Die papegaai Max het skynbaar sonder moeite aan sy nuwe snawel gewoond geraak en kraak reeds neute oop dat dit klap.
“Dit is nou al ʼn rukkie sedert die operasie en dit wil voorkom of Max nou doodgemaklik is met sy titanium 3D‑gedrukte snawel,” het Hyacinth Haven Bird Sanctuary vandeesweek op Facebook geskryf.
Maroela Media het vroeër berig Max se boonste snawel is sowat vier jaar gelede tydens ʼn skermutseling met ʼn ander papegaai in die voëlskuiling afgeruk. ʼn Spesialisspan van die Universiteit van Pretoria, in samewerking met die Bloemfontein- Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) en ander betrokkenes, het in Oktober ʼn 3D-snawel vir Max gedruk en aangeheg.
Op foto’s wat geplaas is, kan gesien word hoe Max heel gemaklik sy snawel gebruik om neute oop te kraak en normaal eet. Hy byt selfs na sy versorger deur die hok.
ʼn Chirurgiese span onder leiding van prof. Gerhard Steenkamp, ʼn veeartsenykundige spesialis in tandheelkunde en kaakchirurgie aan die Fakulteit Veeartsenykunde by Onderstepoort, het die prostetiese snawel tydens ʼn chirurgiese proses by die Robberg-veeartskliniek in Plettenbergbaai aangeheg.
Die span by Hyacinth Haven Bird Sanctuary sal hom nog ʼn rukkie in ʼn kleiner hok hou om seker te maak hy het ten volle herstel, voor hulle hom in die groot voëlhok sal plaas wat spesiaal vir hom gebou is.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
4 Kommentare
Max Verstappen 9/10 Max duP 1/ 10 Max die papegaai 10/10. Wonderlike deurbraak…!
Baie bly vir Max, geniet jou nuwe snawel geveerde vriend.
Wát as dit on die natuur gebeur? Jimmel(!) ek hoop daar is snawelhegters doer buite ook!
Maar, die natuur is wónderlik.. want dit is deel van die skepping
Wonderlik! So bly hy kan nou weer ‘n normale lewe vorentoe he