Foto’s: Mej. SA se top-10 aangekondig

Die Mej. Suid-Afrika-kompetisie word weer vanjaar in Kaapstad aangebied.

Die top-10-finaliste vir vanjaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie is Dinsdag in Kaapstad aangewys.

Altesaam vier van die finaliste is afkomstig van Gauteng, drie van die Wes-Kaap, twee van die Oos-Kaap en een van KwaZulu-Natal.

Die finaliste is Bianca Bezuidenhout, Catherine Groenewald, Cheneil Hartzenberg, Jeanni Mulder, Kaylan Matthews, Kgothatso Dithebe, Lalela Mswane, Moratwe Masima, Tiffany Francis en Zimi Mabunzi.

Dié groep sluit ʼn mediese dokter, vlieënier, aanlyn bakkeryeienaar en regstudente in. Die top-drie sal uiteindelik die land verteenwoordig in die wêreld se mees gesogte skoonheidskompetisies: Mej. Heelal, Mej. Wêreld en Mej. Supranational.

Zimi Mabunzi van eQonce (King William’s Town) in die Oos-Kaap, het die meeste stemme van die publiek ontvang.

“Dit is ʼn ongelooflik sterk groep van inspirerende vroue. Ons sien uit daarna om te sien hoe hulle groei oor die volgende paar maande,” sê Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. SA-organisasie.

Liesl Laurie, Melinda Bam en Tamaryn Green is drie uit die vier beoordelaars wat vanjaar se top-30-deelnemers kies.

“Baie geluk aan die top-10-finaliste. Ons is trots op die vroue dat hulle dit reeds so ver in die kompetisie gemaak het. Ons vier hulle krag, doelwitte en visies vir wat hulle wil bereik en hoe hulle te werk wil gaan om die samelewing te verander.

“Ons is trots om met die Mej. SA-organisasie geassosieer te word en om weer die geleentheid regstreeks uit te saai,” sê Nomsa Philiso, direkteur van plaaslike vermaakkanale by M-Net.

Die beoordelaars van die top-10 is almal voormalige Mej. SA-titelhouers: Bokang Montjane-Tshabalala (2010), Liesl Laurie (2015), Melinda Bam (2011) en Tamaryn Green (2018).

Die top-10 lyk só (in alfabetiese volgorde):

Bianca Bezuidenhout (22) is van Strand, Kaapstad, afkomstig en het ʼn graad in bemarking en kommunikasie en is tans besig om haar honneursgraad in mediastudies te voltooi. Sy is ook ʼn dansinstrukteur en eienaar van haar eie swemdragmaatskappy, She Succeeds.

Catherine Groenewald (23) is van Constantia, Kaapstad, afkomstig en is tans besig om die finale jaar van haar studie in visuele kommunikasie te voltooi. Sy is ook ʼn barre-fiksheidsinstrukteur en voltydse model vir Topco Models. Sy het tydens die inperking ʼn aanlyn bakkery genaamd Delish Bakery op die been gebring.

Cheneil Hartzenberg (24) is van Meredale, Johannesburg, afkomstig en is ʼn kommersiële vlieënier en senior vluginstrukteur in ʼn bestuursposisie by ʼn vliegskool. Sy het ʼn digitale bemarkingskursus deur die Universiteit van Kaapstad voltooi en studeer tans vir ʼn lugvervoerlisensie.

Jeanni Mulder (24) is van Seepunt, Kaapstad, afkomstig en is ʼn voltydse model wat haarself beskryf as opreg en deernisvol met ʼn sterk wil en eg. Sy sê haar ma is haar rolmodel wat haar geleer het om hard te baklei, diep lief te hê en om nooit bang te wees om passievol te wees oor wat jou gelukkig maak nie. In haar vrye tyd hou sy daarvan om kunstig te wees, televisie te kyk of poker te speel.

Kaylan Matthews (25) is van Gqeberha (Port Elizabeth), Oos-Kaap, afkomstig en is tans besig om ʼn graad in menslike bewegingskunde aan die Nelson Mandela-universiteit te voltooi. Sy is passievol oor gesondheid en oefening en wil haar kwalifikasie gebruik om mense te motiveer om hulself te aanvaar en om verlief te raak op oefening en al die voordele daarvan.

Kgothatso Dithebe (26) is van Centurion, Gauteng, afkomstig. Sy studeer tans vir ʼn LLB-graad in regte en bestuur ook haar eie konstruksiemaatskappy wat goedere en dienste verskaf. In haar vrye tyd gaan sy graag gimnasium toe, speel netbal en is gek daaroor om nuwe resepte te probeer. Sy glo haar grootste mylpaal tot dusver was om vroeër vanjaar haar eerste eiendom te koop. Sy was in 2019 ook deel van Mej. SA se top-10.

Lalela Mswane (24) is van KwaSokhulu, Richardsbaai in KwaZulu-Natal, afkomstig. Sy is ʼn model en danser en het ʼn regsgraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy beskryf haarself as grasieus, taai en nougeset en sê sy sal graag die minister van arbeid en indiensneming, Thulas Nxesi, wil ontmoet om maniere te bespreek om die groeiende werkloosheidsyfers te takel.

Moratwe Masima (25) is van Atholl, Sandton in Gauteng, en is ʼn gekwalifiseerde mediese dokter wat tans in haar eerste jaar van internskap by die Charlotte Maxeke-hospitaal is. Sy wil haarself kwalifiseer as ʼn plastiese en rekonstruktiewe chirurg en wil graag ook die eerste minister van Nieu-Seeland, Jacinda Ardern, ontmoet, aangesien sy hou van hoe sy die wêreldwye pandemie hanteer het.

Tiffany Francis (22) van Mulbarton, Johannesburg, is die eienaar van Tiffany K Models en is ook ʼn professionele model en modeontwerpstudent. Haar rolmodelle is haar ma en oorlede tante, wat albei vir haar die waarde van veerkragtigheid en empatie geleer het. Haar ideale vakansie sou ʼn week in Italië, met Frank Sinatra-speellyste, strande en pizza, behels.

Zimi Mabunzi (26) van eQonce (King William’s Town) in die Oos-Kaap is ʼn voltydse regstudent aan die Nelson Mandela-universiteit. Sy het ʼn groot passie vir musiek en sal dit graag wil studeer en musiek van haar eie maak. In haar vrye tyd hou sy van oefen, sing en kook.

Mej. Suid-Afrika word aangebied deur Weil Entertainment in samewerking met M-Net, Mzansi Magic en Sun International. Die nuwe Mej. SA sal op 16 Oktober by die Grand West Arena in Kaapstad gekroon word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

isabelle ·

beslis n paar mooi gesigte…is dit net ek of is al die finaliste se lippe baie vol….mooi vrouens

Kathleen ·

die Mulder enetjie van Kaapstad is ongelooflik mooi en haar ma het haar mooi geleer .

Dirk Mostert ·

Die beoordelaars moet MANS wees (uitgesluit Biskop Tutu of die Glam Guru). Vroue-beoordelaars, veral vorige Mejj. S.A., mag bevooroordeeld wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.