Foto’s: Netcare-slagoffers met kruise, bome herdenk

(Foto: Verskaf)

Die vyf mense wat verlede week in ʼn helikopterongeluk in die Bergville-omgewing in KwaZulu-Natal gesterf het, “was op ʼn genadesending om God se heilige werk te doen en lewens te red”.

Só het Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, Woensdag tydens ʼn privaat seremonie op die ongelukstoneel in ʼn veld naby Winterton gesê.

Familie en kollegas van dr. Kgopotso Rudolph Mononyane, ʼn narkotiseur, dr. Curnick Siyabonga (Sia) Mahlangu, ʼn kardiotorakale chirurg, Mpho Xaba, ʼn spesialisteaterverpleegster, Sinjin Joshua Farrance, ʼn gevorderde lewensondersteuningsparamedikus, en die vlieënier, Mark Stoxwreiter, het Woensdag in ʼn konvooi vanuit Johannesburg na die ongelukstoneel gery waar vyf wit kruise en vyf inheemse bome ter ere van hul geliefdes geplant is.

“Op hierdie heilige grond is hul heldhaftige en merkwaardige lewe kortgeknip en bly daar ʼn gapende leemte,” het Friedland gesê.

“Hierdie vyf onbaatsugtige en buitengewone mense was op ʼn genadesending om God se heilige werk te doen en lewens te red. Dit was hul roeping en doel. Daar is geen groter daad van die mensdom as om jou lewe te verloor deur die lewe van ʼn ander te red nie. Ons weet dat God goeie mense gebruik om groot dinge te doen en ons hoef nie verder te kyk as hierdie jong, talentvolle, buitengewone mense wat verpersoonlik wat dit beteken om ʼn held te wees nie.”

ʼn Waterbessieboom, blompeerboom, olienhoutboom, pambatieboom en witpeerboom is op die toneel geplant as lewende gedenkteken om die vyf “uiteenlopende en geliefde individue” voor te stel, het David Stanton, hoof van die afdeling klinies en opvoedkunde by Netcare 911, op die toneel verduidelik.

“Hulle sal elke seisoen aanhou groei en blom om hul herinneringe en lewe te herdenk. Bome gee lewe in baie vorme, soos voedsel, skuiling, suurstof en medisyne, en word in baie kulture as geestelik belangrik beskou en dikwels vereer.

“Hierdie belangrike bome sal hier groei en floreer en skaduwee en kos gee vir almal wat dit besoek. Hierdie bome wat hier geplant word, is ware lewende dinge en dien as groeiende gedenkteken vir die lewe van ons vyf dapper helde,” het Stanton gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Wat ‘n pragtige gebaar!!!Bly maar baie tragies. GOD met hul families

Pieter

Goeie ingewing om bome te plant vir die 5 se nagedagtenis. Onthou net om die bome gereeld water te gee, hul wortels moet ontwikkel en hulle staan in die oopte. Oppas dat beeste nie in die kamp kom nie. Anders is daar môre niks oor nie. Praat uit ondervinding.