Move One Million se wêreldwye massa-optog uit protes teen die Suid-Afrikaanse regering het die organiseerders se verwagtinge oortref toe burgers van 19 lande die afgelope Saterdag aan dié aksie deelgeneem het.
Die doel van dié veldtog was om lig op die Suid-Afrikaanse regering se korrupte politieke stelsel te werp. Deelnemers het ook van die geleentheid gebruik gemaak om hul stem dik te maak teen onder meer plaasmoorde, staatskaping en geslagsgeweld.
Jarette Petzer, stigter van die Move One Million-beweging, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê dit is in dié stadium onmoontlik om vas te stel presies hoeveel mense aan die optog deelgeneem het hoewel elke dorp en stad in Suid-Afrika etlike inwoners gehad het wat deelgeneem het.
Lande soos Portugal, Mexiko, Ciprus, Griekeland, Duitsland, Italië, België, Nederland, Noorweë, Switserland, die Verenigde Arabiese Emirate, die Verenigde State, Kanada, Nieu-Seeland, Australië, Uganda, Madagaskar, Ierland, Skotland en Engeland het óók in solidariteit met Suid-Afrika in hul onderskeie lande aan die massa-optog deelgeneem.
Volgens Petzer was dit hoofsaaklik Suid-Afrikaners in dié lande wat aan die optog deelgeneem het hoewel talle Mexikane in Mexiko hul stem dik gemaak het teen die Suid-Afrikaanse regering se tekortkominge.
“Ek dink baie mense is passievol oor Suid-Afrika, veral diegene wat Suid-Afrika al besoek het.”
Petzer, wat vandag presies ’n jaar gelede die #ImStaying-inisiatief op die been gebring het, vertel dat hy en die ander organiseerders maar 45 dae in aanloop tot Move One Million gehad het om dié veldtog te bemark.
“Dit was ’n wonderlike sukses en dit het sonder enige voorvalle verloop.”
Volgens Petzer kan Move One Million se sukses moontlik toegeskryf word aan die spesifieke tyd waarop die veldtog plaasgevind het. Hy het voorheen spesifiek verwys na die PPE-skandaal en korrupsie wat tydens die Covid-19-pandemie die kop uitgesteek het.
Petzer beplan om oor die volgende 20 maande voor die verkiesing nog nasionale veldtogte van stapel te stuur – veral teen korrupsie.
Besoek die Move One Million Facebook-blad hier vir meer inligting.
- Nederland (Foto: Move One Million/Facebook)
- Johannesburg (Foto: Move One Million/Facebook)
- Ierland. (Foto: Move One Million/Facebook)
- Portugal (Foto: Move One Million/Facebook)
- Skotland. (Foto: Move One Million/Facebook)
- Skotland. (Foto: Move One Million/Facebook)
- Table View, Kaapstad (Foto: Move One Million/Facebook)
- Londen, Engeland. (Foto: Move One Million/Facebook)
- Skotland. (Foto: Move One Million/Facebook)
- Londen, Engeland. (Foto: Move One Million/Facebook)
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
14 Kommentare
Nog n “knop-in-keel-goed-voel-storie”…. wonderlik en hoop dit sit druk op die ANC en druk van buiteland af op hulle en dit kan net beter gaan met ons. Ek wil dit so graag glo!!!
Dankie vir julle steun.
Awesome to see the world waking up. Sad that it had to take so much lifes and loved one’s to make this happen.
Ek kry skoon hoendervleis….wel gedaan !!
Ja Mnr die President. Nou sit jou turf. Jy wou mos vir die wêreld probeer mislei.. …
Nou wat nou? Nog leuens?