ʼn Man is Vrydagaand dood en een is ernstig beseer nadat sewe voertuie op die N1-snelweg in Johannesburg gebots het.
Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het naby die William Nicolrylaan-afrit in Fourways plaasgevind.
“Volgens ooggetuies het ʼn voertuig in die middel van die snelweg onklaar geraak en stilgestaan,” het Vermaak gesê. “Die bestuurder het glo buite die voertuig gestaan toe ʼn ander voertuig teen die bestuurder en sy voertuig gebots het, en ʼn kettingbotsing tot volg gehad.”
Die man se liggaam is naby een van die voertuie aangetref toe paramedici by die toneel opgedaag het. Hy is op die toneel dood verklaar. “Verskeie mense het geringe beserings opgedoen en het op die ongelukstoneel rondgestaan. Een persoon het ernstige beserings opgedoen en is met ʼn ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. Dit is nie in die stadium bekend in watter voertuig die persoon was nie.”
Verskeie bane van die snelweg was vir verkeer gesluit terwyl owerhede op die toneel besig was. Die Johannesburgse metropolisie ondersoek die ongeluk.