[Foto’s] Maroela Media se Buitebioskoop bekoor groot Afrikaanse gehoor 

Maroela Media se eerste Buitelugbioskoop is Saterdag goed ontvang. Foto's: Phillip Bruwer

Maroela Media se eerste Buitelugbioskoop is Saterdag goed ontvang. Meer foto’s volg onderaan die berig. Foto’s: Phillip Bruwer

ʼn Toentertydse tradisie met ʼn moderne kinkel het gesinne, vriende en verliefdes Saterdag na die Pretoria Botaniese Tuin laat stroom vir Maroela Media se heel eerste Buitebioskoop. Die idee van fliek, musiek, piekniek en samesyn, amper soos die inry van ouds, was só gewild dat die 1 200 beskikbare kaartjies drie dae voor die geleentheid reeds uitverkoop was.

“Ons wou Maroela Media se aanlyngemeenskap en hul gesinne die geleentheid gee om bymekaar te kom en te kuier op ʼn veilige plek, en terselfdertyd die Afrikaanse filmbedryf en Afrikaans se 90ste herdenking as amptelike taal te vier,” het Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, Sondag gesê.

“Alles het seepglad verloop; elke rolspeler voor en agter die skerms was professioneel en het sy kant gebring. Ek is trots daarop om met hierdie vlak van professionaliteit in die Afrikaanse kunste- en vermaakwêreld geassosieer te word.”

Besoekers het van 14:00 in die heerlike lenteson begin uitspan voor die reusagtige silwerskerm op die grasperk van een van die gewildste parke in die Jakarandastad. Die skerm van 14 m wyd en 3 verdiepings hoog het die gevoel geskep dat ʼn mens in ʼn teater sit, maar met dieselfde nostalgie en atmosfeer van ʼn inryteater.

Gewapen met kampstoele, piekniekkombersies, heerlike versnaperings, lafenis vir die keel en ʼn lus vir lekker kuier het feesgangers die nege uur lange geleentheid aangepak.

ʼn Fliekresensiewerkswinkel, aangebied deur Leon van Nierop, is voor die flieks aan ʼn aantal gaste aangebied, terwyl Hennie Jacobs en Diaan Lawrenson tussendeur die gehoor vermaak het. Die gewilde groep Kaleidoskoop, asook MD Greyling en Rickus Nel het gesorg vir die musiek totdat dit begin skemer word het en tyd was vir die eerste fliek, Hollywood in my Huis.

Danie Bester is daarna aangewys as Maroela Media se eerste Bioskoop-boffin en Lombaard het aan hom ʼn Maroela-toekenning oorhandig nadat Van Nierop verduidelik het waarom Bester vir sy bydrae tot die Afrikaanse filmbedryf vereer word.

Bester se naam is welbekend in die Afrikaanse rolprentbedryf en hy het reeds nagenoeg 19 Afrikaanse rolprente vervaardig. Sommige van hierdie rolprente was van die grootste flieks in die plaaslike bedryf en het telkens ʼn nuwe standaard gestel soos BakgatWolwedans in die SkemerPad na jou hart en Ballade vir ʼn Enkeling. Lees hier meer oor wat Van Nierop oor hom te sê gehad het.

“Ek het regtig nie verwag om vanaand ʼn toekenning te wen nie,” het Bester verbaas gesê. “Ek het net gekom om fliek te kyk!”

Buiten sy titel as Bioskoop-boffin spog hy ook met ʼn pragbeeld van die beeldhouer Milandi Coetzer.

Daarna is feesgangers bederf met die heel eerste publieke vertoning van Die Pro, wat eintlik eers amptelik op 18 September bekend gestel word. Die fliek is met luide applous ontvang.

Die eindtitels van Katinka Heyns se immergewilde fliek, Die Wonderwerker, het omstreeks middernag gerol voor fliekgangers moeg maar tevrede hul piekniekmandjies opgepak het en slapende kinders en komberse kar toe gedra het.

Maroela Media se verslaggewers het deur die dag tussen die skare gaan kuier en te oordeel aan die vriendelike geselsies, smaaklike peuselhappies en ietsie vir die dors, was die meeste mense duidelik beïndruk met die geleentheid.

“Maroela het duidelik hier raakgevat met die konsep,” het die bekende vervaardiger Giep van Zyl Sondag aan Maroela Media gesê. “Die rustigheid van die gehoor – wat hoofsaaklik te make het met die goeie organisering en die regte teikenmark wat opgedaag het – het ook vir my goed afgeloop. Die Wonderwerker was my hoogtepunt, asook die basaargehalte pannekoek!”

Een van Maroela Media se afgetrede lesers, Martie la Grange, het Sondag laat weet: “Die geleentheid was fantasties! Dit bring herinneringe terug van vergange se dae toe ons nog jonk was en inry toe gegaan het. Die atmosfeer was lekker en ons het rondom ons net Afrikaans gehoor! Die flieks was asemrowend en dit was interessant om Leon van Nierop se geselsies met die rolspelers te kon meemaak.”

Sy het gesê al negatiewe ding wat sy te sê het, was dat hulle moes huis toe gaan. “Ons moes 20 minute in die kar wag voor ons eers in die stroom motors kon plek kry. Ons moes langer gekuier het,” skerts sy.

Lombaard het gesê die terugvoer wat sy gekry het, is dat dit mense trots gemaak het om met ʼn Afrikaanse gemeenskap te identifiseer. “Mense het dit geniet om in die buitelug te kuier op ʼn plek waar hulle en hul kinders veilig is. Dis vir ons by Maroela lekker om te kan sê hierdie is ons lesers, wat so lief is vir Afrikaans en mekaar se geselskap so geniet.”

Op die vraag of daar ʼn volgende Buitebioskoop gaan wees, sê Lombaard: “As omstandighede ons toelaat – verseker! Ons hoop dat hierdie ʼn jaarlikse instelling op ons lesers se kalenders kan word.”

Lombaard het al die rolspelers wat die geleentheid moontlik gemaak het, waaronder Pretoria FM wat die mediavennoot was, uit haar hart uit bedank.

“Ook elkeen van ons lesers wat kom kennis maak en saamkuier het – dis ‘n voorreg om julle te kon ontmoet!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Fanie ·

Dit was heerlik! Baie dankie aan almal by Maroela- als was piekfyn. Wonderlike gees onder die mense, veilig, Afrikaans, gesellig en met vermaak uit die boonste rakke.

Gerhardt ·

Wel gedaan Maroela! Trots Afrikaans! Lekker om my familie op die fotos te sien!

Didi ·

Fantasties vir julle, maar hier op Hartbeespoort fliek ons heerlik buitekant op die grootskerm oor n naweek op die stel van French Toast. Dan koop ons so teen 6 uur n drankie, ietsie om te eet, en soek jou stoel. Almal welkom.

jeannine ·

ag weet nog in die jare 50 en 60 toe ons gaan kyk na die inry bioskoop in welkom (vrystaat)
heerlik in die kar sit met pop corn ag ek droom weg is terug 10jaar oud

Francois van Zyl ·

Julle weet natuurlik dat ons Kapenaars ook hierdie geleentheid hier by ons ook wil hê. Ons het pragtige wynplase hier en ons is seker dat een van hulle MEER as bereid sal wees om so ‘n geleentheid te borg….. Maroela media, opskud! Begin nou al voelers uitsteek vir volgende jaar !!

Sarie ·

Maak dit by Hermanus Pitersfontein – ‘n wynplaas wat nie skaam is om Afrikaans op hulle etikette te gebruik nie. Naby Hermanus in die Overberg gelee

Marna Roos ·

Dit was werklik een van die lekkerste lente gebeurtenisse in ‘n baie lang tyd!
Die atmosfeer was ontspanne en gesellig. Die reëlings en klank was van hoë gehalte en die keuse van flieks wonderlik!
Baie dankie.
Dit was ‘n fees van ‘n buitebioskoop!

Lelani Theunissen ·

Baie dankie aan Maroela Media dit was regtig baie lekker. Ons hoop dit word n gereelde instelling. Ons sal beslis in die warm maande een keer n maand wil kom saam kuier en storie kyk. Die kaartjies was billik geprys en ek voorspel dat ons volgende keer sal moet spring as ons wil kaartjies he. Die van julle wat nie daar was nie kan regtig spyt wees.

Lilanie Greyling ·

Baie geluk Maroela met ‘n uitstaande produksie! Ons gesin en vriende het dit vreeslik baie geniet – trots op julle en trots om Afrikaans te wees!

Seookmanet ·

So jammer ons kon dit nie maak nie, hoop volgende keer, baie geluk Maroela, lekker om te sien iemand neem nog stappe om in Afrikaans te kuier……en snaaks ne, hoop die hele land sien dat by so Afrikaanse fees…geen mes steek en rowery nie, kyk net nou die dag in Natal…musiekfees op ‘n Sondag, en iemand weer vermoor. Mooi so Hou Afrikaans hoog en wees die voorbeeld wat ons nog altyd was!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.