Die polisie het ʼn 32-jarige man in Johannesburg in hegtenis geneem nadat verskeie vuurwapens en springstof in sy besit gevind is.
Kapt. Xoli Mbele, polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê die inhegtenisneming is Dinsdag in Johannesburg se middestad gemaak.
“Die polisie het ʼn wenk ontvang oor ʼn gewapende man wat met ongelisensieerde vuurwapens in ʼn silwer Audi A4 in die gebied rondry,” het Mbele gesê.
Die polisie het dadelik gereageer en die verdagte voertuig verlate op die hoek van Pritchard- en Nuggetstraat gevind.
“Polisiebeamptes het in die omgewing gewag tot die bestuurder van die voertuig daar opgedaag het, waarna hulle toegeslaan het.”
Die polisie het die voertuig deursoek en op springstof, vervalste nommerplate, geld wat met blou ink gevlek was en vier ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie beslag gelê. Die vuurwapens se reeksnommers is afgevyl.
Die verdagte is net daar in hegtenis geneem en moet binnekort in die Johannesburgse landdroshof verskyn op aanklagte van die onwettige besit van springstof, vuurwapens en ammunisie. Ballistiese toetse sal op die vuurwapens gedoen word om vas te stel of dit met enige misdrywe verbind kan word.