Meiringspoort, die bergpas op die N12 tussen Beaufort-Wes en Oudtshoorn in die Wes-Kaap, is teen Woensdagmiddag geleidelik vir verkeer oopgestel ná oorstromings ná ʼn groot wolkbreuk in die streek.
Dele van die pas was Dinsdag onder water en die pad is vir motoriste gesluit. ʼn Alternatiewe roete via Willowmore is aanbeveel.
Volgens Jandré Bakker, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, het hulle inligting ontvang oor ʼn bus en ligte passasiersvoertuie wat gisteraand in die pas gestrand was. Hulle kon nie hul reise voortsit nie omdat laagwaterbrûe oorspoel het.
“Hulle kon vanoggend egter verder ry nadat die water afgeloop het,” het Bakker gesê.
Opruimingswerk in die poort het Woensdag vroegoggend begin en was teen die middag nog aan die gang.
Die pas is ook gedeeltelik geopen – met stop-en-ry-beurte wat geld.
“Ons hou die situasie fyn dop.”
Bakker raai motoriste aan om steeds eerder die alternatiewe roete te gebruik weens die swaar stortreën wat vandag in die opvangsgebied voorspel word. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens is daar ʼn 60%-kans vir reën in die streek, wat teen môre afneem tot 30%.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
1 Kommentaar
Dis heerlik om die Klein-Karoo so nat te sien. Ek hoop dat die dorpie Rietbron ook reen gekry het, dit was tot onlangs toe nog baie droog daar.