Foto’s: Motorfietsryers bid vir TV-ster

Motorfietsryers bid voor die Unitas-hospitaal vir Theunis Nel. Foto's: Phillip Bruwer

Motorfietsryers bid voor die Unitas-hospitaal vir Theunis Nel. Foto’s: Phillip Bruwer

ʼn Groep motorfietsryers van Pretoria het Dinsdagaand buite die Unitas-hospitaal bymekaar gekom om vir Theunis Nel, akteur en aanbieder van die motorfietsprogram Woema op kykNET, te bid wat in die hospitaal behandel word na ʼn gru-motorfietsongeluk.

Nel is steeds in ʼn kritieke maar stabiele toestand in die hospitaal se intensiewesorgeenheid waar hy in ʼn geïnduseerde koma gehou word. “Sy dokter het Woensdagoggend aan ons gesê hy het ʼn goeie nag gehad,” het Anria van Heerden, mede-aanbieder van Woema en familiewoordvoerder, aan Maroela Media gesê.

Maroela Media het vroeër berig die ongeluk het Maandag omstreeks 10:15 op die N1-snelweg naby die Garsfontein-oprit plaasgevind.

Na wat verneem word, het Nel met sy BMW GS 1150 op die nat snelweg gery toe hy moontlik op ʼn oliekol gegly het. Toe hy op die pad land het hy, soos hy opgelei is, sy motorfiets weggeskop en in die middel van die snelweg bly lê. Twee motors kon daarin slaag om hom te vermy, maar ʼn bakkie, wat glo ook gegly het, het hom getref. Paramedici van Netcare 911 het hom in ʼn kritieke toestand sowat 100 meter van sy motorfiets se wrak aangetref.

Hy is na die Pretoria-Oos-hospitaal geneem en later na die Unitas-hospitaal in Centurion oorgeplaas. Sy regterarm moes noodgedwonge Dinsdag in die vroeë oggendure geamputeer word.

Nel se vrou, Mareli, het namens haar en hul twee seuns, Christoff en Anro, almal bedank wat hulle in die moeilike tyd bystaan. “Ons word oorval met soveel liefde en deernis, en dit is onbeskryflik hoe almal ʼn laer om ons as gesin getrek het,” het sy gesê. “Dit is die slegste situasie waarin ek myself nog bevind het, maar voel so veilig om te weet daar is soveel wat omgee.”

Coetzee Zietsman, Nel se vriend, het gesê Nel is een van die verantwoordelikste motorfietsryers wat hy ken en dat hy baie veiligheidsbewus is. “Sy familie is vir hom die belangrikste in die wêreld en hy is daarom gesteld daarop om verantwoordelik te ry,” het Zietsman gesê.

Henri du Toit, van die Proudly Meerkat-motorfietsgroep wat buite Unitas vir Nel gebid het, het gesê hulle sal aanhou bid saam Nel se vriende en familie. “Hy gaan daar uit stap in Jesus naam!,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Magda Saaiman ·

Die dame wat nou gevang en gestraf word vir haar dade dit is hoogtyd, Joost het genoeg gely. Ons is trots op hom, en sal bly bid.

Ek is so bly die partye stem saam oor een ding ,jy het n tyd om te kom en te gaan. Baai Mr. Zuma

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.