde aan haar gesig, regterarm, -hand en maag opgedoen. Haar maag en arm het goed herstel, maar sy moes begin Julie ʼn operasie aan haar hand en oor ondergaan, wat goed afgeloop het. Hulle moes haar hand se vel afskraap waarna hulle ʼn veloorplanting gedoen het.

Haar oor het intussen goed herstel, maar sy sukkel steeds met haar hand. Haar hand se spiere het verkort en sy kon na die operasie nie haar hand ten volle gebruik nie. Sy moes ook vir fisioterapie gaan.

“Ek kon nie my hand oop en toe maak nie en ek het gesukkel om items vas te hou. Ek begin nou eers om ʼn bietjie krag in my hand terug te kry. Ek doen nou oefeninge wat die fisioterapeut vir my gegee het.”

Hiscock vertel sy moes tot verlede maand toe nog elke tweede dag by die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein wondbehandeling ontvang het. Miandrie het so twee keer vir behandeling gegaan.

Charlene en haar dogtertjie Miandrie na die brand (Foto: Verskaf)

“Ek smeer nou daagliks olies en salf aan my en Miandrie se letsels. Ek smeer ook gereeld sonskerm aan omdat die velle waar ons gebrand het, dun is.”

Nastassja Blignaut, ʼn familielid van die gesin, vertel Hiscock het na die ongeluk gesukkel om die trauma ten volle te verwerk, maar dit gaan nou al baie beter met haar gemoed.

“’n Hele ruk nog na die ongeluk, kon ons sien sy het nog nie die trauma verwerk nie. As sy by ons kom kuier het, en ons staan by ’n vuur, dan sou sy met ’n bang uitdrukking op haar gesig, na die vuur staar. Sy sou ook groot skrik as die vuur te groot brand of ’n stomp in die braaier omval,” vertel Blignaut.

Maroela Media het vroeër berig Hiscock en Miandrie het op Jeugdag saam met haar verloofde en familie op hul hoewe in Bainsvlei, omtrent 10 km buite Bloemfontein, deurgebring. Hulle het in ʼn drom vuurgemaak en almal het om die vuur gestaan om hulself warm te hou in die yskoue Vrystaatlug.

Op dié dag het Hiscock met klein Miandrie op haar heup na die drom, waarin ʼn vuur gemaak is om warm te bly, aangeloop gekom toe daar skielik iets in die drom ontplof het. Die vuur se vonke het in Hiscock en Miandrie se rigting geskiet en hulle het aan die brand geslaan.

Hiscock se verloofde het Miandrie gegryp en in water gedruk. Hiscock het op die grond begin rol om die vlamme geblus te kry. Haar skoonpa het haar brandende klere van haar lyf afgeruk.

Hiscock sê sy kan nie veel van die ongeluk onthou nie, maar die werklikheid het haar weer geslaan toe sy op die grond rol om die brandende vlamme te blus.

Blignaut het na die ongeluk saam met Hiscock se suster, Chané Pretorius, besluit het om ʼn geldinsamelingsveldtog vir Hiscock en Miandrie te begin. Met dié fonds het hulle genoeg geld vir wondbehandeling en al die ander mediese uitgawes ingesamel.

“Wildvreemdelinge van heinde en ver het hulle harte oopgemaak en geld geskenk. Dit is wonderlik om te sien hoe mense omgee,” vertel Blignaut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

LIEZL ·

Sjoe, dis absoluut ‘n wonderwerk. Julle lyk pragtig, is so dankbaar vir die herstel. Sterkte en seën vir julle

MrMagic ·

Wat ‘n tragedie om deur te gaan, is bly dat hulle so mooi herstel het.

Belinda ·

Ek is sooo dankbaar vir jul herstel en dit sal nog mooier raak met tyd. Ek kan net dink hoe seer dit was. Gee daai dapper poppie ‘n vet soen.

Chantz ·

Sjoe ek is bly dit gaan baie beter met julle. Die Here se genade is onsettend groot! Dankie Here

Tanya ·

Sjoe in net 3 maande, die wonde lyk so goed, beslis ‘n wonderwerk! Sterkte met die pad vorentoe julle!

Johan ·

Het dit ooit uitgekom wie, wat in die drom gegooi het wat die ontploffing veroorsaak het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.