ʼn Man is Sondagoggend in Nelspruit in Mpumalanga in hegtenis geneem nadat hy glo een van sy medewerknemers by ʼn lodge in die Krugerwildtuin ontvoer en miljoene rande gesteel het.
Volgens die polisie het die verdagte glo ʼn rekenmeester van die Mlondlozi Lodge in Skukuza gedwing om ʼn PIN-kode aan hom te verskaf in ʼn poging om geld van sy werknemer, die eienaar van die lodge, te steel. Die rekenmeester het glo geweier waarna die verdagte, wat in die finansiesafdeling werk, hom ontvoer en in die bos vasgemaak het.
Hy het glo ʼn vuurwapen op die rekenmeester gerig en weer geëis dat hy die kode vir hom gee. Die rekenmeester het die PIN-kode vir hom gegee waarna hy ʼn oorbetaling van sy werkgewer se rekening na sy rekening gemaak het.
Volgens die polisie het die verdagte glo Sondagoggend sy werkgewer se voertuig gesteel. Hy is later in Nelspruit in hegtenis geneem. Daar is op die motor, R200 000 kontant en ander gesteelde items beslag gelê. Die rekenmeester is deur veldwagters in die veld gevind. Hy is ongedeerd.
Die verdagte het glo aan die polisie gesê hy het miljoene rande by sy werkgewer gesteel. Hy sal na verwagting Dinsdag in die Nelspruit-landdroshof verskyn.
Kan ‘mens se kop so uithaak op ‘n dag….
Eish. Hy wou seker die Paashaas wees?
Voer hom vir die leeus!!