Foto’s: Mis veroorsaak chaos op Witbank-snelweg

Foto: ER24

Foto: ER24

Verskeie ongelukke, wat vermoedelik deur swak sig weens digte mis veroorsaak is, het Maandag chaos op die N12/ N4-snelweg naby Witbank in Mpumalanga veroorsaak.

“Ons kan nog nie met sekerheid sê hoeveel voertuie in die verskillende botsings betrokke was nie, maar ons weet van ten minste drie botsings op verskillende plekke waarby verskeie voertuie betrokke was,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, aan Maroela Media gesê.

Meiring het gesê minstens twee mense is dood en verskeie mense is beseer. Hy het gesê paramedici van verskeie nooddienste is tans op die toneel van drie ongelukke. Ligte voertuie, minibustaxi’s en swaarvoertuie was in van dié botsings betrokke.

“Paramedici beskryf die situasie as chaoties en meer inligting sal deurgegee word sodra dit beskikbaar gemaak word,” het hy gesê.

Madelie Loubser, ʼn motoris wat een van die ongelukke sien gebeur het, het aan Maroela Media gesê dit was ʼn ervaring wat sy nog nie eens in ʼn fliek gesien het nie.

Loubser en haar man Albie, seun Luhan (21), en dogter Luné (20), is van Paarl in die Wes-Kaap. Die gesin het Sondagaand in Pretoria oornag en was Maandagoggend op pad na Pelgrimsrus vir vakansie.

“Die mis was baie erg. Ons het omstreeks 09:00 stadig in die linkerbaan gery en daar het karre met ʼn hoë spoed in die regterbaan verby ons gejaag,” het Loubser gesê. Sy het gesê oomblikke daarna het een van die botsings in die regterkantse baan voor hulle plaasgevind. Wat die oorsaak was, is egter nog onbekend.

“Ons was darem nie in die botsing betrokke nie. Die botsing wat ons gesien het, het sowat 1.5 km voor die Middelburg-tolplaza plaasgevind. Vyf voertuie waarvan ons bewus is, was betrokke. Ons is nie seker of iemand dood is nie, maar daar was baie ambulanse.”

Loubser het gesê hulle was vir sowat twee ure op die toneel gestrand voordat hulle verder kon ry. “Ons het op die toneel gehoor dat nog ongelukke plaasgevind het. Daar was na bewering meer as 65 voertuie in al die botsings betrokke. Ons is bietjie geskok, maar gaan nou verder aan met ons vakansie,” het sy gesê.

Die foto’s is deur Loubser aan Maroela Media verskaf.

N4 witbank ongeluk mis 1 N4 witbank ongeluk mis 2 N4 witbank ongeluk mis 3 N4 witbank ongeluk mis 4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

julius ·

Dit is beslis nie die mis wat die botsings veroorsaak het nie. Dit is mense wat nie bereid is om aan te pas by weersomstandighede nie, wat die botsings veroorsaak het. Alle ongelukke is botsings, maar bitter min botsings is ongelukke.

Rieks ·

Julius – jy het seker nog nooit daardie pad gery vroeg in die oggend nie? Ons was op pad Mosambiek toe en 3 uur die oggend was ons ook amper in ‘n hengse ongeluk betrokke. Die mis is so dig daar dat jy nie eers jou voertuig se neus kan sien nie – so dit is nie altyd die geval van jaag duiwels wat betrokke is in ongelukke nie.

julius ·

Ek het daai pad al honderde kere gery, van vroegoggend tot laat aand, winter en somer. En ek weet dat sodra mens die mis begin sien, is daar sotte wat steeds aanhou jaag asof hul lewens daarvan afhang. Dis hulle wat botsings veroorsaak, nie die mis nie.

Hansie ·

Julius, as jy in daai omgewing vir 20 of 30 jaar gewoon het, sal jy ‘n ander storie spin. Organisasies het hul werknemers aangesê om in sulke mis so ver moontlik van die pad af te trek tot dit oop is. Hulle het produksie verlies verkies bo al die sterftes wat daar was.

KarooKlong ·

Goeie antwoord, dit blyk die oplossing te wees.
Hoekom ry as jy nie kan sien waar jy ry nie?

henk ·

En waar is die provinsiale verkeersbeamptes? Iewers besig om geld in te samel vir KFC!!
Daar is GEEN “speedtraps” soos van ouds waar padvarke afgetrek word nie.
Slegs die onwettige geldmaak kamerastelsel waarmee die Mpumalanga verkeersafdeling mense beroof.
Die oomblik wanneer wetstoepassing behoorlik en sonder korrupsie toegepas gaan word, sal mense ophou jaag en ophou om ander onskuldige padverbruikers op die land se paaie te vermoor.
MAAR dit sal nie sommer gebeur nie, want dan moet die staatsdiens amptenare fisies werk!

Kobus ·

Ek ken die omgewing, en ja waar is die spietskops wat jou id met R200 daarin vra. Ek het daar grootgeword en laer in die laeveld ook, Graskop, Sabie Nelspruit ens. Longtompas was altyd die ergste

Marie Basson ·

Henk ek moet jou antwoord op jou vraag van waar was die verkeersbeampte , gister op die N4
het een voor ons uitgery met sy ligte aan en hy /sy het vir ons gewys waar om te ry , geen gejaag nie wel tussen 40 en 60km per uur het ons veilig aangekom in Witbank

Sandra Mosgrove ·

Dit is ‘n vieslike pad as daar mis is. Het daar groot geword. Stem saam met Rieks. Jy sien NIKS voor jou nie. Baie mense wil jaag en dan kry ‘n mens ongelukke soos die.
S

Andre ·

Ai mense hoekom vat julle vir Julius aan mense ry onverskillig bottom line.

Drieks ·

Ja André en Julius, ek het al die padvarke wat met spoed ons verby gery het in die mis, dood ‘n paar kilometers verder gekry in ongeluk en dit was regtig hul keuse om te glo hul “KAN”. So jammer vir hul families wat moet vra hoekom?

Francois ·

Nou…as die pad so onveilig is agv mis…hoekom sluit die “verkeersbeamptes” nie die pad tot die mis opgeklaar het nie, dis so maklik soos dit!

Piet Pompies ·

Dit is dieselfde pad wat ‘n klompie jare terug Tolla vd Merwe se lewe geneem het. Mis kom gou op en verdwyn net so gou, van die kommentaar oor die berig DRA nie veel water.

neelsie ·

Jammer!! Mense wat ons paaie gebruik leer nie.
Sal ons die dag beleef wanneer almal die verkeersreels nakom ?
Vergeet van die “spietkops”. Kyk na jouself.!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.