Foto’s: Moordverdagte terug in SA, dán in hof

Foto: SAPD

Gerhard Jansen van Vuuren het Vrydagmiddag in Suid-Afrika aangekom.

Lede van Interpol het Van Vuuren vergesel op die vlug van Brasilië na die Internasionale Lughawe OR Tambo in Johannesburg. Hy is hierna in ʼn vangwa gelaai en sal die naweek in aanhouding wees.

Brig. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, het bevestig dat Van Vuuren Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg sal verskyn.

Jansen van Vuuren het na bewering in Desember 2011 Andrea Venter (25) buite haar woonkompleks in Johannesburg doodgesteek. Hy het toe glo op die moordtoneel probeer selfmoord pleeg, maar dit het misluk en hy is in hegtenis geneem.

Hy het in die landdroshof in Randburg op aanklag van moord verskyn. Jansen van Vuuren is later in die Johannesburgse hooggeregshof borgtog toegestaan nadat die polisie twee keer sy aansoek om borgtog in die landdroshof teengestaan het.

Foto: SAPD

In Mei 2013, vier dae voordat sy moordverhoor sou begin het, het hy met vervalste reisdokumente uit die land gevlug.

Jansen van Vuuren is in Augustus 2013 deur Brasiliaanse owerhede in hegtenis geneem vir die vervalsing van dokumente. Hy is in 2015 vrygelaat nadat hy ʼn vonnis vir die misdaad uitgedien het.

Hy is in Junie vanjaar weer opgespoor en in hegtenis geneem. Hy is sedertdien in ʼn gevangenis in Rio de Janeiro aangehou.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die owerhede wat by die ondersoek betrokke was, geprys vir hul harde werk en deursettingsvermoë om die voortvlugtende ná al die jare vas te trek.

“Dit is ʼn oorwinning vir die polisie. Ons fokus is daarop gerig dat die oorledene se vriende en familie nou vrede kan kry en dat geregtigheid uiteindelik kan geskied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Sy vakansie word nou net verleng en nou moet ons daarvoor betaal. Daardie arme kind is dood en haar ouers moet vir altyd daarmee saamleef. Boonop word daardie wonde nou weer oopgekrap. Mag hy daar binne kry wat hom toekom. Sterkte aan haar ouers.

Dries ·

Ek onthou die saak soos gister. Mooiste meisie gewees. Aanvanklik was hy baie aangenaam en haar familie was baie beindruk met hom. Toe verander alles. Word besitlik en sy mag niemand sien nie. Nie eers gaan werk nie. Haar kollegas was vir hom ‘n bedreiging. Haar ma intussen oorlede maar ek baie bly haar pa kan hierdie dag beleef om hom agter Suid Afrikaanse tralies te sien. Uiteindelik. Nou begin die hofsaak eers. Hy het gevlug toe hy uit was op borg. Op ‘n stadium was daar geen hoop dat hy ooit sal boet vir sy dade nie. Baie jammer vir sy familie.

Trotse Boervrou ·

Ai, hartseer om te hoor haar ma is reeds oorlede.

LiveAndLetLive ·

Mense wat emosioneel onstabiel is, is gevaarlik. Hoop hierdie storie dien as voorbeeld vir mense wat te doen het hiermee. Sien die rooi ligte voor dit te laat is.

Oujongvrou ·

Hierdie stomme meisie het die rooi ligte betyds gesien, en toe vermoor hy haar. Haar arme ma het haarself doodgetreur.

Johan ·

Hoekom kon sy verhoor nie voort gegaan het in sy afwesigheid nie? Dan kon hy nou sommer dadelik begin het met sy tronkstraf.

Lynette ·

Narsissis/psigopaat by uitstek. Die eerste rooi lig vir enige persoon wat ‘n nuwe verhouding begin, is LOVEBOMBING. Die persoon bombardeer jou met liefdesbetuiginge, in oormaat. Jy sal tientalle whatsapps kry van hoe lief hy/sy jou het…dat jy die mees fantastiese persoon is wat nog ooit sy/haar pad gekruis het, ens ens ens. Dit gebeur ook baie gou…daar is nie n normale verloop van ‘leer mekaar eers ken’ nie. Die persoon is ook AANVANKLIK uiters ‘charming’ teenoor fsmilie en friende. Hy/sy sal ook jou belangstellinge MIRROR, wat beteken ‘toevallig hou hy/sy van alles wat JY van hou…as jy hou van musiek, sal HY/SY hou v musiek, as jy hou van kampeer, sal HY/SY hou van kampeer – al bg. faktore sal jou maak glo jy het jou SIELSGENOOT ontmoet…GROOT ROOI LIG!!!

Lize- Mari ·

Mag hy nou kry wat hy verdien. Andrea is in Mei 2011 al wreed vermoor en tot en met vandag het ons nog nie ‘closure’ daaroor nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.