Foto’s: Media-slang eintlik van Klein-Kariba

Die luislang en sy prooi. Foto: Cor Viljoen

Die luislang en sy prooi. Foto: Cor Viljoen

ʼn Veldgids van die Klein-Kariba-vakansieoord in Limpopo was Vrydag verbaas toe hy sy eie foto’s van ʼn luislang wat ʼn bokkie probeer vreet in die media sien, saam met beriggewing dat dit op ʼn spoglandgoed in die ooste van Pretoria plaasgevind het.

Cor Viljoen (38), wat al die afgelope drie jaar by die oord werk, het Vrydag aan Maroela Media gesê sy paaie het verlede Donderdagaand met dié veelbesproke slangwyfie sʼn gekruis.

“Veiligheidswagte het my omstreeks 23:15 gebel en gesê die slang is besig om ʼn bokkie naby die oord se tenthuise te vreet,” het Viljoen gesê.

Viljoen, wat self op die oord bly, is na die gebied en het tot sowat 02:00 by die slang gesit terwyl sy haar prooi probeer inkry het. Hy het in dié tydperk verskeie foto’s op sy selfoon geneem sonder om die luislang te steur.

“Sy was sowat 2,7 meter lank. Haar prooi was ʼn bosbokooi wat sowat twee weke oud was. Sy het die bok se kop ingesluk en toe sy by die ooi se skouers kom, het sy besef dit is te groot vir haar. Sy het dit uitgespoeg en is kort daarna die veld in.”

Viljoen het gesê die bok was reeds deur die slang doodgedruk toe hy daar opgedaag het. Veiligheidsbeamptes het die bokkie se karkas in die veld gaan gooi vir roofdiere om aan te vreet.

Viljoen, wat al die afgelope 17 jaar lank slange in die Bela Bela- en Nylstroom-omgewing vang, het gesê so ʼn verskynsel is nie ongewoon in die omgewing nie. Dit is egter dalk ongewoon vir Pretorianers wat in die Silver Lakes-landgoed woon soos wat berig is. Dit het intussen aan die lig gekom dat daar verlede Vrydagaand ʼn soortgelyke voorval by dié landgoed plaasgevind het en dat die luislang verwyder is. Daar is verkeerdelik aangeneem dat dié voorval met Viljoen se foto’s verband hou.

Hy het bygevoeg dat die luislang nie ʼn gevaar vir vakansiegangers inhou nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jessica ·

Nou praat die ou mos bog, tot en met die vakansie gangers in gevaar is of die slang een van die kinders beet kry. Ek kan nie glo hy laat die slang gaan nie, ek sal nooit weer daar vakansie hou nie.

MICHELLE ·

Agge nee regtig Jessica! Kom by in die lewe. Luislange is ‘n bedreigde spesie, nou wil jy die ding net doodmaak? Dit is dan ook maar ‘n goeie ding dat jy nie weer daar wil vakansie hou nie. Mense soos jy is nie welkom nie

Bog ·

Jessica, ek het op Klein Kariba gewoon vir 4 jaar en glo vir my Cor praat nie bog nie. ‘n Mens maak nie ‘n luislang dood nie. ‘n Luislang het een van my hoendertjies geeet en ek het hom ook maar net gelos aangesien dit maar deel van die natuur is. Daar was nog geen gevalle aangemeld waar ‘n luislang iemand se lewe bedreig het nie. As jy maar weet hoeveel luislange daar is sou jy seker nooit daar gaan vakansie hou het nie. Dankie Cor dat jy die slang laat gaan het.

Stuart ·

Bog, vertel haar. Mense oorreageer altyd. Verbrands die slang sal NIE jou kind insluk, die bokkie was dan te groot. Kom tog by man. Mense moet meer oor slange nalees dan sal hul weet hoe om wanneer op te tree. Doodmaak is NIE die antwoord nie.

Nerine Haddad ·

Cor Viljoen, jy maak seker ‘n grap. As daar sulke slange rondseil sit ek nie ‘n voet op daai terrein nie. Aikona

William Hugo ·

Dan gaan jy op baie vakansieoorde nie jou voete sit nie,Jy mag nie nluislang doodmaak in die eerste plek nie wantdit is n bedreigde spesie.As jy die slange nie pla nie sal hulle jou nie pla nie.Daar is genoegslanghanteerders wat geskakel kan word in elke provinsie indien so noord n probleem met slange kry.

Stuart ·

Nerine, dis reg so, bly dan weg, meer plek vir ons wat omgee oor die natuur.

Hannelie ·

Die enigste bog aan die storie is dat die luislang nie gesukkel het om die bok by die skouers verby in te sluk nie! Dit was omdat dit gesteur is, dat hy die bok uitgespoeg het en pad gegee het! ‘n Luislang van daardie grote kan ‘n redelike grote rooibok insluk! Ek het dit self beleef!

Karolis ·

Cor, ek ondersteun jou besluit om die slang te laat gaan maar daardie Bosbokooi is effens ouer as sowat twee weke.

DB ·

Pasop daar is n spinnekop onder jou venster bank. Jy moet trek. Dit is die wild ,as jy saam n blik DOOM slaap bly by jou town house. Los die buite lewe vir mense wat dit nog geniet. Jy maak geen dier dood as jy hom nie eet nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.