Foto’s: N2 in die Oos-Kaap gesluit ná ongeluk

‘n Bus en ‘n tenkwa het op die N2 in die rigting van Mthatha gebots (21 Maart 2022) (Foto: Buffalo City-munisipaliteit/Facebook)

Motoriste wat op die N2 in die Oos-Kaap reis, word aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak ná ʼn ongeluk Maandagoggend.

Die ongeluk het op die N2 net ná die Brakfonteinbrug in die rigting van Mthatha plaasgevind. ʼn Bus het teen ʼn tenkwa, wat diesel vervoer het, gebots en omgeslaan.

“Ons nooddienspersoneel is op die perseel om die slagoffers by te staan en die brand te blus,” het die Buffalo City-munisipaliteit in ʼn verklaring gesê.

Die tenkwa staan steeds in ligte laaie en die brandweer het reeds ʼn derde watertenkwa ontplooi.

“Dit is in hierdie stadium moeilik om die dodetal te bepaal, omdat daar nog persone in die bus vasgekeer is.”

Nooddienste kon reeds 19 passasiers uit die wrak bevry wat verskeie beserings, van matig tot ernstig, opgedoen het. Een van die persone wat uit die wrak bevry is, is in ʼn kritieke toestand.

Die N2 is in albei rigtings gesluit en verkeer word via die Lilifontein-plaaspad herlei.

“Alle pasiënte met ernstige beserings word na die Frere-hospitaal geneem. Pasiënte met geringe beserings word na die Cecilia Makiwane-hospitaal geneem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nie Verbaas ·

Sal daarvan hou om te weet hoe bevoeg die drywers is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.