[Foto’s] ʼn Manier om jou naaste by te staan

Johan-Dippenaar-Huis

Die plakkershut waar Johan en sy gesin tans woon. Foto: Facebook

Met al die swaarkry in die wêreld voel ʼn mens soms dat alle hoop verlore is. Hoe kan ʼn mens help as daar soveel mense is wat ly? Jy begin by jou naaste, en in hierdie geval, jou buurman.

Moitlamo Madikgetla van Meyerton, Gauteng, het hande na sy buurman uitgereik toe hy sien dat die nood erg druk. Moitlamo se buurman, Johan Dippenaar (62), is ʼn pensionaris wat vir ongeveer nege jaar spaar om ʼn huis vir hom en sy gesin te bou.

Johan en sy vrou, Ina, en sy skoonsuster Susan bly tans in ʼn plakkershut op ʼn plot, ongeveer 11 km buite Meyerton. Dié drie is besig om die huis self te bou omdat arbeid net te duur is. “Ek bou maar elke dag ʼn bietjie totdat die lyf te seer is, dan los ek maar weer ʼn bietjie,” sê Johan oor die bou van sy huis.

Hy meen ook dat sy buurman, Moitlamo, gesien het dat hulle sukkel. “Hy het ook hier langs ons gebou, en toe op ʼn dag kom hy en sy vriend hier aangestap en hy sê: ‘Nee man, ons moet nou plan maak dat julle klaar kom’. Ek sê toe vir hom, ‘My vriend, by all means, as jy dít kan regkry sal ek net sê, dankie, prys die Here’.”

Moitlamo het ʼn plasing op sy Facebook-blad gesit en mense aangemoedig om die Dippenaar-gesin by te staan. Met dié plasing het verskeie mense gereageer onder andere Marieta Coetzer, ʼn eiendomsagent in Meyerton. Marieta het die Facebook-groep “Oom Johan housing project” gestig om ook hulp vir dié gesin te kry. Marieta sê sy wil graag help waar sy kan. “Die Here was goed vir my en ek is lief vir mense. Hulle sukkel regtig, en mense staan mekaar deesdae nie meer by nie.”

Saam het Marieta en Moitlamo ʼn klomp skenkings gekry en hulle doen wat hulle kan om te help, maar hulle meen die Dippenaars kort steeds hulp. Volgens Marieta gaan dit nie so goed met Johan se gesondheid nie. “Hy is tans op krukke, so die vrouens bou alleen.”

Besoek gerus die Facebook-blad om te kyk hoe jy kan help.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Elbie ·

Ek glo daar is goed in elkeen van ons, ongeag ras of agtergrond. Sterkte aan die familie.

Rina Pretorius ·

Baie dankie is al wat ek kan se, ek het lanklaas sulke goeie nuus gelees, die liewe Vader gebruik alle mense wat hulle beskikbaar stel in Sy hande om bruikbaar te wees. Moitlama sal nooit honger gaan slaap nie en Marieta Coetzer ook nie

Johannes Meintjes ·

Of ons daarvan hou of nie, die blanke en Afrikaner is hier tussen volke, tale, nasies en stamme. Hier in SA en verder gaan kultuurgroepe moet leer om saam te fokus en saam te werk vir gemeenskaplike belange. Daarmee hoef kulturele uniekhede en voorkeure nie prysgegee te word nie maar behoort dit ook nie belangrike sake te vertroebel nie, meen ek. Bravo aan hierdie welwillentheid van ‘n buurman.

Tascha ·

Pragtig! As almal net so bymekaar kan staan sal hierdie land beslis die reënboog nasie wees waarvan daar altyd gepraat word. Kyk bietjie verby die grense van velkleur en help alles hoef ook nie altyd net om geld te wentel nie.

Eliza-beth ·

Mooi so aan almal wat help. Lekker om te lees van sulke goed hierdie tyd van die jaar!

Tarina ·

Wens daar was meer sulke mense. God sal julle weer seen op n ander manier. Moet net nooooooooooit sy hand los nie, want Hy wat groot en goed is, sal jou hand altyd vashou.
Geseend is julle.

Eddie ·

Kom ons kyk waarom almal in hierdie land van ons voel soos ons voel. Daar is egter n klomp mense wit, swart, bruin, geel, pienk, pers wat saam mekaar wil en kan werk. Maar die doodsteek kom met die politieke partye wat wil baas speel oor almal. Om mense teen mekaar op te sweep dat daar al hierdie haat tussen almal is. Ek het baie te doen met swart mense en van alle kleur elke dag en hoe hulle kla oor hoe dinge vandag is. Hulle was verseker van n werk en geld en wat is besig om vandag te gebeur. Duisende mense sit sonder werk as gevolg van politieke inmenging. Ek haal my hoed af vir mense wat nog die extra moeite doen ongeag van kleur wat iemand anders bystaan. Well done.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.