Dit het ʼn span van 20 werkers met drie hyskrane die afgelope naweek slegs 20 uur geneem om ʼn splinternuwe voetgangerbrug in Erasmusrand in Pretoria op te rig.
Dié brug is Sondag deur die nag opgerig en toe spitsverkeer Maandagoggend hervat, het die nuwe struktuur in die son staan en blink.
Die brug is oor die N1 naby Hoërskool Waterkloof opgerig nadat die oorspronklike brug in Januarie 2015 erg deur ʼn vragmotor beskadig is. Dié brug is uiteindelik in Mei 2016 afgebreek weens veiligheidsbekommernisse.
Progress Hlahla, die noordelike streeksbestuurder vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), sê daar is besluit om ʼn nuwe brug op te rig in ʼn poging om padongelukke waarby voetgangers betrokke is te verminder.
ʼn Gedeelte van die N1 was van Sondag 18:00 tot Maandag 04:00 gesluit vir die oprigting.
Die nuwe brug is deur Gerard du Plessis van Superstructures (Pty) Ltd ontwerp en bestaan uit ʼn staalstruktuur gegiet in ʼn betondek. Alan Agaienz, Sanral se projekbestuurder: ontwerp en konstruksie, sê die brug is ontwerp volgens internasionale standaarde met voetgangers en fietsryers in gedagte.
Sanral het versoek dat die struktuur vooraf vervaardig word en dat dit sonder ʼn pilaar in die middel opgerig kan word. Die voorafgemaakte substruktuur is Sondagaand na die perseel vervoer en blitsvinnig deur die span opgerig.
Die betondek sal nou gegiet word waarna dit ongeveer ʼn maand sal neem voor die brug in gebruik geneem kan word.
Volgens Agaienz is die struktuur in twee dele opgerig en in die middel vasgesweis om die permanente struktuur te vorm.
“Die tydelike steunpilaar in die middel sal ná 28 dae verwyder word wanneer die betondek gereed is. Die brug sal ongeveer R22,3 miljoen kos en behoort dekades lank gebruik te kan word.”
Agaienz sê dié struktuur is uit vyf moontlike opsies gekies omdat dit die koste-effektiefste en mooiste ontwerp is.
Die koste van die sloping van die ou burg en die oprigting van die nuwe brug is deur Sanral se versekering gedek.
- Die struktuur is vooraf vervaardig en Sondagaand na die perseel vervoer om daar opgerig te word. (Foto: SANRAL)
- Drie hyskrane is gebruik om die voorafgemaakte struktuur op te rig. (Foto: Sanral)
- ‘n Hyskraan trek die eerste helfte van die brug regop. (Foto: Sanral)
- ‘n Hyskraan trek die eerste helfte van die brug regop. (Foto: Sanral)
- Die brug begin vorm aanneem. (Foto: Sanral)
- Die eerste helfte van die brug is regop. Werkers maak gereed om die tweede deel regop te bring. (Foto: Sanral)
- Die struktuur word vasgesweis. (Foto: Sanral)
- Die struktuur word vasgesweis. (Foto: Sanral)
- Die struktuur is in twee dele opgerig en in die middel vasgesweis om die permanente struktuur te vorm. (Foto: Sanral)
- Die span is verheug nadat die brug suksesvol opgerig is. (Foto: Sanral)
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
37 Kommentare
en gaan hy ook net 20 ure hou voor dit afbreek?
hoe veilig is die ding?
Wow, welgedaan! Die loopvlak was vinnig, maar ons praat eerder nie oor hoe lank die bou van die twee landhoofde gevat het nie… En dis met die 28 dae nabehandeling van beton in gedagte gehou.
Ai tog, altyd moet daar ‘n negatiewe uitspraak wees.
Aplous vir SANRAL. Uiteindelik 4 jaar later. Hoop net hy Hou.
My liewe ouers! Een goeie ding en wat ek dink ‘n wonderlike prestasie. Die mense daaraan verbonde is trots op hulself. So ook my respek. Wel gedaan! Aan die mense met hul negatiewe komentaar wil ek net se GAAN VLIEG! JUL HET GEEN RESPEK VIR ANDER WAT WEL ‘n VERSKIL MAAK NIE.