[Foto’s] Menlyn-skietery: Drie vas

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Drie mans is in hegtenis geneem ná ʼn wilde jaagtog Maandag in die ooste van Pretoria en ʼn skietery by die Menlyn-winkelsentrum.

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die polisie, het gesê beamptes van die Garsfontein-polisie het omstreeks 12:15 ʼn verdagte silwer Audi A4 met drie insittendes naby die Woodlands Boulevard-winkelsentrum opgemerk.

Volgens Weilbach het die beamptes die motor agernagesit en in Atterbury-weg naby Menlyn vir die bestuurder aangedui om van die pad af te trek. “Een van die insittendes het ʼn vuurwapen op die beamptes gerig en hulle het daarop gereageer deur ʼn skoot op die verdagtes se motor af te vuur.”

Weilbach het gesê die verdagtes het hierna by die onderdakparkering by die Menlyn-winkelsentrum ingery voordat hulle te voet verder gevlug het. “Die polisie het al drie verdagtes met behulp van ʼn polisiehelikopter en ander patrollievoertuie vasgetrek.”

Weilbach het bevestig dat een van die rowers tydens die voorval gewond is. Hy is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem waar hy onder polisiebewaking is. Niemand anders is tydens die voorval beseer nie. Die polisie het op twee ongelisensieerde vuurwapens beslag gelê. “Die polisie het ook vasgestel dat die motor wat deur die verdagtes gebruik is, vroeër die maand in Wierdabrug gesteel is.”

Volgens Weilbach is die verdagtes, almal in hul 20’s, van Alexandra en sal hulle binnekort in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklag van die besit van ʼn gesteelde voertuig en die besit van ongelisensieerde vuurwapens. Die polisie ondersoek die saak.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het vroeër gesê paramedici is na die toneel ontbied waar hulle ʼn man in die parkeerarea van die winkelsentrum behandel het. Andrea de Wit, bemarkingsbestuurder van die sentrum, het aan Maroela Media gesê die winkelsentrum is oop en sake gaan normaal voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Inge ·

Ja, dit was nogals opwindend, dit het amper voor ons afgespeel. Ek wil net vir die polisie se wel gedaan, hulle het regtig baie goed en vinnig gereageer! Voor ons, ons oe uitgevee het, was dit verby. Well done!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.