[Foto’s] Man sterf in N1-botsing

'n Foto van die toneel. Foto: Emer-G-Med

‘n Foto van die toneel. Foto: Emer-G-Med

ʼn Groot verkeersknoop weens ʼn botsing waarin ʼn man dood is naby die Buccleugh-wisselaar het motoriste, waarvan die meeste die N1-snelweg van Pretoria na Johannesburg weer aangedurf het ná hul Desember-vakansie, Maandag begroet.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die botsing het omstreeks 06:00 op die N1-Suid ná Allandaleweg naby die wisselaar plaasgevind.

“Volgens inligting van die toneel wil dit voorkom asof ʼn minibustaxi se wiel afgekom het. Dit is egter nog net bespiegeling en die presiese oorsaak word deur die polisie ondersoek,” het Botha gesê.

Emer-G-Med-ambulansdienste het gesê die taxi het eers ʼn ander voertuig van agter getref voordat dit verskeie kere begin rol en aan die kant van die snelweg op sy dak tot stilstand gekom het.

Volgens Emer-G-Med is sowat 16 mense in die ongeluk beseer. Een passasier, vermoedelik in sy 50’s, het kritieke beserings opgedoen. Een persoon is ernstig beseer en die res het geringe tot matige beserings opgedoen.

“Die meeste van die passasiers is buite die taxi se wrak aangetref. Hulle het self uitgeklim en mekaar uitgehelp. Paramedici van Netcare 911 het dadelik begin om noodhulp toe te pas op die man wat kritieke beserings opgedoen het. Ondanks hul pogings is hy op die toneel dood,” het Botha gesê.

Die beseerdes is na verskeie hospitale geneem vir verdere behandeling.

Die oorsaak van die ongeluk word deur die Johannesburgse metropolisie ondersoek.

Die ongeluk het erge vertragings op die N1-Suid veroorsaak met verkeer wat van voor die Ou Johannesburg-afrit opgedam het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lalla ·

Die oorsaak is spoed, en ‘n onpadwaardige voertuig. Dis al!!

Kobus ·

Soos dit nou aangaan sal voetslaan of treinry die uiteinde wees….daar gaan binnekort n tekort aan taxi’s wees …

pieter ·

Weer n Taxi niks snaaks daaraan. Dit is doodkiste op wiele in SA.

Jaco ·

Het die ongeluk gesien gebeur. Tien teen een net n onpadwaardige voertuig . Dit was die 3de ongeluk vanoggend waarvan die ander 2 in PTA middestad altwee ook met Taxi’s betrokke was , 2 blokke uit mekaar. Van die huis af vanoggend het ek gesien hoe Taxi’s 2 keer oor rooi ligte gery het en nog by myself gedink hoe kan hulle so vroeg id jaar al soos besetenes ry , is daar geen rus vir hulle siele nie ?

julius ·

Ek het eendag nuwe bande laat opsit. Terwyl ek my beurt afwag is hulle besig met ‘n taxi se agter skokbreukers. Ek sien toe dat die remme se vloeistof pypie ontkoppel is en met ‘n vicegrip toegeknyp is. Die anderkant het ook so gelyk.

t ·

Ek was in ‘n tydren waar oorl. Jan Hettema se diensspan hom gesê hat dat daar fout is met sy motor se remme. Sy antwoord was dat hy nou net vinniger deur die draaie gaan wees. Dis dalk dieselfde redenasie by die taxis; geen remme, vinniger by die eindbestemming.

Paplepel ·

As jy na die wrak kyk kan jy sien die agteras het uitgekom. Dis ‘n ou bekende faling omdat die taxis deur onopgeleide werktuigkundiges herstel word. Jy sien dit baie in Pretoria. Daar is ‘n baie presiese proses hoe so ‘n agterwiel laer vervang moet word en bitter min van die sypaadjie “mechanics” ken dit.

Chris Ws ·

Het self gesien waar ‘n taxi sy regter agter wiel voor my verloor-en op my dascam opgeneem ook.Gelukkig het ons net by ‘n robot weggetrek en die taxi se spoed was net 42km/h.Hy het gou tot stilstand gekom.Sy wiel en briekdrom is albei oor die middel eiland tussen die paaie en het twee aankomende voertuie rakelings gemis.Weer ‘n geval van onpadvaardigheid.
Die’ ongeluk meen nog 15 moontlike en een besliste derdeparty eis(dis vir die oorledene).Die bestuurder van die taxi kan nie eis nie-hy is skuldig aan die ongeluk.Verlede jaar was daar 188,000 derdeparty eise!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.