[Foto’s] N4 eis nóg lewens

Die voertuie wat gebots het. Foto: Hartbeespoort-noodreddingseenheid

Die voertuie wat gebots het. Foto: Hartbeespoort-noodreddingseenheid

Drie mense is dood en vier is beseer nadat twee voertuie Donderdagmiddag op die N4-deurpad naby Brits in Noordwes reg van voor gebots het.

Loanne Louw, woordvoerder van die Hartbeespoort-noodreddingseenheid, het Vrydag aan Maroela Media gesê die ongeluk het op dieselfde gedeelte van die snelweg plaasgevind waar Carli (19) en Laurie (17) Huyser, twee sussies van Pretoria, op 1 Julie óók in ʼn trompop-botsing verongeluk het. Lees meer hier.

“Die spesifieke gedeelte van die pad, tussen die twee Brits-afritte, het nog enkelbane en daar is baie draaie,” het Louw gesê. Sy meen dié feit dra by tot die aantal trompop-botsings wat daar plaasvind.

Sy het gesê in Donderdag se botsing was daar vier mense wat kritiek beseer is en drie wat ernstige beserings opgedoen het. “Drie van die kritiek beseerde pasiënte is met helikopters van ER24 en Netcare 911 na hospitale geneem. Al drie het ongelukkig weens hul beserings beswyk.”

Louw het gesê die vierde kritiek beseerde pasiënt is met ʼn ambulans na ʼn hospitaal in Brits gehaas.

“Die drie mense met ernstige beserings is deur ʼn ander ambulansdiens behandel en na hospitale geneem,” het sy gesê.

Owerhede ondersoek die oorsaak van die ongeluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Landie ·

Daardie pad is net besig, besig, besig. En met enkelbane kan die NIE al die verkeer hanteer nie. En dan is swaar voertuie ook nog alewig ‘n probleem tussenin!!! Hoekom sit hulle nie spoedkameras op of van daardie sement-blokke in die middel nie. Dit sal verhoed dat mense op wit strepe verbygaan!!!!!

Johan 2 ·

Hoe gaan SPOEDKAMERAS keer dat mense op wit stepe verbygaan…mense moet net nie so slaap as hul ry nie. Ek ry gereeld links sodat iemand wat agter n vragmotor sit (wat van voor kom) kan verbygaan maar dan kry jy altyd daai aan die slaap outoppies wat nie kyk vir mense wat van voor af kom en wil verbysteek nie. Dis assof hul nog vashaak in die “goeie ou dae” wat daar genoeg paaie was en niemand haastig was nie.

Christine ·

Spoed, ongeduld en dit lyk my sperstrepe het geen betekenis hoegenaamd nie. Is ons disleksies? Vra ons nog in gebed voor ons ry Sy beskerming?

Johan 2 ·

Christine ek ken daai pad baie goed en die sperstreep veroorsaak net dat mense nie oplet nie “daar is mos n sperstreep”. Mens kan vêr sien daar en ALMAL gaan daar verby die vragmotors. Aankomende verkeer moet net wakker word hul oë oopmaak, sefone los en ordentlik ry…dan is daar plek vir almal en die verkeer sal beweeg.

lies ·

Daardie stukkie pad is lewensgevaarlik. Mense ry met n doodsveragtende spoed. Sement blokke kan nogal n oplossing wees.

Jan ·

Weerens onverantwoordelike bestuur. Iemand het verbygesteek waar dit net nie moontlik was nie. Al wat verkeerspolisie doen is om spoed kameras op te stel by die hordes, en alle ander padreels kan maar verontagsaam word. Ek het ‘n video waar verkeersmense ‘n spoedlokval beman waar ‘n soliede sperstreep tussen 2 bane vir amper 3km ver strek. En in daardie video gaan nie minder nie as 3 voertuie, waarvan 2 vol(dalk oorvol) taxis was, ‘n vragmotor verby oor die sperstreep, reg voor die verkeersmanne…………en nie een van die 3 koelteridders verroer ‘n vinger nie. Ek het gaan omdraai waar dit veilig was, en die verkeersmanne daaroor gaan konfronteer. Hulle het my almal soos skape aangekyk en uiteindelik het een gevra, “so what do you want us to do?………..nes apartheid die sweep is waarmee geslaan word vir alles wat verkeerd gaan, net so is spoed die oorsaak van alle ongelukke, en daarom word slegs spoed aktief gepolisieer. Wanneer gaan verkeers polisie besef spoed is meerendeels ‘n bydraende faktor tot ongelukke, en swak opgeleide voertuigbestuurders se onoordeelkundige besluite is die hoof oorsaak van ongelukke.

Peet Schabort ·

Ek het op Google Earth gaan kyk na die pad en stel voor dat die bane geskuif word sodat daar drie bane is deur die geel baan kleiner te maak. Sodoende is daar dan teen opdraendes twee bane. Die gevaar egter is wanneer ‘n vragmotor onklaar raak dat daar té min plek sal wees om af van die pad te kan stilhou. Op die ou end gaan dit egter oor GEDULD. Doen ‘n toets teen 100km/h en 120km/h tussen Brits en Pta. en kyk hoeveel tyd jy gaan verloor. Dit gaan weinig wees en sal jou dan ook tyd gee om langs die outoppie te ry en hom vingertaal te leer.
Dit is nou maar ten enemale so dat mense nie ‘n klein bietjie van sy kosbare pad gaan opoffer om ‘n voertuig van voor kans te gee om by ‘n vragmotor verby te kom. Ek sit gewoonlik my rigtingwyser aan (geen voertuig op my hakke) om die aankomende verkeer te laat weet ek gaan op die kant van die pad bly. Daar is bestuurders wat dan dankie sê met ‘n handgebaar maar ook die skobbejakke wat reken dis jou plig.
Daar moet ook onthou word dat stukke boute ens. gewoonlik ook op die kant lê en jy is die een wat dan ‘n band gaan verloor of deur ‘n slaggat gaan ry. Die aap van agter gaan jou definitief nie ‘n kans gee om terug te kom na die werklike ryvlak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.