[Foto’s] Myn-ineenstorting: ‘Dit was ʼn fratsongeluk’

'n Lugfoto van die ineenstorting. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

‘n Lugfoto van die ineenstorting. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

Al 87 mynwerkers wat ondergronds gewerk het by die Lily-myn in Barberton, Mpumalanga, is veilig na die oppervlak gebring ná Vrydagoggend se ineenstorting.

Mike McChesney, uitvoerende hoof van Vantage Goldfields wat die myn besit, het gesê soek- en reddingspanne gaan intussen voort met die soektog na drie werknemers wat glo op die oppervlak was ten tyde van die ineenstorting.

McChesney het gesê daar sal later inligting verskaf word rakende al die myners se welstand. “Almal van Lily en Vantage Goldfields se gedagtes en gebede is met die drie vermiste werkers, hul families en die soek- en reddingspanne. Ons as bestuur fokus nou daarop om ons kollegas te vind. Die pogings van die reddingspanne en werknemers in die moeilike tyd word diep gewaardeer.”

Volgens McChesney word die departement van minerale hulpbronne op hoogte gehou van die voorval. “Alle bedrywighede by Lily is opgeskort in die lig van die tragedie en traumaberading word vir werknemers van die myn verskaf.”

Nooddienspersoneel op die toneel. Foto: Life Med-ambulansdienste

Nooddienspersoneel op die toneel. Foto: Life Med-ambulansdienste

Mike Beck, bedryfsdirekteur by die myn, het die voorval as ʼn “fratsongeluk” beskryf. Hy het gesê ʼn kroonpilaar het ineengestort. “Dit is die area waar sommige van ons geboue bo-op die mynarea staan. Dit raak nie die mense wat in die myn werk nie, maar blok die ingang. Ons kon mense nie deur die ingang uitkry nie en moes die ontsnappingsweg gebruik.”

Volgens Beck was die drie vermiste werkers moontlik in een van die geboue.

Hy het gesê die vasgekeerde mynwerkers moes sover as 1 km stap om via die ontsnaproetes uit die myn te kom. Beck het vroeër gesê die ineenstorting het in die “lampkamer” in die myn gebeur. Die lampkamer is glo mynwerkers se “laaste stop” voordat hulle verder ondergronds beweeg. Dit is hier waar hulle lampe en veiligheidspakke ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

DPJ ·

Al die skuld sal seker weer op die mynbase se skouers af kom. Maak nie saak wat se fraksongeluk dit was nie.

Die Gorilla ·

Wanneer mense nie weet wat is “risiko-analises” en ook nie vertroud is met die werksomgewing en veilige werkspraktyke word dit n “fratsongeluk” genoem

Sputnik ·

Vir dié wat so wys is, ken julle die uitdrukking: “Die beste stuurman staan aan wal”?

Gerhardt ·

Dit bly ‘n ongeluk, die hele lewe is vol risiko, so dit help nie om vingers te wys nie. Ek is baie bly die 87 is gered en ek is baie trots op RSA se mynreddingsspanne en prosedures want dis sekerlik die beste in die wereld. Hoop die ander 3 maak dit.

Magda ·

Ons gebede gaan uit na die 3 vermistes dat hul veilig sal gevind word. Sowel aan hul gesinne wat gespanne en bekommerd is, dink aan julle en alle sterkte!

Christo Pienaar ·

Ek wens mense moet ophou kleinlik en onnodig krities wees. Dit kon jou of my geliefdes gewees het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.